Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Omstrede beslissings kelder Cheetahs

Die rooikaart wat die Cheetahs se senter Dries Swanepoel teen Connacht gekry het in Saterdag se Pro14-wedstryd in Galway, asook ’n paar beslissings daarna, het die Bloemfonteinse span gesink op pad na hul eerste sege in Ierland.

Die Cheetahs het vir praktiese redes die wedstryd in die sakkie gehad, maar die telbord het ná 86 minute se fisieke rugby ’n ander storie vertel, sê Hawies Fourie, afrigter. Hulle het met 22-24 vasgeval nadat hulle rustyd met 14-5 agter was.

Dries Swanepoel word Saterdag in Galway, Ierland, vir sy gevaarlike duikslag deur Ben Whitehouse met ’n rooikaart van die veld gestuur. Foto: Gallo Images

“Ons het goed genoeg gespeel in die tweede helfte om die wedstryd te wen. Veral met die telling op 22-14 het ek gedink ons het hom in die sakkie, maar die rooikaart en ’n paar beslissings teen die einde het ons beslis (die wedstryd) gekos.

“Dis een van daardie dinge en ’n mens kan dit nie verander nie en dis ongelukkig dat die wedstryd so moes geëindig het,” sê Fourie.

Asof die rooikaart nie erg genoeg is nie, sit Swanepoel boonop nog met ’n hakskeenbesering en daar sal ’n besluit geneem word of hy vervang sal word. Hy verskyn Maandag of Dinsdag voor ’n tugverhoor.

Oor die strafskoppe wat teen die Cheetahs gegaan het ná daardie rooikaart toe Swanepoel met sy kop by ’n losgemaal ’n speler uitgehaal het, wou Fourie by die Walliese skeidsregter, Ben Whitehouse, weet hoekom hy hulle so kwaai gestraf het.

“Ek en Corniel (van Zyl, voorspeler-afrigter) het ná die tyd met die skeidsregter gepraat, daar was ’n paar goed wat ons bevraagteken het.

“Die een was daardie skrum 5 m voor die pale toe ons hulle terug geskrum het – sy verduideliking was dat ons loskopstut (Boan Venter) in geskrum het.

“Ons het hulle reguit geskrum so ek verstaan nie heeltemal nie. Dan was daar voor dit ook ’n dryfmaalbeweging, toe ons hulle gestop en teruggedryf het.

“Volgens my moes hy daar eintlik die eindfluitjie geblaas en bevind het die dryfmaalbeweging op die grond was. Presies dieselfde het voor rustyd gebeur toe ons gedryf het om te probeer druk.

“Toe die beweging grond toe gegaan het, het hy nog vyf of ses sekondes gewag voordat die bal uitgekom het en hulle laat aan speel het en toe die strafskop daarna gegee.

“Ek dink ons was so ’n bietjie ongelukkig met daardie twee beslissings. Verloor is nooit lekker nie, ek haat dit om te verloor en dit was ’n bitter pil om te sluk,” sê die afrigter.

Ox Nche was Saterdag ’n laaste keer vir die Cheetahs in Galway, teen Connacht in aksie. Hy sluit hom in November by die Haaie in Durban aan. Foto: Gallo Images

Dit was juis daardie beslissing wat die Cheetahs rooi laat sien het en net Whitehouse weet hoekom hy die strafskop toegeken het.

“Ek verstaan jou frustrasie en waar ons is in die wedstryd, maar jy kan nié op my skreeu en jou hande so in die lug gooi nie,” was Whitehouse se woorde aan die agtsteman Jasper Wiese.

Dit was duidelik dat die Cheetahs Connacht in trurat gehad het, maar hulle is daarvoor gestraf.

Die Cheetahs se agttal het goed vertoon in die skrums, maar hulle het ’n paar balle in die lynstane verloor. Hulle het egter daarvoor opgemaak deur ’n paar van Connacht se balle by die lynstane te gaps.

Wat die Cheetahs wel na sal moet kyk, was die hoeveelheid foute op die aanval en daarby het hulle dissipline ook gelol teen die Iere.

Die Cheetahs het geen beserings opgedoen nie behalwe die een aan Swanepoel. Hulle verloor wel die Springbok-stut Ox Nche, wat in sy laaste wedstryd gespeel het. Hy keer terug na Suid-Afrika en sluit hom in November by die Haaie in Durban aan.

Die plaasvervanger-haker/stut Reinach Venter wat las van ’n enkelbesering gehad het, sluit hom vandeesweek by die Cheetahs in Wallis aan.

Puntemakers:

Connacht 24 (14): Drieë: Tom Farrell (2), Niyi Adeolokun, Kieran Marmion. Doelskoppe: Conor Fitzgerald (2).

Cheetahs 22 (5): Drieë: Joseph Dweba, Rhyno Smith, Clayton Blommetjies. Doelskoppe: Ruan Pienaar (2). Strafdoel: Pienaar.


Meer oor:  Connacht  |  Pro14  |  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.