
Die senter Mathieu Bastareaud is Frankryk se kaptein vir sy Sesnasies-wedstryd teen Wallis. Foto: Getty Images
Die omstrede senter Mathieu Bastareaud is Donderdag aangewys as Frankryk se kaptein vir hul Sesnasies-rugbystryd teen Wallis in Cardiff.
Guilhem Guirado, die gereelde kaptein wat in 38 van Frankryk se laaste 44 toetse in die span was, het hom weens ’n kniebesering aan die Hane se span onttrek.
Jacques Brunel, Frankryk se afrigter, het Bastareaud as kaptein gekies ondanks die feit dat hy onlangs ’n skorsing weens homofobiese aanmerkings tydens ’n klubwedstryd uitgedien het.
Dié bielie-senter van Toulon het die wedstryde teen Ierland en Skotland misgeloop nadat hy Sebastian Negri, ’n flank van Treviso, in ’n Europese Kampioenebeker-stryd as ’n “f***ing faggot” uitgekryt het.
Frankryk is vierde op die Sesnasies-reeks se puntelys, een punt agter Wallis, wat in die tweede plek is.
Vier veranderings is aan die Franse span aangebring: Benjamin Fall skuif van vleuel af heelagter toe, Gael Fickou skuif van die plaasvervangersbank af vleuel toe, Adrien Pelissie vervang vir Guirado op haker en Cedate Gomes Sa vervang vir Rabah Slimani op vaskop.
Frankryk is vierde op die Sesnasies-reeks se puntelys, een punt agter Wallis, wat in die tweede plek is.
Ierland, wat vanjaar onoorwonne is, het reeds die titel beklink.
Frankryk se span:
Benjamin Fall, Gael Fickou, Mathieu Bastareaud (k), Geoffrey Doumayrou, Remy Grosso, Francois Trinh-Duc, Maxime Machenaud, Marco Tauleigne, Yacouba Camara, Wenceslas Lauret, Sebastien Vahaamahina, Paul Gabrillagues, Cedate Gomes Sa, Adrien Pelissie, Jefferson Poirot. PLAASVERVANGERS: Camille Chat, Dany Priso, Rabah Slimani, Bernard Le Roux, Mathieu Babillot, Baptiste Couilloud, Lionel Beauxis, Geoffrey Palis.