Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Klousule frustreer Haaie se hoof

Die Haaie se grootbaas verwag om eers op die nippertjie van rugbyagente te hoor wie se spelers die 21-dae-klousule gaan gebruik om hul bestaande kontrakte te kanselleer.

Eduard Coetzee, die uitvoerende hoof van die Haaie. Foto: Gallo Images

Nou hoop Eduard Coetzee maar die kultuur van eerlikheid wat by die Haaie geskep is, sal heers in dié onseker tyd, waartydens spelers grasie het om hul plaaslike kontrakte op te sê as hulle beter aanbiedinge van oorsee kry. Dié grasietydperk, wat tot 14 Mei strek, is toegestaan nadat rugbybelanghebbendes op salarisverminderinge ooreengekom het, wat deur die Covid-19-pandemie genoodsaak is.

Rapport het die naweek berig die Japanse span Docomo Red Hurricanes stel in die Haaie-vleuel Makazole Mapimpi belang en daar is ook kommer oor van die Haaie se ander Bokke, soos Lukhanyo Am, Thomas du Toit en Curwin Bosch.

Coetzee sê hulle het nog net duidelikheid oor die stut Juan Schoeman, wat Durban vir Bath verruil en André Esterhuizen se skuif na Harlequins in Londen, wat vroeër vanjaar al bekend gemaak is.

“Om eerlik te wees, ek dink die agente sal die 13de Mei vir ons sekerheid gee, want dan het ons amper niks tyd om sake te probeer red nie. Ek dink ons sal dan eers hoor as daar spelers is wat regtig gaan,” het Coetzee Dinsdag aan Netwerk24 gesê.

Die Haaie en die Cheetahs was die enigste twee unies wat tydens die rugbywerkgewersorganisasie, Sareo, se vergaderings oor salarisverminderinge teen die 21-dae-klousule gestem het. Volgens dié klousule mag plaaslike unies nie ’n teenaanbod vir spelers maak, of geld elders genereer om spelers se inkomste aan te vul nie.

Makazole Mapimpi is glo in die visier van ’n Japanse klubspan, die Docomo Red Hurri­canes. Foto: Gallo Images

“Jy is gefrustreerd, want dit is nie in jou hande nie. Ons mag nie ’n teenaanbod maak nie en dit maak dit erg.

“Maar ons het regtig ’n goeie verhouding met die spelers en ons het ’n kultuur van eerlikheid tussen die administrasie en die spelers gekweek.

“Ek vertrou en hoop maar dat dít nou die ouens se besluite sal beïnvloed. Maar ons verstaan dit ook, op die ou end is dit die ouens se werk.”

Coetzee “wil nie bespiegel” oor moontlike redes waarom die ander unies nie teen die 21-dae-grasietydperk gestem het nie.

Die Westelike Provinsie takel nou besluitnemers oor dié klousule, al het hulle nie daarteen gestem nie.

“Ons is die enigste land wat so ’n klousule met die salarisverminderinge ingesluit het. Die vraag wat ons stel – en dit is nie dat ons nie ten gunste van kollektiewe besluite is nie – is hoekom ons anders as die res van die wêreld optree,” het Zelt Marais, die WP se rugbybaas aan Rapport gesê.

Die WP en Stormers loop die gevaar om die Bok-yster Pieter-Steph du Toit aan die Franse span Montpellier af te staan. Rapport het berig Du Toit het ’n aanbod van R75 miljoen oor drie jaar van dié klub gekry, hoewel Montpellier in ’n verklaring ontken dat hy enige aanbod aan Du Toit gemaak het.

Die Haaie het glo ’n voorstel gemaak dat daar beweegruimte is om met spelers te onderhandel binne die ooreengekome salarisverminderingsooreenkoms, maar die ander unies (buiten die Cheetahs) het dit nie gesteun nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.