Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Skuif na Groenpunt dié week aangekondig
Bokke t. Rose: Nuweland se laaste toets

Nuweland sal Saterdag vir die heel laaste keer ’n rugbytoets aanbied. Die Springbokke en Engeland sal die twee laaste toetsspanne wees wat op dié ou en tradisieryke Kaapse veld te speel.

Die geskiedkundige Nuweland-stadion in Kaapstad. Die eerste toets op dié veld was in 1891 toe Suid-Afrika teen die Britse Leeus gespeel het. Foto: Gallo Images

Nuweland gaan sy deure sluit en die Kaapstad-stadion sal die nuwe tuiste van toetsrugby in die Wes-Kaap word.

Die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) se onderhandelings met die Kaapstad-metro oor ’n skuif na die Kaapstad-stadion is in ’n finale stadium. Rapport het by vier onberispelike bronne verneem ’n gesamentlike aankondiging deur die twee partye word voor Saterdag se derde toets in die Kaap beplan.

Die WPRU sal die tydsberekening van die skuif verwelkom.

Hy skuld die beleggingsmaatskappy Remgro sowat R44 miljoen. As eienaar van Nuweland sal die WPRU met dié skuif die stadion in kantoorruimtes vir verhuring kan omskep of selfs verkoop as ’n laaste uitweg om sy netelige finansiële posisie te verlig.

66%: Die Bokke se wenrekord op Nuweland. Suid-Afrika het 35 gewen, twee was gelykop en die Bokke het 16 verloor.

Remgro het die week aan Netwerk24 gesê hy gaan sy geld op elke wetlike manier moontlik by die WPRU verhaal as beloftes om sekuriteit vir die lenings te verskaf nie nagekom word nie.

Die maatskappy se prokureurs het ’n aanmaningsbrief aan die WPRU gestuur nadat die unie nie sekuriteit aan Remgro kon verskaf vir die geld wat einde 2016 geleen is nie.

Nuweland word as een van die eiendomme genoem waarop die WPRU ’n verband kan registreer om sekuriteit te verskaf. Die velde by Brookside en Oranjezicht is die ander eiendomme.

Rapport verneem een van die belangrikste besluite wat voor volgende week se beplande aankondiging oor die skuif na Groenpunt geneem moet word, is wanneer dit sal plaasvind.

Die verskuiwing word al jare bespreek. Nuweland raak toenemend afgeleef en kos die WPRU miljoene rande om te onderhou en te verbeter.

Nuweland was onder meer weens veiligheidsredes nie deel van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se onsuksesvolle bod vir die aanbied van 2023 se Wêreldbekertoernooi nie.

In 2009 was Nuweland ook nie as groot genoeg geag vir ’n kragmeting tussen die Bokke en die Britse en Ierse Leeus nie.

Ofskoon die skuif kritiek sal ontlok en selfs as ’n tragedie deur stoere ondersteuners en oudspelers beskou kan word, bied die Kaapstad-stadion aan toeskouers ’n goeie kykervaring.

Saterdag se toets sal die 55ste op Nuweland wees.

Meer oor:  Kaapstad-Stadion  |  Nuweland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.