Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nuweland dalk opgeveil as WP nie gou betaal

As die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) nie daarin slaag om teen die einde van vandeesmaand sy skuld aan Remgro terug te betaal nie, sal dié beleggingsmaatskappy die opsie hê om die Nuweland-stadion op te veil om sy geld te verhaal.

Die beleggingsmaatskappy Remgro sal die reg hê om Nuweland op te veil indien die Westelike Provinsie Rugbyunie nie teen die einde van Junie sy skuld aan hom vereffen nie. Foto: Gallo Images

Netwerk24 het dié skoknuus vandeesweek by afsonderlike bronne gehoor. Daar is ook deur ’n onberispelike bron aan Netwerk24 bevestig dat daar ’n hofbevel in daardie verband is.

Indien Nuweland opgeveil word, sal Remgro voor in die tou staan om die sowat R58 miljoen wat die WPRU hom skuld, te verhaal. Daarna sal skuld van meer as R50 miljoen aan Investec vereffen moet word. Indien daar geld oorbly, sal die WPRU dit ontvang.

Jannie Durand, Remgro se uitvoerende hoof, wou by navraag nie kommentaar lewer nie.

Nuus van dié hofbevel kom te midde van ’n geskarrel deur Zelt Marais, die WPRU se president, vir die unie om ’n lening van R112 miljoen by Dream World Investments 401 aan te gaan, sodat die Kaapse unie sy skuld kan afbetaal.

Die WPRU se hoofraad vergader op 30 Junie daaroor.

Dream World is ’n maatskappy binne Flyt Property Investment, met wie die WP ’n vennootskap wil aangaan om eiendomsontwikkelings by Nuweland en Brookside te doen. Elkeen van die partye sal ’n aandeel van 50% besit, maar Flyt sal die direksie van dié beoogde onderneming beheer.

In nóg ’n skokkende verwikkeling blyk dit uit ’n brief van Marais aan klubs dat verbande teen al die kroonjuwele in die WPRU se eiendomsportefeulje – ter waarde van R250 miljoen – geregistreer sal word as sekuriteit vir die moontlike lening wat by Dream World aangegaan sal word.

Netwerk24 kan onthul dat die eiendomme as volg is:

• Die grond by die Nuweland-stadion;

• Die Mill House en Mill House se tuine;

• 6 Boundaryweg;

• 9 Boundaryweg

• Die Dulwich-parkeerterrein langs Nuweland;

• 36 Ednamstraat;

• 37 Ednamstraat;

• 39 Ednamstraat;

• 1 Harrowstraat;

• Brookside;

• Die WPRU se geriewe in Oranjezicht.

Die WPRU se inkomste uit huur wat hy by die Instituut vir Sportwetenskap ontvang, vorm óók deel van die sekuriteit.

Nuus oor die hofbevel in Remgro se guns wys hoe ’n gevaarlike spel die WPRU gespeel het deur onderhandelinge met Investec op te sê.

Die unie het vroeër die hoofpunte van ’n ooreenkoms met Investec onderteken ingevolge waarvan die WPRU R110 miljoen sou ontvang het uit ’n huurooreenkoms wat vir 99 jaar sou duur. Hy sou ook ’n verdere toekomstige inkomstestroom uit die herontwikkeling van Nuweland gekry het.

Zelt Marais, president van die WP Rugbyunie, meen Flyt Property Investment kan ’n goeie vennoot vir die Kaapse unie wees. Foto: Gallo Images

Nadat die hoofpunte van die ooreenkoms onderteken is, het Investec sowat R50 miljoen aan die WPRU voorgeskiet. Die unie sou die tweede betaling van R60 miljoen gebruik het om Remgro af te betaal.

Indien die WPRU egter sy nuwe voorgestelde koers inslaan, sal sy skuld die hoogte in skiet. Dít terwyl die opsie daar was om ná die Investec-transaksie geen skuld te hê nie.

Daar sal wel ’n moontlikheid van ’n inkomste uit die voorgenome ontwikkelings by Nuweland en Brookside wees, maar ingevolge die bepalings wat aan klubs gestuur is, is dit onbekend of dié inkomste gewaarborg sal wees indien daar ’n verlies gely word.

Investec het vandeesweek ook aan Netwerk24 bevestig dat sy prokureurs met die WPRU kontak gemaak het – ’n moontlike aanduiding dat hy sy ooreenkoms met die Kaapse unie as bindend beskou.

In ’n inligtingsdokument oor die voorgenome transaksie tussen die WPRU en Flyt, sê Marais dat die transaksie met Investec op 1 Junie skeefgeloop het. Investec se voorgestelde ontwikkelingsooreenkoms was nie vir die WPRU aanvaarbaar nie.

“Flyt Property Investment het op 3 Junie 2020 met die WPRU begin onderhandel, nadat die transaksie met Investec misluk het,” sê Marais.

Hy sê dat Flyt ’n suksesvolle eiendomsontwikkelaar in Kaapstad is met byna ’n dekade se “ervaring in die ontwerp, ontwikkeling en bestuur van projekte in die residensiële, gasvryheids- en kommersiële bedrywe”.

“Flyt het ’n sterk balansstaat met sy projekte wat deur sy aandeelhouers se kapitaal gefinansier word. Hy is nie afhanklik van banke se befondsing nie,” sê Marais.

Die WPRU se uitvoerende komitee het Donderdag vergader, met die vise-president, Spencer King, wat glo buite stemming oor die voorgestelde transaksie gebly het.

Die volgende stap is vir die WPRU se hoofraad, wat die klubs insluit, om op 30 Junie te vergader. Teen daardie tyd sal die WPRU hoop dat die geld reeds in sy bankrekening sal wees, om die moontlike verlies van Nuweland af te weer.

Meer oor:  Remgro  |  Investec  |  Westelike Provinsie Rugbyunie  |  Wpru  |  Zelt Marais  |  Nuweland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.