Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nuweland se triomf ekstra soet vir Smith

’n Nuwe Bulle-kultuur, desperaatheid en ’n onwrikbare begeerte om te wen.

Dit is volgens Chris Smith (26), losskakel van die Bulle, die faktore wat hulle gehelp het om Saterdag op Nuweland met 14 spelers teen die Westelike Provinsie in die Curriebeker-kompetisie te seëvier.

Chris Smith, losskakel van die Bulle, skiet Saterdag teen die Westelike Provinsie deur ’n gaping op Nuweland. Foto: Gallo Images

Moet ook nie vergeet van daardie doelskop in die 77ste minuut, wat tussendeur die pale getrek het om die oorwinning van 22-20 te verseël nie.

Asof Smith nie reeds genoeg druk gehad het om hom in Morné Steyn se afwesigheid te bewys nie, moes hy dié belangrike stelskop teenaan die kantlyn trotseer.

Toe hy verlede maand in Bloemfontein in ’n soortgelyke situasie was – om die Bulle teen die Cheetahs te laat gelykop speel in die Superreeks Unlocked – het hy die bal skeef getrek.

“Ek kan nie regtig sê presies waaraan ek gedink het nie. “Dit was ’n blur. Dit het gehelp dat ek goed geskop het in die kapteinsoefening en voor die wedstryd.

Jy wil graag goed vaar in daardie belangrike oomblikke.

“Dit is die ou cliché, ek het gehou by die proses.

“Ná wat in Bloemfontein gebeur het, was ek baie dankbaar dit het nie weer gebeur nie.

“Jy wil graag goed vaar in daardie belangrike oomblikke.

“Die gesprek wat coach Jake (White) voor die wedstryd met my gehad het, het my ook baie selfvertroue gegee.”

Smith sê die Bulle het, ná die stut Jacques van Rooyen kort ná rustyd in ’n rooikaart vasgekyk het vir ’n gevaarlike duikslag, enduit die begeerte gehad om te wen.

“Ons speel en gee om vir mekaar en dit is waarskynlik die nuwe kultuur by die Bulle wat ons gehelp het.”

Vir Smith, wat ’n klipgooi van Nuweland af by SACS op die skoolbanke gesit het, was die sege ’n ekstra soet affêre.

Hy het nie die Westelike Provinsie se Cravenweekspan gehaal of ná skool ’n kontrak of beurs gekry nie.

Dit het meegebring dat hy in 2013 lugverkoeling geïnstalleer en in sy aftyd alleen geoefen het.

Smith het wel later die jaar vir die Streeptruie se o.19-span gespeel toe ’n paar van die losskakels by die WP se akademie beseer is.

Daarna het hy vyf jaar lank vir die Maties gespeel, waarvan hy in vier seisoene grotendeels ’n plaasvervanger was.

Die harde werk en geduld was alles die moeite werd, want Smith sê hy is baie bevoorreg dat sy rugbypaadjie na Loftus Versfeld gelei het.

Veral omdat hy ’n mentor soos Morné Steyn het.

“Morné speel ongelooflike rugby en is nou waarskynlik die voorste losskakel (in die land).”

“Dit sal dom wees van my as ek nie die geleentheid aangryp om by hom te leer nie.

“Hy het my onder sy vlerk geneem en ek is baie gelukkig om hom as ’n mentor te hê. Ek probeer om elke dag soveel moontlik in te neem.

“Morné is ’n Springbok-legende en ’n nog groter legende van die veld af.”

• Die Bulle is intussen hoopvol dat die omstrede rooikaart wat Van Rooyen gekry het, genoegsame straf sal wees en hy nie Saterdag se wedstryd teen die Cheetahs in Pretoria sal misloop nie.

Hy het Dinsdag om 10:00 die kans om sy saak te stel wanneer hy virtueel voor ’n tugkomitee van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie verskyn.

Meer oor:  Chris Smith  |  Wp  |  Bulle  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.