Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nuwe komitee moet Vrystaat en Cheetahs help
Harold VersterFoto: Gallo Images

Die Vrystaat Rugbyunie het Woensdag ’n “korttermyn-strategiekomitee” gestig in poging om sy twee spanne se geploeter in die Curriebeker- en Pro14-reekse die laaste twee weke aan te spreek.

Daar sal nou elke Maandagoggend, nog voor die werkdag begin, vergader word om te bepaal hoe die wedstryde wat die daaropvolgende naweek gespeel word, benader gaan word.

Die eerste van dié strategievergaderings is reeds Woensdag gehou.

Die komitee bestaan uit prof. Basie Verster (voorsitter), Harold Verster, Lindsay Mould, Ryno Opperman, Franco Smith, Rory Duncan en MJ Smith.

Franco Smith. Foto: FSRU

Franco Smith is tans saam met die Springbokke in Nieu-Seeland en hy het via ’n telekonferensie by die vergadering ingeskakel.

“Die hoofdoelwitte van die komitee is om planne te beraam hoe om in die halfeindstryd van die Curriebeker-reeks te kom, en hoe om in die Pro14-reeks te presteer.

“Die besluit wat ons vandag (Woensdag) geneem het, is dat ons dinge week vir week gaan pak. Net om ’n voorbeeld te gee; hierdie week speel ons teen Zebre met die sterkste moontlike 23-tal.

“Die week daarna speel ons (in die Curriebeker-reeks) teen die Pumas en Leinster, altwee baie moeilike wedstryde, en ons sal Maandag gaan sit en kyk waar is ons op die Curriebeker-puntelys, maar ons gaan dié spanne pak met alles wat ons het,” sê Verster.

Die naweek van 29 September speel die Cheetahs teen Ospreys en die Vrystaat teen Griekwas en die Curriebeker-puntelys sal bepaal of die sterkste span teen Griekwas gekies moet word.

Op 6 Oktober is die Vrystaters weer in ’n posisie waar albei spanne – Vrystaat teen die Bulle en Cheetahs teen Glasgow Warriors – speel.

“Sê nou ons kom daar en moet nog ’n wedstryd wen om die halfeindstryd te haal, sal ons ons sterkste span teen die Bulle laat speel, en dan teen Glasgow met ’n span wat hulle kan vasvat.”

Sê nou ons moet nog ’n wedstryd wen om die halfeindstryd te haal, sal ons ons sterkste span teen die Bulle laat speel, en dan teen Glasgow met ’n span wat hulle kan vasvat.
Harold Verster

Verster het glo dat die Vrystaat-Cheetahs minstens twee van hul oorblywende vier Curriebeker-wedstryde moet wen indien hulle die halfeindronde wil haal.

Ná die naweek sal die Curriebeker-span eers weer 14 Oktober op volsterkte wees, aangesien daar dán geen Pro14-wedstyde tot 28 Oktober gespeel word nie.

Op die kort termyn kan dit so wees dat die Curriebeker-reeks weer die Vrystaat se prioriteit sal wees, sê Verster, alles in ’n poging om vir die uitspeelstryde te kwalifiseer.

“Dit sal alles afhang van waar ons ná elke week (Curriebeker-reeks) lê.

Verster het daarop gewys dat die unie die afgelope tyd gebuk gegaan het onder beserings en die ellelange lys het die naweek nog verder gegroei.

Gerhard Olivier

Met die opwarmingsessie voor die stryd teen Munster het Gerhard Olivier sy enkel gebreek en die agtsteman Niell Jordaan is in die wedstryd beseer.

Met die aanvang van die Curriebeker-reeks was daar reeds ’n rits spelers wat nie beskikbaar was om diens te doen nie. Dit het ingesluit spelers wat die unie verlaat het, dié by die Springbokke en dan was die oorgrote meerderheid beseer.

Verster het ook bevestig dat hulle besig is om met minstens drie spelers te onderhandel.

Die unie het ook bekend gemaak dat al die huidige afrigters, insluitend Franco Smith (direkteur van rugby), kontrakte van drie jaar onderteken het.

* Teen Woensdagmiddag is 23 708 kaartjies reeds vir die toets tussen die Springbokke en die Wallabies in die Toyota-stadion in Bloemfontein verkoop. Die stadion het plek vir 40 000 toeskouers.

Die kragmeting word op die 30ste September beslis.

Meer oor:  Franco Smith  |  Harold Verster  |  Bloemfontein  |  Curriebeker  |  Rugby  |  Vrystaat  |  Komitee  |  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.