Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Rassie lugtig vir Eddie se nuwe Rose
Duane Vermeulen die afgelope week op die oefenveld. Hy sal Saterdag die eerste keer in sy loopbaan flank vir die Bokke speel. Foto: Gallo Images

Die Engelse media is duidelik sinies oor die liggewig-agttal wat Eddie Jones vir Saterdag se toets op Twickenham teen die Springbokke gekies het.

Sy lostrio-keuse, Mark Wilson, Tom Curry en Brad Shields, word onder meer hier deur rugbyskrywers en -kommentators as vreemd en ondeurdag beskryf.

Toe Rassie Erasmus, die Springbokke se afrigter, egter Donderdagmiddag gevra is of hy die tuisspan se voorhoede as ’n swak punt beskou, het hy Jones se kritici daaraan herinner dat hy al in die verlede die Bokke met Japan geklop het (in 2015 se Wêreldbekertoernooi).

“So, ek is nie veronderstel om hier te sit en oor Eddie kommentaar te lewer nie,” het hy gesê.

Ek is nie veronderstel om hier te sit en oor Eddie kommentaar te lewer nie. Daar is nuwe gesigte en dit maak my eintlik so ’n bietjie onrustig.
Rassie Erasmus

“Ek sal nie sê dit is ’n swak punt nie. Ons weet nie regtig baie van ’n paar spelers in hul pak nie en dit kan tot Engeland se voordeel wees.

“Daar is nuwe gesigte en dit maak my eintlik so ’n bietjie onrustig,” het Erasmus gesê.

Erasmus self moes noodgedwonge vyf veranderings maak aan die span wat verlede maand in Pretoria so byna ’n tweede sege teen die All Blacks beklink het in die Rugbykampioenskap.

Sbu Nkosi druk vi die Bokke.

Met ’n groot gros Bokke wat weens Wêreldrugby se regulasies nie die naweek internasionale rugby mag speel nie, is Damian Willemse, S’bu Nkosi en Ivan van Zyl in die agterlyn en Duane Vermeulen en Warren Whiteley in die agttal gekies.

Vermeulen as steelkantflank is ’n eerste vir dié ervare Bok en met die skuif maak Erasmus vir Whiteley op agtsteman plek.

“Toe ek hom (Vermeulen) aan die begin afgerig het by die Cheetahs en later by die Stormers was hy ’n flank en hy is steeds baie gemaklik daar. Warren is weer ’n spesialis-agtsteman en dit gee ons goeie leierskap deur hulle saam te kies.”

Pieter-Steph du Toit begin op slot, maar Erasmus het laat blyk dat hy ná rustyd flank toe kan skuif.

Die slot Lood de Jager, wat in Mei laas rugby gespeel het, is op die plaasvervangerbank gekies.

“Ons wil Lood stelselmatig terugkry op die veld en daarby is RG (Snyman) ook op die bank. Ek het gevoel dit gee ons ’n hele paar keuses.”

Die nuwe agterste trio, Willemse, Nkosi en Aphiwe Dyantyi – wat almal in hul eerste jaar van toetsrugby is – sal die eerste keer as ’n kombinasie op die proef gestel word.

Willemse vervang Willie le Roux in die laaste vesting en kry daarmee sy eerste beginkans, terwyl Nkosi, wat in Junie sy internasionale buiging teen Engeland gemaak het, die nuwe regtervleuel is in Cheslin Kolbe se plek.

“Ons het vanjaar baie op Willie staatgemaak, maar Damian is al geruime tyd by ons en hy moet iewers ’n toets begin.

“Jy kry nie ’n veel groter uitdaging as Engeland op Twickenham nie en met die Wêreldbeker-toernooi in gedagte, sal dit baie waardevol vir hom en die ander jong manne in die span wees.

“Die druk sal groot wees en ons sal sien hoe hy daarop reageer. Hy verdien die kans.”

Die Springbok-span is:
 Damian Willemse, S’bu Nkosi, Jesse Kriel, Damian de Allende, Aphiwe Dyantyi, Handré Pollard, Ivan van Zyl, Warren Whiteley, Duane Vermeulen, Siya Kolisi (k), Pieter-Steph du Toit, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Malcolm Marx, Steven Kitshoff. PLAASVERVANGERS: Bongi Mbonambi, Thomas du Toit, Wilco Louw, RG Snyman, Lood de Jager, Embrose Papier, Elton Jantjies, André Esterhuizen.

Meer oor:  Sbu Nkosi  |  Damian Willemse  |  Rassie Erasmus  |  Engeland  |  Suid-Afrika  |  Bokke  |  Jaareindtoer  |  Rose  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Twickenham
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.