Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Onder Vier Oë
Notshe: ‘Ek gedy buite Fleck se boksie’

Robbie Fleck se voorskriftelikheid het hom laat voel hy’s in ’n boks gedruk om te speel soos sy breier by die Stormers vereis.

Dít, sê die Springbok en voormalige Stormers-losvoorspeler Sikhumbuzo Notshe het hom genoop om elders groter vryheid te vind sodat hy weer sy natuurlike spel kon speel.

Min het hy kon dink dat hy uit die Kaap, sy “gemaksone”, sou moes trek om die grensdrade af te breek wat Fleck gestel het.

Nou, in die kleure van die Haaie, het hy nuwe asem in sy rugbyloopbaan geblaas. Die vryheid wat hy in Durban gekry het om sy natuurlike spel te speel, stel hom in staat om te wys hoe hy teenstanders aan flarde kan hardloop. Skielik is Notshe weer terug op die Springbok-radar.

Sikhumbuzo Notshe
Die Haaie se Bok-agtsteman, Sikhumbuzo Notshe. Foto: Gallo Images
Dis nie ’n staatsgeheim dat ek en Fleckie nie langs dieselfde vuur gesit het nie. Nie op of van die veld af nie.

“Die boodskap van bo (die Springbok-afrigter) was eenvoudig; jy moet meer speel en nie net speel nie, jy moet dus uit jou vel speel om weer in die prentjie te kom,” het Notshe (27) vandeesweek aan Rapport gesê.

“Ek sou dit nie in die Kaap kon doen nie. Ek het destyds nie ingepas by die spelpatroon van Robbie Fleck nie.”

Vir ’n tyd lank was dié boorling van King William’s Town op moedverloor se vlakte. Sy lot was om meestal die plaasvervangersbank op sy geliefde Nuweland warm te hou, of selfs nie eens Fleck se 23-tal te haal nie.

Dít ondanks dat hy darem ’n senior speler en ’n Bok was.

“Dis nie ’n staatsgeheim dat ek en Fleckie nie langs dieselfde vuur gesit het nie. Nie op of van die veld af nie.

“Ek het nie ingepas met hoe hy wou speel nie. En dis wat ek eienaardig vind.

“Toe Fleckie die Stormers-hulpafrigter was, het hy ons altyd aangeraai om met vryheid te speel en nie ingeperk te voel nie.

“Maar toe hy as die hoofafrigter aangestel is, het dinge heeltemal verander oor wat hy vereis het en hoe hy afgerig het.”

Fleck se nuwe benadering het Notshe uiteindelik sy plek in die span gekos.

Hy moes skielik ’n speelstyl volg waaraan hy glad nie gewoond was nie, een wat sy natuurlik talent as ’n skakel-speler onderdruk het.

Hy moes sy ratsheid as aanvallende agtsteman prysgee ter wille van meer kontak.

Ek geniet die vryheid wat my gegun word. Nie dat ek kan doen net wat ek wil nie, maar ek kan myself uitdruk. Om myself uit te kan druk op die veld, is waarskynlik waarna ek gehunker het by die Stormers.

“Ek is deeglik daarvan bewus dat elke afrigter ’n sekere manier van speel van sy spelers vereis en daar is geen verwyte van my kant af nie. Ek het net nie daarby ingepas nie en uiteindelik het my spel daaronder gely.

“Hier in Durban pas Sean Everitt (Haaie-afrigter) en sy afrigters se manier van doen my spel soos ’n handskoen. Ek geniet die vryheid wat my gegun word. Nie dat ek kan doen net wat ek wil nie, maar ek kan myself uitdruk. Om myself uit te kan druk op die veld, is waarskynlik waarna ek gehunker het by die Stormers.”

Notshe het wyd en syd raad gevra en hoewel die besluit om te verhuis moeilik was, was dit die regte een.

