Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Om nierstene in Praag te kry nie vir sissies nie

Om nierstene in Praag te kry is nie vir sissies nie. Ook nie om in Sri Lanka eenvoudig by ’n hospitaal te probeer uitkom nie.

Vra maar vir Phil Pretorius, wat in dié, en verskeie ander lande, rugby afgerig het.

’n Onlangse rugbywedstryd tussen die weermag en Colombo in Sri Lanka. Phil Pretorius het die vloot se span daar afgerig. Foto: Sri Lanka Rugby webwerf

“Dit kan in ’n nagmerrie ontaard as jy in die buiteland siek word. Ek lees die berigte van Suid-Afrikaners wat oorsee (weens die Covid-19-pandemie) gestrand is. My gebede is met hulle, want in tye van nood en siekte wil jy saam met jou familie in jou eie land wees,” sê Pretorius.

Hy bevind hom tans in Stellenbosch waar hy konsultasiewerk vir Training Development Consulting International saam met sy broer Marius en dogter Cicil doen.

“Dit behels die oplei van besture met klem op leierskap, konflikhantering, kommunikasie, diversiteit, inklusiwiteit, emosionele intelligensie en besluitneming,” verduidelik Pretorius.

Vir eers skep hy asem van sy rugbyafrigting – ’n werk wat hom na plekke soos Tonga, Sri Lanka, die Tsjeggiese Republiek en Ierland (om net ’n paar te noem) geneem het.

In Suid-Afrika het hy die SA Barbarians, die Bulle, die Valke, die Oostelike Provinsie en die SWD-Arende gebrei.

Phil Pretorius ’n paar jaar gelede saam met Pavel Chaloupka, die president van die Tsjeggiese Republiek se rugbyunie. Dis Chaloupka wat gehelp het dat Pretorius darem behandeling vir sy nierstene in Praag gekry het. Foto: Verskaf

Pretorius ken van rondtrek en hy het uit die aard van die saak baie avonture beleef. Hy moes ook al vinnig planne beraam wanneer hy siek geword het.

“Nierstene is nie jou maat nie. In Praag het dié ongenooide gaste hul opwagting gemaak en is Google nadergeroep om die beste hospitaal vir buitelanders te vind,” sê hy.

“Daar gekom was daar geen ontvangs, niemand wou jou help of enigsins Engels praat nie. Al brakend van die pyn het ek en Carin, my vrou, in die gange afgehardloop op soek na hulp – wat daar nie was nie!”

Hy het eindelik vir Pavel Chaloupka, die president van die Tsjeggiese Rugbyunie, op sy selfoon in die hande gekry.

“Hy praat toe met die deurwag wat die proses aan die gang gesit het. Ter aanvang moes ek sowat R70 000 neersit as deposito voordat ek opgeneem kon word,” sê Pretorius.

“Die uiteinde was ’n inspuiting vir die pyn en ek is huis toe. Baie pynmedikasie, liters water, baie stap, rondspring om die stene af te kry en gebede het my deur dit gedra.”

Sri Lanka is volgens Pretorius ’n wonderlike land, “maar o wee, as jy daar siek word is dit nag”.

“As jy sou siek word is die eerste struikelblok logistiek. Weens die chaotiese paaie en padreëls, wat soos ’n stopstraat geïgnoreer word, is dit bitter moeilik vir buitelanders om daar te bestuur. So ek het ’n bestuurder gehad wat my moes kom haal as ek na enige plek toe wou gaan,” sê Pretorius.

Ek sou inboek vir ’n nag en dan onmiddellik die concierge vra om hul beste dokter te ontbied!

“Ná ’n oproep om my te kom haal het dit enigiets van een tot drie uur geneem, afhangende van die verkeer, om by my uit te kom.”

Volgens Pretorius het die meeste van die buitelandse spelers en afrigters in Colombo in toegangsbeheerde woonstelle gebly.

“Ek het gedink die kwaai beheer was ietwat onnodig. Maar toe sien ons met die reeks aanvalle op Christene en luukse hotelle gedurende Paasfees 2019, waar bykans 300 mense dood is, en die spanning wat daar steeds was ná die burgeroorlog teen die Tamil Tiere, dit was egter ’n wyse stap,” sê hy.

Die dokter en tandarts se spreekkamers in die “spazawinkels” het vir hom bra verdag gelyk.

“Voorsorg is die beste en ek het my planne as volg uitgedink vir as ek sou siek word,” onthou Pretorius.

’n Wedstryd tussen Vyskov en Sparta Praha in die Tsjeggiese Republiek, waar Pretorius ’n paar jaar gelede die land se direkteur van rugby was. Foto: Facebook

“Eerstens sou ek een van die woonstel se veiligheidswagte vra om een van die scooters, waarvan daar letterlik duisende is, te ontbied. Dan sou ek na die sentrale sakekern gaan waar daar uitstekende hotelle is en waar daar orde met die verkeer ook is. Ek sou inboek vir ’n nag en dan onmiddellik die concierge vra om hul beste dokter te ontbied!”

Genadiglik het dit nie tot daar ontwikkel nie.

In die Kaaiman-eilande het Pretorius die “teenpool” beleef.

“Die aantal mediese toetse wat jy moet ondergaan om ’n werkpermit te bekom is iets om te beleef. Dit is nogal senutergend, want jy weet nie waar al jou kwale verskuil is nie. In my geval het een van die X-strale opgetel dat een van die kussings in my rug verbrokkel het,” sê hy.

Pretorius reken dat ’n mens se perspektiewe in tye van nood, soos nou, verander.

“Sport en vermaak en al hul uitblinkers se helder sterre verdof en jou noodwerkers, wat nie altyd die lof kry wat hul verdien nie, tree sterk na vore. Moontlik kan die koronavirus ’n herbesinning bring in die besoldiging van die onderskeie beroepe.”

Meer oor:  Sri Lanka  |  Rugbyafrigter  |  Colombo  |  Tonga  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.