Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nuweland: ‘Ons veg teen wit kapitaal’

Die geveg oor Nuweland se toekoms het ’n rassekinkel gekry met lede van WP-klubs wat bearbei word om “swart rugby” uit die hande van “wit kapitaal” te hou.

Rapport het by drie stemgeregtigde klubs bevestig dat hulle dié WhatsApp-boodskap ontvang het. Die WPRU se hoofraad moet vandeesweek stem oor die moontlikheid om Investec se beplande herontwikkeling van Nuweland nek om te draai en eerder ’n lening van ’n ander maatskappy te aanvaar.

Nuweland: die middelpunt van die stryd. Foto: Gallo

Die boodskap, wat nie onderteken is nie, lui: “Daar is ’n handvol mense wat probeer swart rugby kaap en beheer aan wit kapitaal oorhandig.”

In die WhatsApp-boodskap word gesê dat die WP-president, Zelt Marais, en sy uitvoerende komitee veg om beheer van swart rugby in die provinsie te behou” en die “massas voel dat die president en sy uitvoerende komitee gedurig teen sy adjunk en visepresident veg asook die ‘mees snr’ ” om beheer van die unie.

Volgens Rapport se inligting verwys dit na Moneeb Levy, Spencer King en Pieter Jooste.

Klubverteenwoordigers met wie Rapport gepraat het, het gesê hulle word ook aangemoedig om op ’n afsonderlike WhatsApp-groep te koukus om “strategie te bespreek”.

Marais het hom gister by navraag van die boodskap gedistansieer.

“Ek dra geen kennis van dié boodskap nie. Ek het dit vir die eerste keer gesien toe jy dit met my gedeel het.

“WP Rugby is ’n organisasie van gelyke geleenthede en distansieer hom van alle vorme van diskriminasie.”

Die WP het reeds ’n memorandum van voorneme met Investec onderteken, wat behels dat die bankreus R110 miljoen betaal vir die reg om Nuweland te herontwikkel. WP sou ook deel in enige moontlike wins uit die ontwikkeling. Marais het gister aan Rapport gesê dié ooreenkoms het op1 Junie verstryk.

Hy het in ’n brief aan die WP-klubs verwys na die feit dat Investec vir Remgro “laat weet het die ooreenkoms het verval en dus is alle gelde nou betaalbaar”.

’n Woordvoerder van Investec het gesê hulle stem nie saam met die WPRU se stellings nie en “behou hul regte voor”.

Volgens die oorspronklike ooreenkoms sou die Investec-geld gebruik word om WP se skuld aan Remgro, wat R58 miljoen beloop, af te betaal.

Marais hoop om ’n leningsooreenkoms met die maatskappy Anyside Investments aan te gaan. Hy wil hiermee die Remgro-skuld terugbetaal asook ’n voorskot van R50 miljoen wat die WPRU reeds van Investec ontvang het.

Die voorstel om Investec vir Anyside te verruil, sal waarskynlik ’n warm debat op Donderdag se vergadering van die WP-klubs afgee.

“Dit is soos om een kredietkaart te gebruik om ’n ander af te betaal,” het een ingeligte aan Rapport gesê. “Dis malligheid.”

Sowel Marais as Zane de Decker van Anyside Investments wou nie die bepalings van die beplande lening aan Rapport bekend maak nie.

Investec sou ook die slopingskoste van R50 miljoen dra, asook die herontwikkelingskoste, wat tussen R1 miljard en R2 miljard sal beloop totdat inkomste gegenereer word.

Marais sê hy tree op in belang van die klubs en die gemeenskap wat deur die WPRU gedien word. “Dit sluit in hoe ons ons bates verantwoordelik bestuur. Ek was baie versigtig om te verseker dat al ons werk gerig is op ’n volhoubare en langtermyntoekoms vir Westelike Provinsie Rugby en dat dit met die nodige omsigtigheid en binne die grense van ons kontraktuele verpligtinge gedoen word.”

De Decker het gesê dit is voortydig vir hom om kommentaar te lewer.

Meer oor:  Investec  |  Westelike Provinsie Rugbyunie  |  Wpru  |  Zelt Marais  |  Nuweland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.