Hy het immers nog die droom om Springbok-rugby te speel en daarvoor moes hy ’n heenkome vind waar hy die eerstekeuse-agsteman sou wees.

Notshe erken hy kon maklik in die Kaap aanbly toe John Dobson as die Stormers se nuwe afrigter, aangestel is. Dit was juis Dobson wat hom sy eerste proesel senior rugby vir die Westelike Provinsie gegee het.

“Ek moes egter my gemaksone verlaat.” Want, sê hy, dis nie ’n plek waar daar groei sou kon plaasvind nie.

Die lewenslyn vanuit Durban was soos vars lug en sy loopbaan het, tot voor die koronavirus die sportwêreld omgedop het, weer ’n opwaartse trajek ingeslaan. Hy was weekliks op talle rugbykykers en kommentators se lippe.

“Ek het net iemand nodig gehad wat daardie vertroue in my sou plaas sodat ek kon wys wat in my steek. Dit gaan net oor daardie geleentheid om jou te bewys en dis wat ek hier by die Haaie gekry het.”

Ek moes net meer speeltyd iewers kry. Dis wat Rassie (Erasmus, SA Rugby se direkteur van rugby) aan my gesê het. As ek weer in die Bok-prentjie wou kom, sal ek meer moet speel.

In sy laaste paar wedstryde in die Haaie-trui, voor die Super-reeks deur die Covid-19-pandemie tot stilstand gebring is, het hy al wat ’n voorspeler in Suid-Afrika is ore aangesit met statistieke soos meters veld gewen en duikslae uitgevoer.

“Ek moes net meer speeltyd iewers kry. Dis wat Rassie (Erasmus, SA Rugby se direkteur van rugby) aan my gesê het. As ek weer in die Bok-prentjie wou kom, sal ek meer moet speel.

“Hy het nie bedoel van die plaasvervangersbank af nie, maar om in meer wedstryde in die beginspan te wees en om bestendig goed te speel.

“Die vlam om op die hoogste vlak te speel, brand steeds so sterk soos daardie dag wat ek my Springbok-debuut in 2018 gemaak het. Ek het destyds daardie proesel gekry en gedink, ‘sjoe’.

“Ek het nog net ses toetse agter die blad, met die beserings van verlede jaar wat my kanse gekos het.”

Notshe sê hy is geensins weg uit die Kaap met kwade gevoelens nie en is vol lof vir die WP en die afrigters wat hom as speler tot sy reg laat kom en in hom belê het.

“Moet my nie verkeerd verstaan nie. Die WP het ’n massiewe rol in my ontwikkeling gespeel. Dobson en Dawie Snyman jnr. het my as ’n jongeling, toe ek vars uit die skoolbanke was, gebel en gesê hulle wil my by hul groep betrek vir die Vodacombeker.

“Vir my was dit ’n goeie aanduiding van mense wat my wou help om my rugbyloopbaan in die regte rigting te laat gaan.”

Dit was in die destydse WP-span waar Notshe besef het hy’s g’n die kat se snor wat hy geglo het hy is nie.

Moet my nie verkeerd verstaan nie. Die WP het ’n massiewe rol in my ontwikkeling gespeel.

Hy het in 2013 hard kennis gemaak met senior rugby in ’n Vodacombeker-stryd tussen die Boland-Kavaliers en WP op Ceres.

“Dié wedstryd onthou ek nog soos gister. Dis seker hoekom ek nie so baie van die dorp hou nie. Dit was boonop ook skroeiend warm.

“Ek is behoorlik gedoop in my eerste senior wedstryd. Die Boland-ouens het oor my, deur my en rondom my gehardloop.

“Dit was ervare manne teen ’n groentjie. Ek was maar pas uit die skoolbanke, ’n rou nuweling. Ek is omtrent opgedons in die stryd, maar het baie lesse daaruit geleer en vir myself gesê nooit weer gaan dit gebeur nie.

