Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Nuwe’ Bok-voorry pak Poemas in Salta

Die Springbokke durf Argentinië Saterdag in Salta met ’n splinternuwe voorry aan in die beslissende laaste ronde van die Rugbykampioenskap.

WELLINGTON, NEW ZEALAND - JULY 23: Bongi Mbonambi
Bongi Mbonambi sal die naweek op haker daarmee getaak word om die Poemas se gevaarlike kaptein, Agustin Creevy, te tem. Foto: Getty Images

Daar is altesame drie veranderings aan die span wat in die vorige toets teen die All Blacks het in Wellington gelykop gespeel.

Die vaskopstut Trevor Nyakane kry nog ’n kans om sy Wêreldbeker-aanspraak te versterk in Frans Malherbe se plek.

Die 30-jarige Nyakane het vanjaar in die Superreeks sy beste rugby nog vir die Bulle gespeel en het ook verlede maand op Ellispark die nr. 3-trui teen die Wallabies gedra.

Dit is Saterdag sy 40ste toets sedert hy sy toetsbuiging in 2013 gemaak het, maar slegs sy vierde in die beginspan.

Rassie Erasmus, die Springbok-afrigter, sal hoop dit is ’n goeie voorbode dat die span in al drie die vorige toetse wat Nyakane begin het, aan die wenkant was.

Op loskopkant keer die veteraan Tendai Mtawarira terug ten koste van Steven Kitshoff.

Mtawarira, wat bestem is om Suid-Afrika vanjaar by ’n derde WB-toernooi te verteenwoordig, bereik nog ’n mylpaal.

Hy speel in sy 53ste toets in die Rugbykampioenskap (voorheen die Drienasies-reeks) en sluit hom by Bryan Habana aan as die mees ervare Springbok in dié kompetisie in die Suidelike Halfrond.

Die Poemas is ’n baie moeilike span hier en hulle sal aangevuur wees voor hulle passievolle toeskouers in Salta.
Rassie Erasmus

Bongi Mbonambi neem op haker by Malcolm Marx oor.

Die voorry wat teen die All Blacks begin het, Kitshoff, Marx en Malherbe, is almal op die plaasvervangersbank gekies.

Erasmus het gesê dit is ’n gulde geleentheid vir Nyakane en Mbonambi om langs Mtawarira, wat al meer as 100 toetse vir die Springbokke gespeel het, in die voorry te sak.

“Ons almal weet hoe gedug die Poemas voor is, maar hulle is ook ’n slim span met vaardighede en vaart aan die buitekant en ons gaan tot met die eindfluitjie ons storie moet ken.

“Die Poemas is ’n baie moeilike span hier en hulle sal aangevuur wees voor hulle passievolle toeskouers in Salta.”

Erasmus het besluit om met Kwagga Smith as oopkant-flank te volhard ná sy blink vertoning teen Nieu-Seeland in Wellington.

Smith sal vir slegs ’n derde keer die Bok-trui oor die kop trek, maar daar is altesame 380 toetse se ervaring onder die voorspelers in die beginspan.

Die Springbokke het sover die week in Buenos Aires voorberei en reis Donderdag na Salta.

Springbokke: Willie le Roux, Cheslin Kolbe, Lukhanyo Am, Damian de Allende, Makazole Mapimpi, Handré Pollard, Faf de Klerk, Duane Vermeulen (k), Pieter-Steph du Toit, Kwagga Smith, Franco Mostert, Eben Etzebeth, Trevor Nyakane, Bongi Mbonambi, Tendai Mtawarira. PLAASVERVANGERS: Malcolm Marx, Steven Kitshoff, Frans Malherbe, RG Snyman, Francois Louw, Herschel Jantjies, Frans Steyn, Jesse Kriel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.