Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Naas sien uit na Noord-Suid-stryd

Naas Botha, voormalige losskakel van die Blou Bulle en Springbokke, meen wedstryde waarin saamgestelde spanne uit die noordelike en suidelike provinsies moontlik later vanjaar kan slaags wees, sal van waarde vir Suid-Afrikaanse rugby wees.

Naas Botha, moontlik die invloedrykste speler in Suid-Afrikaanse rugby se geskiedenis voor die aanvang van die beroepsera, is ten gunste van feeswedstryde tussen Suid-Afrika se Noordelike en Suidelike provinsies. Foto: Argief

Botha (62) het in Suid-Afrika se isolasiejare in ’n paar van die destydse Noord-Suid-wedstryde gespeel, insluitend die een in 1988 op Nuweland, toe spelers die borg se naam toegeplak het uit protes dat hulle nie betaal word nie.

Rapport het Sondag berig dat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie moontlike State of Origin-wedstryde beplan, waar spelers dalk gekies kan word op grond van hul provinsies of waar hulle skoolgegaan het.

Botha meen egter ’n eenvoudiger idee sal wees om spelers volgens hul huidige provinsies in ’n Noord- en Suid-span in te deel, met Vrystaat wat deel van die Noorde sal vorm.

“Ek dink ’n Noord-Suid-wedstryd kan ’n lekker bydrae lewer, gegewe wat almal moes deurmaak. Ek dink nie daar’s spelers wat voel dat hulle oorspeel is nie. Elke ou sal die nuwe Springbok-afrigter wil beïndruk,” sê Botha.

Duane Vermeulen, hier teen die Haaie in aksie in verlede jaar se Superrugby-reeks, sal Netwerk24 se keuse as kaptein van die Noord-span wees indien ’n wedstryd teen ’n span van die Suide ’n werklikheid sou word. Foto: Gallo Images

“Alles in ag genome, dink ek nie dis ’n slegte idee nie. Die ouens het sulke wedstryde destyds nogal ernstig opgeneem.”

Of sulke wedstryde gespeel word, sal waarskynlik afhang van wat regulasies rondom die Covid-19-pandemie die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) toelaat om te doen.

Oorspronklik is gedink dat daar aan die einde van vandeesmaand of vroeg in Augustus weer gespeel sou word, maar daar word nou glo gehoop dat die Curriebeker-reeks op 29 Augustus kan afskop. Dit bly ook onduidelik of die Bokke in November Europa toe sal kan toer.

Om oor die Desember-vakansie plaaslik onder mekaar te speel, as die omstandighede dit toelaat, kan straks ’n goeie plan wees.

Botha meen ’n State of Origin-konsep kan oorgekompliseerd raak.

“In ’n State of Origin kan ’n speler met byvoorbeeld ’n groot aanhang in die Vrystaat hom skielik in die Suid-span bevind. Hou dit eenvoudig. Besluit watter spanne waar ingedeel word en maak dit Noord-Suid,” sê hy.

“Ek dink Noord-Suid sal makliker wees. In die ou dae het 90% van spelers nie van provinsie verander nie. Deesdae skuif spelers vinnig en raak dit amper soos Amerikaanse sport. Dis egter die nuwe bedeling, wat almal móét aanvaar en is wat beroepsport bied.”

Damian Willemse, wat losskakel vir die Stormers speel, sal Netwerk24 se keuse op binnesenter vir die Suid-span wees. Foto: Gallo Images

Botha meen ’n Noord-Suid-wedstryd bied SA rugby die kans op ’n “skouspel van die 46 beste spelers in Suid-Afrika”.

“Jy kies nie ’n span om provinsies gelukkig te hou nie. Jy kies die beste speler,” sê hy.

Botha onthou dat die Vrystaat destyds om die beurt vir die Noord- en Suid-spanne oorweeg is, maar tans sal die beste wees om hulle by die Noord-span in te deel.

• Netwerk24 het interessantheidshalwe twee spanne gekies wat potensieel in so 'n wedstryd kan speel indien dit 'n werklikheid sou word. Spelers wat hulle heeltyds tot oorsese klubspanne verbind het, is nie oorweeg nie. Dié wat terugkeer Suid-Afrika toe, wel.

Die Noorde se voederspanne sal oorwegend die Bulle, Leeus en Vrystaat wees, terwyl die Suide sal kies uit die Haaie, Stormers en Kings. 

Wat die Suide se span betref, is daar ’n leemte op binnesenter, omdat die Haaie se eerste keuse in daardie posisie, André Esterhuizen, op pad oorsee is. Netwerk24 se keurders het daarom besluit om vir Damian Willemse die Suid-span se nr. 12-trui te gee.

Netwerk24 se spanne:

Suid: 15. Aphelele Fassi, 14. Sbu Nkosi, 13. Lukhanyo Am, 12. Damian Willemse, 11. Makazole Mapimpi, 10. Curwin Bosch, 9. Herschel Jantjies, 8. Sikhumbuzo Notshe, 7. Pieter-Steph du Toit, 6. Siya Kolisi (k), 5. JD Schickerling, 4. Ruben van Heerden, 3. Frans Malherbe, 2. Bongi Mbonambi, 1. Steven Kitshoff.

Afrigter: Sean Everitt (Haaie).

Spanbestuurder: Chippie Solomon.

Noord: 15. Gio Aplon, 14. Rosko Specman, 13. Wandisile Simelane, 12. Frans Steyn, 11. Courtnall Skosan, 10. Elton Jantjies, 9. Ruan Pienaar, 8. Duane Vermeulen (k), 7. Arno Botha, 6. Marco van Staden, 5. Marvin Orie, 4. Jason Jenkins, 3. Trevor Nyakane, 2. Jaco Visagie, 1. Lizo Gqoboka.

Afrigter: Jake White (Bulle).

Spanbestuurder: Wynie Strydom.

Skeidsregter: Jaco Peyper.

Assistent-skeidsregters: Marius van der Westhuizen en Rasta Rasivhenge.

TV-skeidsregter: Shaun Veldsman.

Keurkomitee: Stephen Nell (sameroeper), Cobus Claassen, Tinus van Staden, Michael Green, Marnus Kok, Owen Kock, Christo Buchner.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.