Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nuwe o.20-liga hou skole se bestes in SA

Ondanks die groot ontwrigting wat die Covid-19-pandemie in skolerugby tot gevolg het en net ’n beperkte aantal wedstryde wat vroeër vanjaar gespeel kon word, is die land se franchises nie koopsku nie en word daar gewoel om die land se voorste spelers te kontrakteer.

Daar is vanjaar beslis ’n groter belangstelling in skolespelers.
Ronnie Cooke

Na verwagting sal sowat 60 skolespelers vanjaar deur die plaaslike franchises gekontrakteer word teenoor die ongeveer 25 wat verlede jaar kontrakte losgeslaan het.

“Daar is vanjaar beslis ’n groter belangstelling in skolespelers,” het Ronnie Cooke, ’n agent van Esportif, gesê.

“ ’n Rede is dat daar sprake bestaan dat die nasionale o.21-liga van volgende jaar af na ’n nasionale o.20-liga sal verander.”

Cooke, ’n voormalige Superrugbyspeler van die Cheetahs en die Kings, meen daar is vanjaar weer ’n ryk oes aan talent.

Aangesien net ’n o.21-liga vanjaar gespeel word, is verskeie skolespelers soos Jan-Hendrik Wessels, George Cronjé, Marcell Muller, Lesley Botha, Kade Wolhuter, Danwich Beukes, Jarrod Cairns, Robbie Rodgers en FC du Plessis einde verlede jaar oorsee.

Van dié spelers het Wessels (vanaf Clermont na Bulle), Cronjé (Clermont na Cheetahs), Muller (Montpellier na Cheetahs), Botha (Montpellier na Cheetahs), Wolhuter (Montpellier na Westelike Provinsie) en Cairns (Melbourne Rebels na Leeus) sedertdien teruggekeer.

Dis onwaarskynlik dat daar vanjaar weer so ’n oorsese uittog sal wees omdat ’n nasionale o.20-liga vir 2021 beplan word.

Die Westelike Provinsie, wat bekend is vir sy sterk skolerugby, verloor vanjaar weer heelwat top-juniors soos Sebastian Lombard (Boishaai, stut en Bulle), Cameron Hanekom (Boishaai, agtsteman en Bulle), Curwin Gertse (Paarl Gimnasium, vleuel en Haaie) en Bradley Davids (Paarl Gimnasium, skrumskakel en Haaie). Lombard sal hom later by nog twee kookwater-stutte, Wessels, en Grey se Tielman Nieuwoudt, by die Bulle aansluit. Die Kapenaars se winste is Paschal Ekeji (Grey, vleuel/senter) en Keke Morabe (Welkom Gimnasium, losvoorspeler).

Van die skolespelers wat kontrakte losgeslaan het en dié week deur Rapport bevestig is, is:

Bulle: Sebastian Lombard (Boishaai, stut), Cameron Hanekom (Boishaai, agtsteman), Tielman Nieuwoudt (Grey, vaskop), Marco de Witt (Boland-Landbou, slot), Franco Knoetze (Grey, veelsydige agterspeler).

Leeus: Nico Steyn (Glenwood, skrumskakel), Josh van Vreden (Selborne, flank), Sisonke Vumazonke (Grey, flank), Henk Gouws (Glenwood, flank).

Sharks: Mambo Mkhize (Westville, flank), Curwin Gertse (Paarl Gimnasium, vleuel), Bradley Davids (Paarl Gimnasium, skrumskakel), Brandon Wilkie (Framesby, losskakel).

WP: Duran Koevort (heelagter, SACS), Paschal Ekeji (Grey, vleuel/senter), Keke Morabe (Welkom Gimnasium, losvoorspeler), Corné Weilbach (Paul Roos, stut), Louw Nel (Paarl Gimnasium, flank), Sacha Feinberg Mngomezulu (Bishops, losskakel).

Cheetahs: Juan-Dee Olivier (Grey, skrumskakel).

Meer oor:  Esportif  |  Ronnie Cooke  |  O.20-Liga  |  Kontrakte  |  Rugby  |  Skolerugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.