“Dobbo en Dawie het saam met die WP Rugbyunie ’n groot rol in my loopbaan gespeel en daarvoor is ek baie dankbaar.”

Notshe vertel dat die rugbygogga hom as ’n laaitie gebyt het.

Hy het in Nyanga in Kaapstad grootgeword. Daar het hy danksy sy pa, Mandla, en ooms op ’n vroeë ouderdom met die ovaalbal kennis gemaak.

Deur die week was dit rugby vir Nomlinganiselo Primary School en naweke het hy vir die Lagunya-rugbyklub, met wie sy familie ’n lang verbintenis het, gespeel.

Hy het uiteindelik ’n beurs by Wynberg Boys’ High gekry om sy rugby en hoërskoolloopbaan daar voort te sit. “Op 16-jarige ouderdom het ek werklik gevoel ek kan iets met my rugby maak. Ek het daardie jaar in die Grant Khomo-week gespeel en is kort daarna na ’n hoëprestasie-kamp genooi deur Herman Masimla (wat die hoof van WP se hoëprestasieprogram was).

“Van daar af het dinge gebeur vir my. Ek het Cravenweek en toe SA Skole gespeel.”

My spanmaats het my gewaarsku om voorbereid te wees. Ek ken dit nie, want ek het nog nooit ’n ander span op Nuweland verteenwoordig nie.

Vir ’n speler wat so lank sy brood en botter op Nuweland verdien het en wonderlike herinneringe van die veld het, is dit ’n vir Notshe ’n bitter pil om te sluk dat hy nie nóg meer kere op Nuweland kon speel nie.

Een van sy groot vooruitsigte as lid van die Haaie-span was om op Nuweland teen die Stormers te speel. Covid-19 het die vooruitsig voorlopig gesink.

Dit lyk egter of daar vir die kookwater-agtsteman nie ’n groetslag van Nuweland gaan wees nie met die geskiedkundige toetsveld wat ontwikkel gaan word en die Stormers wat noodgedwonge na die Kaapstad-stadion verhuis.

“Om eerlik te wees, ek het baie meer gedink oor die ontvangs wat ek op Nuweland sou kry as oor die wedstryd self. My spanmaats het my gewaarsku om voorbereid te wees. Ek ken dit nie, want ek het nog nooit ’n ander span op Nuweland verteenwoordig nie.

“So die ouens het vir my gesê ‘ons was al aan die ontvangkant en dis glad nie lekker nie’. Natuurlik weet ek dit, want ek het in Kaapstad grootgeword.

“Die Kaapse ondersteuners is ongenaakbaar met wat hulle vir teenstanders toesnou.

“Ook my tweestryd met Scarra (Ntubeni, Stormers-haker) en Siya (Kolisi, kaptein) sou iets ysliks wees. Hulle is twee van my goeie vriende. Ek het veral uitgesien na die tweestryd met Scarra, hy’s ’n baie goeie ou.

“Ons gaan beslis hard op mekaar wees op die veld, maar van die veld af sal ons steeds goeie vriende bly.”


Hy troon uit in Superreeks

345 | Sikhumbuzo Notshe (Haaie)

Sikhumbuzo Notshe

228 | James Venter (Haaie)

James Venter

225 | Len Massyn (Leeus)

Len Massyn

205 | Josh Strauss (Bulle)

Josh Strauss


Ware breker

Notshe het in die kortgeknipte Superreeks meer duikslae gebreek as enige ander SA voorspeler. Hy is derde op die algehele voorspeler-lys.

17 Sikhumbuzo Notshe (Haaie)

Sikhumbuzo Notshe (Haaie)
Sikhumbuzo Notshe (Haaie)

13 Jaco Coetzee (Stormers)

Jaco Coetzee (Stormers)
Jaco Coetzee (Stormers)

9 Juarno Augustus (Stormers)

Juarno Augustus
Juarno Augustus
Meer oor:  Sikhumbuzo Notshe  |  Robbie Fleck  |  Haaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.