Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
NWU net-net moedige Ixias se baas

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het bloed gesweet om die Ixias Dinsdag te klop en sodoende sy plek in die halfeindstryd van die Varsitybeker-rugbyreeks te bespreek.

Die Potchefstromers het met 35-32 in Pretoria gewen en kom nou Vrydag in hul halfeindstryd teen die Ikeys te staan. Tukkies en die Maties is in die ander halfeind slaags.

Jeandré Leonard, slot van die NWU, duik oor vir een van sy twee drieë. Foto: Varsity Cup/Catherine Kotzé

Vir die grootste gedeelte van die seisoen was die Bloemfonteiners baas in die skrums en met rolmaalbewegings. Dinsdag was dit aanvanklik weer die geval.

Die Ixias het die wedstryd teen ’n hewige tempo afgesit. Hulle het die NWU voos geduik, stewig geskrum en vol planne op die aanval gelyk.

Teen die 23ste minuut het hulle reeds twee drieë, deur Brendon Fortuin (slot) en Janus Venter (haker), gedruk. Teen daardie tyd was die telling 15-3.

Maar toe begin NWU stewig in skrums te staan en met Riaan Genis (skrumskakel) aan die spits gate in die Ixias se verdediging te vind. Die gevolg was twee drieë deur die slot Jeandré Leonard.

Die Ixias se dissipline het hulle ook in die steek gelaat. Ontoelaatbare duikslae en onkantspel aan die kant van die Ixias, het NWU se losskakel, Nivan Petersen, met sy skopvoet uitgebuit.

Teen rustyd was die telling 25-15 in die Noordwesters se guns. Hulle het in die minute voor rustyd duidelik oorgeloop van selfvertroue.

In die tweede helfte het die Ixias aanvanklik baie planne gehad, met Cohen Jasper (heelagter) wat een keer so byna deurgeglip het om te gaan druk.

Jy gaan nêrens! Cohen Jasper, heelagter van die Ixias, word Dinsdag beetgekry deur ’n Potchefstromer. Foto: Varsity Cup/Catherine Kotzé

Heino Bezuidenhout (senter) het wel die eerste punte van die tweede helfte aangeteken toe hy vir die Ixias gaan druk het.

Die Potchefstromers het ’n paar keer goed gedoen om die Ixias se rolmaalbewegings te stop – wat die Bloemfonteiners onder druk geplaas het. En die Ixias net meer foute laat maak het.

Toe Ruben Dreyer (flank) in die 58ste minuut vir die NWU oorduik en Petersen twee punte met ’n doelskop byvoeg om dit 32-20 te maak, was dit duidelik dat net ’n wonderwerk die Ixias sal red.

Teen die einde het die Ixias wel die NWU weer opgedreun in die skrums. Dit het gelyk asof hulle kan wen nadat Venter sy tweede en Xander Botha (plaasvervanger-skrumskakel) gaan druk het.

Maar dit was net een trappie te ver vir die Ixias, met die Potchefstromers wat teen die einde vasgebyt het.

Puntemakers:

NWU 35 (25): Drieë: Jeandré Leonard, Leonard (sewepunt-drie), Ruben Dreyer. Doelskoppe: Nivan Petersen (3). Strafdoele: Petersen (4).

Ixias 32 (15): Drieë: Brendon Fortuin, Janus Venter (2), Heino Bezuidenhout, Xander Botha. Doelskoppe: Charles Williams (2). Strafdoel: Williams.

Meer oor:  Varsitybeker  |  Ixias  |  Nwu  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.