Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nuweland word as ‘heilige grond’ beskryf
’n Lugfoto van die ikoniese Nuweland-stadion. Foto: Gallo Images
Nuweland was die rugbytuiste van baie uitsonderlike rugbyspelers oor meer as 125 jaar. Met die laaste wedstryd op dié roemryke veld wat moontlik Saterdag gespeel word, wanneer die Westelike Provinsie en Haaie in die halfeindronde van die Curriebeker-reeks kragte meet, het van dié legendes hul herinneringe met Stephen Nell gedeel.

DAWIE SNYMAN (60 wedstryde vir WP van 1971-1977):

Een van my eerste spesiale ervarings op Nuweland was toe ek as eerstejaar-student, in 1969, in Stellenbosch klubrugby op Nuweland gaan kyk het. Ek het op die Spoorweg-paviljoen by die kwartlyn met ’n paar pêlle gestaan en die totale aura van Nuweland ervaar, beleef en bedink.

Daar was natuurlik die 1970-toets teen die All Blacks, toe ek aanskou het hoe Piston van Wyk uitmekaar getrap is, wat ek nog goed onthou.

Maar dis die aanloop tot ’n wedstryd op Nuweland, ’n ware volksfees, wat my altyd sal bybly.

Die vuur is aan die brand gesteek en het hout en kole gekry. Dit was dié geleenthede, wat ek as ’n toeskouer ervaar het, wat my later gemotiveer het in terme van my rugbyloopbaan vorentoe.

Wat ek as speler of afrigter gedoen het, is nie ter sake nie. ’n Mens se lewe is nie ’n funksie van wat jy dink jy bereik het nie. ’n Mens se lewe is ’n funksie van die bydrae wat jy lewer terwyl die dinge besig is om te ontwikkel en die gawes wat God jou gee.

Liefde kom van God af en liefde vir ’n spesifieke omgewing en spesifieke saak is deel daarvan. Die liefde vir die spel en Nuweland groei steeds. Dis nie iets wat verdwyn nie, anders was dit nie liefde nie.

CAREL DU PLESSIS (108 wedstryde vir WP van 1980-1989):

Nuweland is een van daardie stadions waar jy amper so ’n energie-golf ervaar wanneer jy opdraf. Daar is ’n beroering onder die hele skare. Die geraas van die skare en energie wat daar uitgekom het, was iets om te ervaar.

Wat spesiaal was, was hoe naby die mense aan die veld was. Daardie atmosfeer was elektries. Deesdae raak dit ’n neiging om sokkerstadions te bou, wat ’n ander gradiënt om die veld het.

Die kleedkamers was klein, maar dit was ook spesiaal. Almal het iewers ingepas en jy kon die ouens om jou ervaar en sien wat hulle doen. Dit kon beter toegerus wees, maar dis hoe die stadion was en het dit vir my spesiaal gemaak.

As ’n speler is die Curriebeker-eindstryd van 1982, die eerste in die Goue Jare van die WP, en die drie wat ek in daardie wedstryd gedruk het, iets wat my sal bybly.

Daar was ook die nat dag teen die Nieu-Seelandse Kavaliers in 1986. Nuweland was volgepak. Dit het gereën en was ’n onplesierige dag, maar ek dink nie enigiemand in die skare het opgestaan om die stadion te verlaat nie.

SCHALK BURGER SENIOR (64 wedstryde vir WP van 1977-1987):

Twee generasies Burgers sal onthou word vir uitsonderlike prestasies op Nuweland. Schalk Burger senior (regs) het van 1977 tot 1987 vir die WP gespeel en sy seun Schalk van 2003 tot 2013. Foto: Argief

Nuweland beteken vir my baie meer as net die veld waarop ek gespeel het en die emosionele aspek. Dit is ook die veld waarop ek in drie Curriebeker-eindstryde gespeel het. Dit lê ’n bietjie dieper.

Nuweland is een van daardie unieke velde wat, wanneer jy daar instap, iets aan jou doen. Dít is wat tradisie doen – die gevoel, hoe dit lyk, die reuk, die klanke, die omgewing, die ondersteuners . . . Nuweland is absoluut uniek.

Die verlies daarvan is vir my absoluut tragies. Dit voel amper asof ’n familielid of iemand van binne die gesin daarmee heen is.

Jy kon van naby die veld destyds die “Wintergreen” en nuwe Super Springbok-bal ruik.

Mense raak afgestomp – omdat die Kaapstad-stadion daar is, moet Nuweland nou in sy kanon gaan. Ek is op rekord dat die beste ding wat hulle met die Kaapstad-stadion kan doen, is om hom af te breek. Hy is op die verkeerde plek gebou en sal nooit die tradisies hê nie.

Almal sê maklik die lewe moet aangaan. Daar was dieselfde debat in Ierland en hulle het ’n wonderlike projek rondom Lansdowne Road gedoen. Dit was om geen ander rede nie as die tradisie daarvan.

BREYTON PAULSE (75 wedstryde vir die WP van 1996-2007 en 81 vir die Stormers van 1998-2007):

Breyton Paulse (regs), een van die beste vleuels in die moderne geskiedenis van die WP, deel ’n oomblik met Robbie Kempson ná 2001 se Curriebeker-eindstryd. Foto: Gallo Images

Nuweland het vir my oor die jare heen amper soos ’n gesinshuis gevoel. Dis heilige grond en iets waarvoor ons as spelers soveel respek gehad het danksy die tradisie.

