Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dié Britse Leeus-agterlyn kan Bokke pak

Die Britse en Ierse Leeus sal steeds swaar sluk aan sy reeks-nederlaag in 2009 toe hy in Suid-Afrika getoer het met dié span wat in 2021 na verwagting sal terugkeer na die suidpunt van Afrika. Een van die span se uitskieters gedurende daardie reeks, die voormalige buitesenter en Ier Brian O’Driscoll, glo hy weet wie die agterlyn is wat moontlik volgende jaar die Springbokke se doppie kan klink.

Brian O’Driscoll in sy speeldae vir Ierland in 2014.Foto: Getty Images

Die reeks in 2009, wat Suid-Afrika met 2-1 beklink het ná Jaque Fourie se dramatiese drie en Morné Steyn se deurslaggewende strafskop in die tweede toets op Loftus Versveld, is tog die laaste keer wat die Britse en Ierse Leeus ’n reeks verloor het.

In 2013 het hy die reeks teen Australië met 2-1 gewen, waarna hy in 2017 met 1-1 die louere gedeel het teen die All Blacks in Nieu-Seeland met die derde en beslissende toets wat op ’n 15-elk-gelykoptelling uitgespeel het.

O’Driscoll glo sy agterlyn kan die Britse en Ierse Leeus genoeg skietgoed gee om die Springbokke te troef in die twee spanne se reeks wat in dié stadium nog vir volgende jaar geskeduleer is.

Die Ier het luidens The Telegraph die Skotse heelagter Stuart Hogg gekies om die laaste vesting te beman, met die Engelse duo van Anthony Watson en Jonny May op vleuel.

Oor Hogg sê hy dat die heelagter se ervaring nou in sy guns gaan begin tel.

“Hy is op pad na sy beste jare, waar hy volgende maand 28 word. Hy was op vorige toere baie ongelukkig, veral in 2017 toe hy beseer is,” het O’Driscoll gesê.

Sy twee spoedvrate beteken dat hy nie plek in sy span het vir Wallis se Josh Adams, wat die voorste driedrukker op verlede jaar se Wêreldbeker-rugbytoernooi in Japan was nie.

“Josh Adams is ook iemand wat oorweeg kan word as een van die vleuels, maar May moet een van die spelers in wêreldrugby wees wat die meeste verbeter het,” het O’Driscoll verder gesê.

“Sy basiese vaardighede toon geen einde nie met sy vermoë om die bal agterna te sit terwyl dit nog in die lug is. Dan, vanweë sy spoed, kan hy spelers een-tot-een klop.”

In die middelveld sal hy op die knoppies van Manu Tuilagi (Engeland) en Garry Ringrose (Ierland) druk.

Hy glo egter dat Owen Farrell, wat in die eindstryd van verlede jaar se Wêreldbeker-toernooi op binnesenter uitgedraf het, eerder op sy eerstekeuse-posisie moet uitdraf op losskakel.

Die enigste Walliese speler in sy agterlyn sal Tomos Williams van die Cardiff Blues wees wat die oond moet skoonmaak.

Skrumskakel is egter die een posies waar hy glo die deur oop is vir talle name.

“Ek weet nie wie as nommer nege gaan speel nie en dit is oop . . . Maar ek gaan vir Williams kies.

“Ek het regtig gedink dat hy ’n uitstekende Wêreldbeker beleef het. Dit het wel nie vir hom uitgewerk in die wedstryd teen Engeland by Twickenham (gedurende die Sesnasies-reeks) nie, voordat hy die grondslag vir Justin Tipuric se drie gelê het.

“Ek dink steeds hy is ’n baie, baie goeie speler,” het O’Driscoll bygevoeg.

Die Britse en Ierse Leeus sal die Springbokke eers op 24 Julie in Johannesburg in die FNB-stadion pak, met die tweede toets wat ’n week later in Kaapstad sal plaasvind, met Ellispark wat die derde toets op 7 Augustus sal aanbied.

Die besoekers sal hul toer teen die Stormers op 3 Julie begin, met wedstryde teen die Haaie, Bulle, asook ’n Suid-Afrikaanse uitnodigingspan en ’n Suid-Afrikaanse A-span, wat wag. – Sportredaksie

Meer oor:  Brian O'driscoll  |  Springbokke  |  Ierland  |  Engeland  |  Britse En Ierse Leeu-Toer  |  Skotland  |  Wallis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.