Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Notshe oor Leeus: ‘Dis nou of nooit’

Sikhumbuzo Notshe draai nie doekies om oor sy rugbydoelwit vir 2021 nie.

“Ek gaan nou nie vir jou jok nie; almal wil in die toetsgroep teen die Leeus wees,” het die Haaie se agtsteman vandeesweek in Durban gesê.

Die Haaie se agtsteman Sikhumbuzo Notshe hoop hy kry die kans om die Bokke teen die Britse Leeus te verteenwoordig. Foto: Gallo Images

Warren Gatland, die afrigter van die Britse en Ierse Leeus, kondig Donderdag sy groep vir die toer na Suid-Afrika aan. Die toer is geskeduleer om op 3 Julie in Kaapstad te begin en met die laaste toets op 7 Augustus in Johannesburg te eindig, maar die program kan nog vanweë Covid-19-oorwegings verander.

Leeus-koors loop nietemin hoog in Suid-Afrikaanse rugbykringe.

“Ons het die belyningskampe gehad en daar is vir ons gesê wat van ons verwag word (as ons die groep wil haal), wat ek nie nou sal deel nie. Maar almal wil speel,” sê Notshe.

“Dit is ’n reuse-eer vir spelers. Ek gaan nie twak praat en sê dit is nie iets waarna ons uitsien nie. Die Haaie speel ook teen die Leeus en dit gebeur nie gereeld nie.

“Wêreldbekers is elke vier jaar, hierdie net elke 12 jaar. Ek was 16 toe hulle laas in 2009 hier was. As ek dit hierdie keer misloop, gaan ek nooit teen hulle speel nie en dit is die reine waarheid.”

Die trofee op die spel vir die toetsreeks tussen Suid-Afrika en die Britse en Ierse Leeus. Foto: SA Rugby

Notshe (27) het die Bokke reeds ses keer verteenwoordig nadat hy sy buiging in 2018 gemaak het, maar is nie vir die Wêreldbeker-groep van 2019 gekies nie.

Sedert hy hom verlede jaar vanuit Kaapstad by die Haaie aangesluit het, speel hy kookwaterrugby. Die Haaie se spelpatroon pas hom goed en hy kry die geleentheid om sy vaardighede ten toon te stel.

Duane Vermeulen is waarskynlik Jacques Nienaber se eerstekeuse-agtsteman, maar Notshe se naam sal ook in gesprekke opduik.

Notshe weet egter dat hyself sy praatwerk op die veld moet doen wanneer hy die geleentheid kry. Soos die komende naweek in die Reënboogbeker-kragmeting met die Leeus in Durban.

“Vir eers is ek toegespits op die Goue Leeus dié naweek, want as ek nie Saterdag goed speel nie, is daar geen waarborg dat ek vir die Bokke teen die (Britse en Ierse) Leeus sal speel nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.