Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Noorde loof Bokke as aan-spraakmaker
Die openingswedstryd in Groep B tussen die Bokke en All Blacks gaan ’n groot invloed op die res van die WB-toernooi hê. Foto: Getty Images

Die All Blacks is hul “vreesfaktor kwyt” in die oë van die Springbokke en dit is wat Suid-Afrika se kanse verbeter om die Wêreldbeker (WB)-bytoernooi te wen, glo ’n groepie rugbykenners in die Noordelike Halfrond.

Drie uit die vier lede van ’n Sunday Times-paneel by ’n WB-funksie in Londen dink die Bokke gaan die Webb Ellis-trofee volgende maand in Japan verower.

“Nieu-Seeland bly die gunsteling, maar in die rugbygemeenskap trek die tweemalige kampioen die aandag. Hulle het geskiedenis,” sê Stuart Barnes, voormalige Engelse toetslosskakel en deesdae kommentator.

Hy verwys na die Bokke se titels in 1995 en 2007, maar sê die Suid-Afrikaners se onlangse geskiedenis teen Nieu-Seeland is nou relevant.

“Die Bokke het die pad byster geraak onder (voormalige afrigter) Pieter de Villiers, maar is weer ’n krag danksy Rassie Erasmus. Hy het hulle gelei na ’n 36-34-oorwinning in Wellington waarna hulle in die herontmoeting in Pretoria met slegs twee punte verloor het, voordat hulle weer vanjaar in Wellington ’n gelykop uitslag behaal het,” sê Barnes.

Die gerespekteerde Engelse rugbykenner Stuart Barnes. Foto: Getty Images

“Nie ’n enkele punt skei die spanne in hul afgelope drie kragmetings nie. Die All Blacks se vreesfaktor is uit die prentjie verwyder. Dit wil sowaar voorkom of die voorheen kaleidoskopiese Kiwi-agterlyn homself moes omvorm weens die Suid-Afrikaners se vernietigende verdedigingslinie.”

Barnes glo verdediging is die sleutel tot WB-sukses, iets wat die Bokke in 1995 en 2007 bewys het. Hy loof ook Siya Kolisi-hulle se opskietverdediging.

“Hulle taktiek op verdediging is daar bo saam met die beste,” sê hy.

“Hulle het Beauden Barrett daarmee oorrompel en die All Blacks gedwing om posisionele skuiwe te maak deur hom na heelagter te skuif en Richie Mo’unga op losskakel te begin.”

Lawrence Dallaglio, voormalige Engelse kaptein en WB-wenner in 2003, sê die openingswedstryd in Groep B tussen die Bokke en All Blacks gaan ’n groot invloed op die res van die toernooi hê.

“Daar bestaan ’n ruk al voorspelbaarheid in internasionale rugby, veral met Nieu-Seeland se krag in die Suidelike Halfrond, maar hierdie keer is dit nie heeltemal dieselfde nie,” sê Dallaglio.

“Dit is opwindend, dit is wyd oop. As jy verlede jaar teen 12/1 geld op die Bokke verwed het, sou jy nou nogal tevrede wees, want hulle lyk soos ’n span met momentum met Rassie Erasmus as afrigter. Wie weet? Deur Nieu-Seeland in die eerste wedstryd te pak en te seëvier, kan hulle die toernooi wyd oop blaas.”

Die voormalige Engelse kaptein Lawrence Dallaglio. Foto: Getty Images

Hy sê egter Nieu-Seeland is steeds ’n span om mee rekening te hou.

“Kom ons stel dit duidelik, Nieu-Seeland is die span om te klop as hulle hul spelers in die regte posisies kies. Dit gaan baie verg om hulle te klop.”

Die legendariese Ierse senter Brian O’Driscoll sê sy landgenote het ’n beter kans om die eindstryd te haal indien hulle die All Blacks, eerder as die Bokke, in die kwarteindronde pak.

Ierland bevind hom in Groep A en sal met een van die twee suidelike kragte, Nieu-Seeland of Suid-Afrika, moet afreken vir ’n plek in die halfeindronde.

“Suid-Afrika se kragspel is uitstekend en ek sou senuweeagtig wees oor hoe Ierland teen die Bokke sou vaar, want Engeland het met sy kragspel die afgelope sewe of agt maande gewys hoe om ons te klop,” sê hy.

“Dit is bevredigend om die Bokke terug te sien as ’n sterk mededinger.”

– Sportredaksie

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  All Blacks  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.