Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Nuwe reeks, selfde ou duiwel'

As daar net minder jellie tussen sy spelers se ore was . . . Dis nie ’n direkte aanhaling nie, maar min of meer die strekking van die Pumas-afrigter, Jimmy Stonehouse, se versugting nadat sy span Vrydagaand net-net teen die Leeus verloor het.

Die Pumas het Vrydagaand in hul eerste helfte teen die Leeus balbesit en gebiedsvoordeel oorheers, maar tweede viool gespeel ná hul besluitneming in die tweede helfte begin haper het.Foto: Gallo Images

Die Johannesburgers was op Ellispark met 32-28 baas in die eerste wedstryd van SA Rugby se voorbereidingsreeks, maar dit kon ’n heeltemal ander storie gewees het as die Laevelders se besluitneming en afronding beter was.

Ná ’n eerste helfte waarin hulle met veel meer doelgerigtheid en ondernemingsgees as die Leeus gespeel het, en die Johannesburgers met hul fisiekheid laat swoeg het, het hulle hulself van vroeg in die tweede helfte af in die voet begin skiet.

“Ons het die geveg gewen, maar die oorlog verloor,” het Stonehouse Vrydagaand oor die verskil tussen die twee helftes gesê.

“Ons probleme is beslis tussen die ore,” het hy bygevoeg. “Ek kom agter daar is ouens wat sekere goed doen op sekere kritieke tye omdat hulle nie die ervaring het om te besef hulle is in ’n situasie waar hulle die wedstryd kan wen nie.

“Ek dink byvoorbeeld aan die laaste vier minute, waarin ons balbesit moes gehou het. Daar was teen die einde ’n bal wat Ginter (Smuts) weggeskop het, wat bitter frustrerend was om te sien.

“Wat ons nodig gehad het, was dat die spelers die laaste tien minute die bal in die hand hou, werk vir ’n strafskop, dit kry en dit vat. Ons het in die Unlocked-reeks (en Curriebeker) ook gesien dit gebeur nie, en hard gewerk daaraan. Maar dit lyk my daai duiwel hou maar aan om sy kop uit te steek.”

Ons het net hierdie groep spelers, ons het nie die luuksheid om ouens te laat rus en vir ander ’n kans te gee nie.
Jimmy Stonehouse

Daar is geen trofee op die spel in die voorbereidingsreeks nie, maar Stonehouse sê die toernooi sou nie belangriker vir die Pumas gewees het as daar was nie.

“Nee, of daar nou ’n trofee is of nie, die druk bly dieselfde vir ons om te presteer,” het hy gesê.

“Ons het net hierdie groep spelers, ons het nie die luuksheid om ouens te laat rus en vir ander ’n kans te gee nie. Hierdie is die spelers met wie ons moet werk en wat ons op ’n vlak moet kry waar hulle mededingend in ’n dubbelronde-Curriebeker sal wees. As hulle nou sulke foute maak met geen titel op die spel nie, wat gaan hulle maak in die Curriebeker?”

Stonehouse het gesê dis natuurlik moeilik om vir die toekoms te beplan terwyl hulle nie weet wat vir die Pumas wag ná die voorbereidingsreeks nie.

“Dis nie maklik nie, maar dankie vir die genade dat ons darem hierdie vier wedstryde kan speel,” het hy gesê.

“Sou die Reënboogbeker voortgaan (waarin die Haaie, Bulle, Leeus en Stormers veronderstel is om te speel), sal ons vir SA Rugby vra of daar nie ’n dubbelronde-toernooi kan wees vir die vier spanne wat oorbly nie, vir ons, die Cheetahs, OP en Griekwas. Dit sal ons darem ’n ruk aan die gang hou en goed wees vir rugby.”

Meer oor:  Jimmy Stonehouse  |  Pumas  |  Leeus  |  Voorbereidingsreeks  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.