Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nuwe reeks lok Pedrie na VSA

Die oud-Springbok Pedrie Wannenburg is die eerste Suid-Afrikaner wat gelok is om sy salaris in dollar te verdien in die VSA se nuwe rugbykompetisie.

Die 35-jarige flank, wat in 2010 Loftus Versfeld se stof van sy rugbystewels geskud het kort nadat hy die Bulle gehelp het om ’n derde Superrugby-titel te verower, gaan oor sowat twee weke in Colorado in die VSA by die Denver-span aansluit.

Die voormalige Bok-senter André Snyman is ’n lid van Denver se afrigtingspan.

PRO Rugby, die VSA se nuwe kompetisie vir beroepspanne wat deur VSA Rugby en Wêreldrugby onderskryf word, is verlede jaar in New York gestig.

Ses beroepspanne, wat gekies sal word uit die Noord-Ooste, Kalifornië en die Rocky Mountains-streek, gaan in dié liga meeding.

Wannenburg, wat eersdaags sy laaste wedstryd vir Oyonnax in die Franse Top-14-liga speel, het uit Frankryk aan Rapport gesê hy sien uit na sy swanesang in die VSA.

“Ek het ’n vyfjaar-visum en beplan om nog twee seisoene te speel. Daarna wil ek by afrigting betrokke raak. Ek glo ek het baie om te bied in ’n land waar rugby die spansport is wat die vinnigste groei.”

Hy voorspel die reeks kan gou talle Suid-Afrikaanse spelers lok.

“Die belangstelling is groot. Denver kry byna daagliks e-posse van spelers en afrigters wat belang stel. In Amerika is alles immers groter en beter.

“Ek onthou hoe daar destyds twyfel was oor die Japanse kompetisie en kyk hoe gewild is dit deesdae en hoe baie Suid-Afrikaners speel daar.”

Die verlange na sy Loftus-dae is soms groot, vertel die oud-Riversdaller.

“Ek dink soms met heimwee terug aan die dae toe ek voor oefeninge sonroom moes aansmeer. Ons het vandag in sneeu geoefen en jy moet soggens eers die sneeu van jou motor afskraap.

“Dit is jammer dat Suid-Afrikaanse rugby nie nou kan meeding met die geleenthede hier nie. Ek het ’n vrou en twee pragtige kinders en dit was vir ons as ’n gesin die regte besluit om hier te bly.”

Wannenburg sê hy het lankal reeds daarmee vrede gemaak dat hy in 2007 die laaste van sy 20 toetse gespeel het.

Die hoop het tydelik opgevlam toe Heyneke Meyer, die vorige Bok-afrigter, hom twee seisoene gelede uit die bloute gebel het.

“Ja, ek het destyds ewe skielik weer begin droom van ’n Bok-trui. Ek gaan nie jok nie, dit sou ongelooflik gewees het om weer die Groen en Goud te dra.

“Daar kom egter ’n tyd wat jy vir die jong manne moet terugstaan. Ek kan terugkyk op ’n wonderlike loopbaan . . . en wie weet, dalk kan ek in Amerika vir oulaas uit ’n beker drink.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.