Die skares het dit manjifiek gemaak deur hul ondersteuning en die omgewing wat daardeur geskep is.

Dit was ’n absolute eer en voorreg om deel te kon wees van so ’n ryke tradisie binne ’n ikoniese stadion.

My eerste wedstryd op Nuweland, teen die Blou Bulle, is ’n wonderlike herinnering. Om voor soveel fanatiese mense te kon opdraf, was die oomblik toe ek besef het dinge begin nou vir my gebeur. Dit was ’n oomblik waarvan ek gedroom het.

Ons het goeie dae met die “Men in Black”(die Stormers se destydse swart uitrustings) gehad.

In 2001 was daar die Curriebeker-eindstryd waar ons met die rustyd agter was teen die Haaie, maar teruggekom het om te wen met 50 000 mense wat vir ons geskree het. Dit was ’n emosionele dag en wonderlik vir die span.

Die toets wat uitstaan, was die oorwinning oor die All Blacks in 2005, toe hulle as onoorwinlik beskou is.

Ek hoop regtig dat dieselfde atmosfeer oor tyd in die Kaapstad-stadion geskep sal word.

JEAN DE VILLIERS (50 wedstryde vir die WP 2001-2013 en 105 vir die Stormers van 2005-2014):

Min spelers het sulke diep spore soos Jean de Villiers op Nuweland getrap. Foto: Gallo Images

Dis nie net my loopbaan wat by Nuweland begin het nie, dit was my liefde vir rugby. Ek het later die geleentheid gekry om my droom uit te leef en daar te speel. My hoogtepunt was seker my 101ste toets, teen Australië in 2014, toe ek as Springbok-kaptein saam met my kinders kon opdraf en familielede daar kon hê. Dit was regtig die perfekte dag met alles waarvoor ek lief was saam op een dag.

Die toets teen die All Blacks in 2005 was ook spesiaal, want jy droom om vir Suid-Afrika te speel en veral teen hulle. Ek kon dit op Nuweland ervaar.

Die dae toe daar staanplek-kaartjies om die stadion en kinderkaartjies voor was, het ’n ongelooflike gees geskep. Om te sien hoe mense uit verskillende kulture bymekaar kom en dieselfde ding ondersteun, is spesiaal.

Die omgewing en gees was uniek. Dis hartseer dat dit verlore gaan, maar dis op die ou einde die mense wat dit spesiaal maak. Hopelik skuif die mense saam na die nuwe stadion toe en skep ook daar iets spesiaal.

CORNÉ KRIGE (74 wedstryde vir die WP van 1996-2004 en 56 vir die Stormers van 1999-2004):

Vir Corné Krige was die lig van die Curriebeker op Nuweland as kaptein in 2001 ’n groot hoogtepunt. Foto: Gallo Images

Wat Nuweland spesiaal maak, is hoe naby die mense aan die veld is. Dit was tasbaar. Jy kan alles hoor wat hulle sê. In die moderne stadions sit almal verder weg.

Dit is nie die stadion as sulks wat Nuweland spesiaal maak nie, maar die mense. Die stoere WP-ondersteuners het dit oor die jare heen ’n spesiale plek gemaak en ook ’n moeilike stadion vir oorsese spanne om in te speel. Dis hartseer dat dit nie vir die laaste wedstryd volgepak gaan wees nie.

Die Curriebeker-eindstryd wat ons in 2001 gewen het en my eerste toets daar, teen Wallis, is besonderse herinneringe as ’n speler.

KEITH ANDREWS (147 wedstryde vir die WP van 1985-1997):

Keith Andrews is dankbaar vir die vele seisoene wat hy op Nuweland kon opdraf in die kleure van die WP, maar as Springbok het hy ongelukkig nie daar ’n draai gemaak nie. Foto: Gallo Images

As ’n jong speler droom jy daarvan om in ’n ikoniese stadion te speel. Ek was gelukkig om aan die Universiteit van Kaapstad te kon studeer en reeds vir die WP se o.20-span daar te speel. Ek is toe in 1981 afgestuur vir ’n duikslag op Chris Smit, wat omtrent vyf minute laat was!

As ’n speler vergeet jy nie daardie reuk van die brouery van oorkant die pad nie.

Die meer as 140 wedstryde wat ek vir die WP op daardie heilige grond gespeel het, was ’n seën en is iets wat oudspelers altyd sal waardeer.

Ek was gelukkig om in 1986 se Curriebeker-eindstryd teen Transvaal te speel toe Goggie van Heerden daardie drieë gedruk het. Ná die tweede een het ’n fotograaf op ’n manier op die veld gekom en het ek, Bill Nieuwoudt en Schalk Burger vir ’n foto geposeer nog voordat die wedstryd verby was. Dit was wonderlike herinneringe.

Vir my laaste wedstryd vir die WP was ek op die plaasvervangersbank in 1997 se Curriebeker-eindstryd toe ons die Vrystaat geklop het. Dit was die afsluiting van ’n hoofstuk van 12 jaar.

Meer oor:  Schalk Burger  |  Corne Krige  |  Jean De Villiers  |  Westelike Provinsie  |  Kaapstad  |  Nuweland  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.