Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
NWU steeds op koers vir halfeind

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het Sondag met ’n bonuspunt-oorwinning in Pretoria nog ’n tree nader gegee aan ’n plek in die uitspeelrondes van die Varsitybeker-rugbyreeks.

Die Potchefstromers het vyf drieë gedruk om die Universiteit van Johannesburg (UJ) met 33-29 in Pretoria te klop – maar dit het bloedsweet gekos.

Pienaar van Niekerk, heelagter van die NWU, druk Sondag sy span se eerste drie in Pretoria. Foto: Varsity Cup | Catherine Kotzé

Die wenspan bevind hom nou met 26 punte vierde op die punteleer.

Vroeg in die wedstryd het die NWU gesukkel in die skrums, maar daarna het sake verander. Die wenspan was dominerend in die vaste fasette. Dit het balbesit vir die agterlyn verseker, wat gevolglik die Johannesburgers se verdediging onder druk geplaas het.

Wanneer ’n span dan boonop, soos die Noordwesters, boer in die ander span se helfte van die veld, is dit net ’n kwessie van tyd voordat die telbord oortyd werk – wat in die eerste helfte die geval was.

Vir die wenspan het André Fouché (agtsteman), Charl Pretorius (vleuel) en Meyer Kriel (senter) uitgeblink met die bal in die hand.

Tog was dit nie ’n foutlose vertoning deur die wenspan nie. Daar was ’n paar hanteerfoute en balbesit wat verlore gegaan het. Boonop het ’n speler soos UJ se Prince Nkabinde (vleuel) in die tweede helfte ’n paar keer gate in die Potchefstromers se verdediging gevind.

Laat in die wedstryd het dit boonop gelyk of die Johannesburgers teen die verwagting in gaan wen. Hulle het immers in die 62ste minuut die voortou (29-28) geneem.

Maar geelkaarte vir Nkosikhona Masuku (plaasvervanger-stut) en Lunga Ncube (slot) laat in die wedstryd het UJ se kans om te verras in die wiele gery.

Vir die Noordwesters is die belangrikste dat hulle vyf punte uit die wedstryd gekry het.

Puntemakers: NWU 33 (23): Drieë: Pienaar van Niekerk (2), Charl Pretorius, Sylvester Hassien (sewepunt-drie), Gustav du Rand. Doelskoppe: Nivan Petersen, Marco Donges (2).

UJ 29 (8): Drieë: Prince Nkabinde, Indiphile Tyeda, Nkabinde (sewepunt-drie), Jurich Claasens. Doelskoppe: Claasens (2). Strafdoel: Tyeda.

• In nog ’n wedstryd het die Ikeys verseker dat hulle boaan die punteleer eindig deur die Madibaz met 34-23 in hul laaste wedstryd voor die halfeindstryd te klop. Die Kapenaars se teenstander in die uitspeelronde sal die NWU of Ixias wees.

Dié twee spanne is Dinsdag slaags.

Meer oor:  Varsitybeker  |  Uj  |  Madibaz  |  Ikeys  |  Nwu  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.