Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Curriebeker: Nou het Pumas WP in hul visier

Juis omdat Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas, weet hoe belangrik selfvertroue vir sy spelers is, weet hy watter waarde sy spelers geput het uit Vrydag se oorwinning oor Griekwas.

Die verwagting is dat Pieter Jansen van Vuren, wat hier ’n lynstaanbal teen die Stormers in Oktober bemeester, Vrydag teen die Kapenaars sy terugkeer tot die speelveld sal maak. Foto: Gallo Images

Die Laevelders het met ’n magtige skrumvertoning vorendag gekom om die Poubloues met 22-17 in hul Curriebeker-rugbywedstryd in Mbombela te klop.

Vir Stonehouse was die oorwinning soet. Die laaste paar weke raap en skraap hy om weens beserings elke week ’n span in die veld te stoot. Maar die spelers wat teen Griekwas uitgeblink het, het gewys dat daar ’n vuur in hul borskaste brand.

En ’n wil om suksesvol te wees gaan wraggies nodig wees, want die Laevelders reis vandeesweek na Kaapstad waar hulle Vrydag teen die Westelike Provinsie te staan kom.

“As ek dink wat ons die afgelope drie weke deur is, met spelers wat beseer is en nie beskikbaar was nie (weens Covid-19) is hierdie oorwinning baie soet. Die laaste paar wedstryde moes ek elke keer die span op die dag van die wedstryd verander,” sê Stonehouse.

“Hierdie oorwinning was baie belangrik vir die spelers; hulle is positief en het moed vir die pad vorentoe.”

Dit gaan beslis ’n hoë hekkie wees, maar soos ek sê is die spelers baie positief.
Jimmy Stonehouse

Die pessimiste sal jou natuurlik vertel dat die Pumas vir voorgereg in die Moederstad verorber gaan word, maar daardie liggelowiges se geheue laat hulle straks in die steek. Want die einste Laevelders het in Oktober ’n kookwater-vertoning opgedis om byna die Stormers in die Superrugby Unlocked-reeks in Mbombela te skok.

“Dit gaan beslis ’n hoë hekkie wees, maar soos ek sê is die spelers baie positief. Maar dit bied aan ons ook ’n geleentheid,” sê Stonehouse.

Die verwagting is dat Pieter Jansen van Vuren (slot en kaptein), wat hom Vrydag op die nippertjie aan die span onttrek het, teen die WP sal opdraf. Tog het die oorwinning oor die Poubloues ook nie sonder ’n prys gekom nie, met die vleuel Luther Obi (elmboog) en die stutte Dewald Maritz (dyspier) en Liam Hendricks (skouer) wat op die krukkelys is.

Vir Jimmy Stonehouse, afrigter van die Pumas, kon die oorwinning oor Griekwas nie op ’n beter tyd gekom het nie. Foto: Gallo Images

Vir Griekwas, steeds segeloos vanjaar, moet daar van voor af begin word. Hulle het vanjaar al ’n paar keer baie naby daaraan gekom om te wen, maar hul vertoning Vrydag was maar effentjies.

“Ek dink ons het die wedstryd in die skrums verloor, jy kan nie jou teenstander toelaat om jou so in die skrums te domineer nie,” sê Scott Mathie, afrigter van die Poubloues.

“Ons besluitneming was ook nie goed nie. Ons kon beter besluite geneem het. Ek dink daardie twee aspekte was dalk waar die grootste leemte was.”

Die Noord-Kapenaars het die komende naweek ’n loslootjie, waarna hulle die week daarna teen die Bulle in Kimberley te staan kom.

“Die loslootjie gee ons ook die geleentheid om uit te rus,” sê Mathie.

“Veral sielkundig, om ’n dag of twee te rus sodat ons kan terugkeer met hernieude ywer vir die volgende skof. Dit het nou vir ses weke aangegaan (sedert die laaste loslootjie), en (die spelers se) lywe is seer. So dit is belangrik om ’n ruskans te kry.”

Meer oor:  Kaapstad  |  Nuweland  |  Mbombela  |  Pumas  |  Scott Mathie  |  Griekwas  |  Jimmy Stonehouse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.