Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
O’Connor ‘kies’ homself vir Poema-stryd

Die Wallaby-losskakel James O’Connor het homself fiks verklaar vir sy span se laaste kragmeting in die Drienasies-rugbyreeks, nadat hy weens skete en kwale Australië se ander wedstryde in die reeks misgeloop het.

O’Connor (30), wat herstel het van ’n knie- en voetbesering, hoop om die Aussies se nr. 10-trui te dra wanneer hulle Saterdag teen Argentinië in Sydney te staan kom.

James O’Connor het homself fiks verklaar vir sy span se laaste kragmeting in die Drienasies-reeks. Foto: Getty Images

Die kanse lyk skraal dat die Wallabies, wat derde op die puntelys is, die Poemas met 101 punte sal klop om sodoende die titel voor die All Blacks se neus weg te raap.

Tog hoop O’Connor om die tuisspan te help om sy seisoen op ’n hoogtepunt af te sluit.

“Dit is ’n bietjie frustrerend, maar ervaring het my al geleer dat jy nie bloed uit ’n klip kan tap nie. Ek is nou in ’n posisie waar ek voel dat ek ’n bydrae kan lewer,” sê O’Connor.

Sy terugkeer sal waardevolle ervaring vir die Wallabies beteken, met die veelsydige Reece Hodge wat in die laaste twee wedstryde losskakel gespeel het.

Terwyl Hodge instrumenteel was in die Aussies se sege met 24-22 oor die All Blacks in Brisbane, het Dave Rennie, afrigter, gal gebraak ná die Wallabies se laaste kragmeting.

Toe het die Wallabies weens swak wedstrydbestuur ’n voorsprong van 15-6 oor die Poemas laat glip, vir die wedstryd om met 15-elk gelykop te eindig.

“Hodgy het hom goed van sy taak gekwyt, en soos jy weet kan hy in enige posisie speel. Ek is nie ’n keurder nie, maar ek dink hy verdien regtig om iewers te speel,” sê O’Connor.

“Maar in dieselfde asem het ons regtig ’n baie goeie senterkombinasie (Hunter Paisami en Jordan Petaia), wat baie goed doen, net soos ons agterste-driehoek (Tom Banks, Tom Wright en Marika Koroibete). So dit is ’n moeilike besluit.”

Hoewel dit onrealisties is dat die Wallabies met ’n kriekettelling vorendag kom om die reeks te beklink, voel O’Connor dat dit belangrik is om die seisoen, Rennie se eerste as hoofafrigter, op ’n hoogtepunt af te sluit.

“Dit gaan nie net daaroor om die veldtog goed af te sluit nie, maar ook om ons op die voorvoet vir volgende jaar te kry.” – Reuters

Meer oor:  Argentinië  |  Drienasies  |  Wallabies  |  Poemas  |  Australië  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.