Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nuwe kwellinge vir Rassie Erasmus

Die Springbokke se diepte op skrumskakel en heelagter sal volgende maand vir die eerste keer in die Rassie Erasmus-era getoets word.

Rassie Erasmus. Foto: Getty images

Soos sake tans staan, sal Suid-Afrika minstens in twee van die toetse teen Engeland (3 November, Twickenham), Frankryk (10 November, Stade de France), Skotland (17 November, Murrayfield) en Wallis (24 November, Principality-stadion) sonder Willie le Roux moet klaarkom.

Boonop is Faf de Klerk volgens Steve Diamond, die afrigter van sy Engelse klubspan, Sale Sharks, vir geen van November se Bok-toetse in Europa beskikbaar nie.

En onsekerheid bestaan nog oor die beskikbaarheid van Cheslin Kolbe (Toulouse), Vincent Koch (Saracens) en Francois Louw (Bath).

Maar Duane Vermeulen is weer verkiesbaar nadat hy die Rugbykampioenskap weens sy Japanse klubverpligtinge by Kubota Spears misgeloop het.

Die Bokke mag volgens die Engelse Premierliga se regulasies nie Le Roux, De Klerk, Louw of Koch vir die Engelse toets oorweeg nie. Die kragmeting val nie binne Wêreldrugby se toetsgleuf nie.

Bath is verlede jaar met sowat R1 miljoen deur die Engelse Premierliga beboet nadat hy Tau­lupe Faletau vrygestel het om Wallis teen die Bokke te verteenwoordig.

Danksy ’n vergunning deur sy Engelse klubspan, Wasps, kon Le Roux gister in sy 50ste toets op Loftus Versfeld speel. Hy was aanvanklik veronderstel om die afgelope twee toetse teen die Wallabies en All Blacks mis te loop.

Om vrede met sy afrigter, Dai Young, by sy Engelse klubspan te bewaar, moet hy nou egter op ­

4 en 17 November vir Wasps in tuis- en wegwedstryde teen ­

Northampton Saints speel.

Dit beteken hy sal die toetse op Twickenham en Murrayfield misloop tensy Erasmus voor dan ’n nuwe ooreenkoms met Young beklink.

Le Roux is Erasmus se eerstekeuse-heelagter en ’n speler wat hy nie vervang tensy dit noodgedwonge is nie.

Tot voor sy skouerbesering was Warrick Gelant die Bok-afrigter se tweedekeuse-heelagter. Hy het op die bank in die toets teen Wallis én die eerste twee toetse teen die Engelse gesit. Hy was daarna in die beginspan vir die derde toets teen Engeland op Nuweland.

In sy afwesigheid het Erasmus gedreig om Damian Willemse daar kans te gee, maar die wedstrydsituasies het dit nooit volgens die Bok-afrigter toegelaat nie. Erasmus het tydens sy span se toer na Australasië gesê hy oorweeg Kolbe ook as ’n heelagter. Erasmus kan ’n oorsese speler soos Frans Steyn van Montpellier as heelagter oorweeg as Kolbe ook deur Toulouse teruggehou word.

Erasmus se planne op skrumskakel vir November se toetse sal ook groot belangstelling ontlok aangesien De Klerk nog ’n speler is wat sy afrigter vir die volle duur van ’n toets op die veld wil hê.

Diamond het aan van die plaaslike media gesê sy blondekop-skrumskakel sal hom nie in November by die Bokke aansluit nie. Volgens hom was die ooreenkoms dat De Klerk in die Rugbykampioenskap speel. In ruil is De Klerk in November vir Sale Sharks beskikbaar.

’n Mens kan aanvaar dat Erasmus weer ’n gesprek met Diamond sal hê, maar daar word getwyfel of dit hierdie keer ’n positiewe uitkoms sal hê.

Daar is tot dusver geen duidelikheid oor wie Erasmus as De Klerk se adjudant beskou nie.

Embrose Papier, Ivan van Zyl en Ross Cronjé is al om die beurt kans gegee. Maar ’n mens kry die idee dat die Bok-afrigter nog twyfel oor wie sy nommertwee-skrumskakel met die oog op volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi is.

Die onsekerheid kan Erasmus selfs laat besluit om na oorsese skrumskakels, soos Cobus Reinach (Northampton Saints) of Piet van Zyl (Stade Français), te kyk as hy nie daarin slaag om ­Diamond se arm te draai nie.

Meer oor:  Rassie Erasmus  |  Faf De Klerk  |  Willie Le Roux  |  Toetse  |  Skrumskakel  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.