Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Olënpark: Nog ene vir die begraafplaas

Die Olënpark-stadion is dalk oud en afgeleef, maar niemand sal die diep spore wat die afgelope 98 jaar daar gelaat is, kan uitwis nie.

As die mure kon praat . . . Die eina-klein kleedkamer van Olënpark sou oor die jare baie trane en feesvieringe gesien het. Foto: Gallo Images

Ja, nog ene vir die rugby-begraafplaas, saam met die vergane PAM Brink-stadion in Springs, die Boet Erasmus-stadion in Port Elizabeth en die Bob van Reenen-stadion in Krugersdorp, daar waar die ryke tradisies tussen die bossies en murasies begrawe sal word.

Dit kom nadat die Luiperds Rugbyunie vroeër vandeesweek aangekondig het dat hy weens die finansiële knyptang nie meer die stadion in stand kan hou nie en sy tuiswedstryde voortaan op ander dorpe en by die Fanie du Toit-sportkompleks op die Puk-kampus sal speel, want dit sal miljoene kos om Olënpark se uitgediende paviljoene op te knap.

Boonop het die Potchefstroomse stadsraad, waaraan die stadion behoort, die afgelope twee jaar nie ’n finansiële bydrae gelewer nie terwyl die Luiperds ook die gerief byna kosteloos met die Jomo Cosmos-sokkerspan moes deel.

Olënpark, wat genoem is na Carl Ludwig Theodor Olën, die president van die Wes-Transvaalse Rugbyunie tussen 1922 en 1934, het in 1920 uit ’n sinkgeboutjie bestaan wat as gesamentlike kleedkamer gedien het.

’n Lugfoto van Olënpark in die 1970’s.

Die Koos Pretorius-paviljoen is kort voor die besoek van Sam Walker se Britse Leeus-toerspan in 1938 opgerig wat sitplek aan 1 800 toeskouers bied. Nog 9 500 sitplekke is in 1958 voor die besoek van die Britse Barbarians aangebring en spreiligte is in 1967 opgerig.

Hoewel toerspanne dit gehaat het om op ’n klipharde Olënpark teen die ewe klipharde Mielieboere op ’n yskoue wintersmiddag te speel, het hulle almal met nostalgie na dié tradisieryke besoek verwys.

Vir ’n rugbyskrywer was Olënpark, net soos die ou Loftus en Landsdowne Road in Dublin, ’n kroonjuweel, met sy lae, donker dak, rye en rye staal- en houtsitplekke en die klein telbord aan die oorkant van die veld.

Hier kon jy rugby ruik, jy kon dit aanvoel.

En, o ja, voordat ek vergeet, wat die Weste betref, dra altyd ’n das en baadjie en moenie aan die verkeerde kant van die Pous beland nie.

Ek onthou die oggend in 1981 nog goed toe Die Vaderland se destydse assistent-sportredakteur, Antonie Richards, my ingeroep het en gesê het: “Van nou af doen jy verslag oor Wes-Transvaalse rugby.”

Hy het my raad oor vier dinge gegee: “Breek altyd die rit na Potchefstroom op in twee (hoewel dit skaars 100 km ver was). Stop by die Kraalkop-hotel aan die linkerkant van die pad vir iets te ete en drinke, want die pad kan maar rof raak. Dan moet jy vir my 2 kg wors by die slaghuis net ’n paar kilometer anderkant Kraalkop aan die regterkant van die pad koop.

“En, o ja, voordat ek vergeet, wat die Weste betref, dra altyd ’n das en baadjie en moenie aan die verkeerde kant van die Pous (die bynaam van prof. Johan Claassen, die unie-president, oud-Bokafrigter en Springbokslot) beland nie.”

Alles het waar geword.

Kraalkop se hamburgers was van die beste, die oopswaaideure soos reg uit ’n cowboyfliek en dan die naamborde: “Reg van toegang voorbehou”, “Stiptelik geen oorpakke nie” en “Geen harde musiek ná tienuur nie,” sal my ewig bybly.

Op sy dag het Olënpark gasheer gespeel vir etlike gróót spanne. Onder meer het die All Blacks in 1976 daar besoek afgelê en die Britse Leeus in 1980.

Om by Olënpark se persbank uit te kom, moes jy onderdeur die paviljoen stap, verby die kleedkamer.

Die reuk van Deep Heat, die stoom teen die ruite en die kapteins wat skree: “Kom nou, boys, kom ons vat hulle,” was soos manna uit die hemel.

Olënpark se persbank was tussen die toeskouers. Al verskil was dat jy ’n blad voor jou gehad het waarop jy jou aantekeninge kon maak. Daar was altyd ’n beterweterige toeskouer wat na jou geloer het en ’n flouerige grappie gemaak het.

Skuins voor jou het die seisoenkaartjiehouers gesit, die legendes van Wes-Transvaalse rugby, soos die Tromp-gesin: oom Jan Tromp, Mevrou Tromp, oom Jan se broer Niek Tromp, Kleinjan Tromp (hy was toe nog op skool) en die ander broers en susters. Hulle het jou almal ’n stewige handdruk gegee en die kinders het jou as “Oom” aangespreek, terwyl jy eintlik nog nat agter die ore was.

Daar was baie talentvolle spelers soos Wessel van der Merwe, James Stoffberg, Zillen Roos, André Homan, Tjaart Marais, Eugene Hare, Robert du Preez, Gert Smal, André Markgraaff, Kobus Wiese, Duitser Bosman, André May, Flippie van der Merwe en Jan Geldenhuys. ’n Hele paar het Springbokke geword, meer moes.

Rugby-onthale op Olënpark was iets om te beleef.

Die bekende Claassen-broers, (van links) Johan, Wilhelm en Ernest. Johan het later jare as die Pous bekend gestaan en was Wes-Transvaal se unie-president en ’n Springbok-afrigter.

Daar het jy jou vasgeloop in die drie Claassen-broers, professor Johan, Wilhelm en Ernst, wat saam in meer as 100 wedstryde vir die Luiperds gespeel het.

Ook in karakters soos Ghriespomp van der Merwe.

Op die gedekte tafels was daar heerlike, varsgemaakte frikkadelle, worsies, sosaties, gevulde eiers en toebroodjies voordat die toesprake begin het.

Die kosbakke, gewoonlik lasagne, tong met ’n soetsuur-mosterdsous, hoender á la king en ’n mengelslaai, was met foelie toegemaak totdat professor Claassen, die twee afrigters en twee kapteins klaar toesprake afgesteek het.

En dan, die heel grootste oomblik, wanneer die seremoniemeester die teken gegee het vir die foelie om verwyder te word en vir die kroeg om oopgemaak te word.

En nou?

Meer oor:  Luiperds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.