Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nuwe paleisrevolusie teen Oregan Hoskins dreig
Die meerderheid van Suid-Afrika se provinsiale rugbybase wil glo hê dat Oregan Hoskins, president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie, uit die kussings gelig word. Foto: Jaco Marais

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se president, Oregan Hoskins, is opnuut in die spervuur met tien van Suid-Afrika se provinsiale unies wat glo sy kop eis.

Hoskins het glo ook die steun verloor van Saru se uitvoerende raad, waarvan hy uit hoofde van sy amp die voorsitter is.

’n Vergadering van provinsiale rugbybase is vir Woensdag en Donderdag in Johannesburg belê om netelige kwessies op die spits te dryf.

Sekerlik die belangrikste punte op die agenda is die Southern Kings en struwelinge op Saru se uitvoerende raad.

Of Hoskins eersdaags in die slag gaan bly al dan nie, bly ’n ope vraag. Nie een van Suid-Afrika se groot provinsiale unies steun sy voortgesette leierskap nie, maar hy kan steeds staatmaak op ’n handvol kleiner unies.

Vandeesweek se vergadering is ’n geskeduleerde een wat deur unies aangevra is na aanleiding van agendapunte wat weens tydsdruk nie bespreek kon word op ’n spesiale algemene vergadering vroeër vanjaar nie.

Die spesiale algemene vergadering het Saru se jaarvergadering op 1 April voorafgegaan.

Op dié spesiale vergadering het provinsiale base hul onteenseglike steun uitgespreek vir Saru se uitvoerende hoof, Jurie Roux.

Hy het tóé gebuk gegaan onder aantygings dat hy destyds in diens van die Universiteit Stellenbosch (US) miljoene rande onregmatig op die Maties se rugbyklub bestee het.

Hoskins het vroeër vanjaar probeer om Roux uit sy amp geskors te kry nadat besonderhede van die beweerde finansiële wanbestuur deur Netwerk24 onthul is.

Dit was ondanks die feit dat Saru in 2014 met ’n ouditverslag oor die bewerings teen Roux sy kontrak as uitvoerende hoof met vyf jaar verleng het.

Daar was ook spanning tussen Hoskins en Rassie Erasmus, Saru se hoof van rugby, wat sedertdien bedank het om ’n pos as die Ierse span Munster se hoof van rugby te aanvaar.

Ná die spesiale algemene vergadering in April is gesê die interne strydbyle is begrawe, maar dit blyk uit gissinge die afgelope maand dat dit nie die geval is nie.

Die probleme by die OP-Kings is óók ’n belangrike agendapunt, met die Southern Kings se bestaansreg as Superrugby-franchise wat onder die loep geneem kan word.

Saru het in November te midde van kontantvloeiprobleme by die OP-Kings ingegryp om te sorg dat ’n Superrugby-span in die veld gestoot kan word.

Die beweegrede agter die deelname van die Southern Kings was om transformasie aan te help, maar die span het nie sy strategiese doelwitte bereik nie.

Gegewe dat die franchise aan Saru behoort, is daar ook kritiek dat daar nie vroeër ingegryp is nie.

Daar is ook ’n gevoel dat die OP-Kings as unie van voetsoolvlak na bo opgebou behoort te word eerder as om ’n onmededingende Superrugbyspan kunsmatig aan die lewe te hou.

Vroeër vanjaar was daar onder rugbybase ook ongelukkigheid oor die gesloer om ’n nuwe Springbok-afrigter aan te stel en borgskappe vir die nasionale span en Curriebekerreeks te bekom.

Onder provinsiale base was daar ’n opvatting dat belangrike kwessies weens binnegevegte gesloer het.

Meer oor:  Oregan Hoskins  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.