Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nuweland-drama: Hiér’s wat Zelt wil hê

Die WP-president, Zelt Marais, se aandrang dat Investec ’n inkomstestroom vir sy unie waarborg, het daartoe gelei dat onderhandelinge oor Nuweland se herontwikkeling die afgelope week dramaties in duie gestort het.

As die transaksie met die bankreus deur die mat val, kan die WP met skuld van meer as R100 miljoen sit.

Zelt Marais

Die skielike bedanking van die WP-raadslid Kevin Kiewitz, wat nou by die transaksie betrokke was, volg op Marais se eis dat die ooreenkoms ’n “gemaksklousule” moet bevat wat jaarlikse inkomste uit die beplande 99-jaar-huurkontrak en gepaardgaande herontwikkeling sal waarborg.

Marais wil daarmee keer dat die WP binne ’n paar jaar weer in dieselfde geldnood sit, het Rapport betroubaar verneem.

Volgens ingeligtes het Marais die moontlikheid van so ’n waarborg reeds verlede jaar aangeroer. Hy het aanvanklik geweier om die ooreenkoms met Investec te aanvaar as dit nie gedoen word nie. Onder druk van Kiewitz en die res van die WP-bestuur het hy uiteindelik wel die memorandum van voorneme – wat die ooreenkoms bekragtig – aanvaar.

Paul Zacks, gewese uitvoerende hoof van die WP, was die argitek van die ooreenkoms.

Die finale ooreenkoms moes begin Junie geteken word, maar Marais skop vas.

Volgens Rapport se inligting wou Kiewitz later sy bedanking terugtrek nadat mede-direkteure van die sakevleuel hom oorreed het om in sy pos aan te bly, maar Marais het geweier.

Die ooreenkoms bepaal dat Investec R110 miljoen betaal vir die reg om Nuweland te herontwikkel. Daarby is die WP geregtig op ’n 5%-aandeel in enige moontlike wins uit die ontwikkeling wat ’n woon- en kleinhandelkompleks insluit.

Marais wil hê die inkomste moet gewaarborg word en nie afhang van die winsgewendheid van Investec se planne nie.

Investec het reeds R50 miljoen aan WP oorbetaal. As die ooreenkoms skipbreuk ly, sal WP dit moet terugbetaal.

Die unie skuld reeds R58 miljoen aan Remgro en sou die Investec-ooreenkoms gebruik het om dit te delg. Indien die skuld nie afbetaal word nie, sal Remgro by magte wees om op die unie se bates beslag te lê, waaronder die Nuweland-stadion.

Volgens Rapport se inligting is die stadion gewaardeer op R350 miljoen, maar R110 miljoen “was die beste wat WP in daardie stadium kon kry.”

Aangesien Investec die slopingskoste van R50 miljoen sal dra, “is dit regtig nie ’n slegte ooreenkoms nie,” het een ingeligte gesê.

Marais het gister gesê hy word tans deur streng vertroulikheidsreëls gebind, maar sal moontlik later kommentaar kan lewer.

“WP Rugby onderskryf wêreldwye etiese standaarde, en daarom vertrou ek dat geen misleidende of vreesinligting gepubliseer sal word nie.”

Kiewitz wou nie kommentaar lewer nie.

’n Woordvoerder vir Investec het bevestig die onderhandelinge het ’n dooiepunt bereik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.