Australië se NRL, die wêreld se rykste rugbyliga-reeks, is aan die vooraand van die begin van die seisoen by ’n tienerseksskandaal ingesleep.
Die Canterbury Bulldogs het twee van sy spelers voorlopig geskors omdat hulle op ’n voorseisoense toer twee “jong vroue” na hul hotelkamer geneem het.
Volgens Stuff het Corey Harawira-Naera (24) en Jayden Okunbor (23) die tieners in Februarie ontmoet op die Bulldogs se reklamebesoek aan hul skool in Port Macquarie in Nieu-Suid-Wallis.
FoxSports berig Okunbor het later een van die tieners op sosiale media gekontak. Die tieners het Harawira-Naera en Okunbor uit vrye wil in hul hotelkamer besoek waar hulle seks gehad het.

Jayden Okunbor het een van die tieners op sosiale media gekontak. Foto: Getty Images
Die skoolmeisies is glo nie minderjarig nie en daar is geen aanduiding dat Harawira-Naera of Okunbor onwettig opgetree het nie, terwyl daar ook nie ’n strafregtelike ondersoek na die voorval gedoen word nie.
Die toestemmingsouderdom in Nieu-Suid-Wallis is 16.
“Die saak word ondersoek deur ’n dissiplinêre komitee van die NRL,” sê die Bulldogs se uitvoerende hoof, Andrew Hill.
“Die klub wil beklemtoon dat, hoewel die spelers nie deur die polisie ondersoek word nie, is dit ’n uiters kommerwekkende saak wat die klub in ’n baie ernstige lig beskou.”

Corey Harawira-Naera is ’n Nieu-Seelander wat sy rugbyliga in Australië speel. Foto: Getty Images
Die Bulldogs het 12 plaaslike skole in Port Macquarie besoek en klinieke vir die kinders aangebied.
Die span, wat in Sydney gesetel is, pak die Parramatta Eels Donderdag in die eerste NRL-wedstryd van die seisoen.
Volgens die Sydney Morning Herald is die Bulldogs weens die skandaal ’n multi-miljoen-dollar-borgskap met ’n gesinsrestaurant kwyt.
Die NRL word alewig deur spelers se swak gedrag en ongure voorvalle van die veld af geteister.
Die liga het voor die aanvang van verlede seisoen ’n nuwe beleid ingestel waarvolgens spelers wat by aantygings van seksuele aanranding en gesinsgeweld betrokke is, voorlopig geskors word. – Reuters, Sportredaksie