Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ongeluksvoël Jaer brand om te speel

Hy beskou homself as ’n ongeluksvoël nadat beserings hom die laaste jaar gery het, sê die Cheetahs se heelagter Malcolm Jaer.

Hy het die seisoen reeds drie Pro14-wedstryde weens ’n rug- en handbesering misgeloop.

Malcolm Jaer word op die doellyn deur 'n speler van die Cardiff Blues gestuit in die spanne se Pro14-wedstryd verlede maand in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

Sedert die 23-jarige Jaer se aankoms in Bloemfontein het hy onder die beserings deurgeloop.

Hy was reeds meer as 13 maande buite aksie.

Die opwindende heelagter is nou weer oorgehaal en brand om oor twee weke in die Pro14-wedstryd teen Benetton Treviso in Bloemfontein te speel.

Hy is ook skielik nie meer die enigste heelagter nie. Die Haaie se Rhyno Smith het hom in die wedstryd teen Munster vervang en voor dit het die losskakel Louis Fouché in sy afwesigheid die laaste vesting gedek.

Die dae waar hy homself in ’n gemaksone bevind het, erken hy, is iets van die verlede.

“Dit was net ek en Adriaan (Carelse, Curriebeker-heelagter) en dan raak jy mos op jou gemak en dit kan tot jou agteruitgang lei. Nou is Rhyno hier en die mededinging is skielik groter. Maar ek geniet dit,” sê Jaer.

Ons moet fokus om die laaste twee wedstryde van die jaar teen Treviso en Connacht te wen.
Malcolm Jaer

Nog ’n heelagter, Tapiwa Mafura van die Luiperds, sal hom boonop volgende week by die Cheetahs aansluit.

Jaer oefen tans op sy eie, maar dit is bloot ’n voorsorgmaatreël, sê hy.

Sy hand is steeds verbind en hy kan in dié stadium nog nie balle vang nie.

“Hopelik is al die beserings nou iets van die verlede. Ek wil graag beseringsvry bly, maar dit is ongelukkig nie in my hande nie.

“Eers was daar die teleurstelling van die toer (na Wallis en Skotland) waaraan ek moes onttrek en toe die wedstryde teen Munster en die Suidwestelike Distrikte-Arende verlede week. Ek brand om te speel,” sê Jaer.

Hy is nes die res van sy spanmaats teleurgesteld dat hulle nie die wedstryd teen Munster kon wen nie, maar sê hulle het intussen aanbeweeg.

“Een sege uit agt wedstryde is nie lekker nie. Ons was ongelukkig om nie teen Ulster en Munster in Bloemfontein te gewen het nie.

“Ons moet fokus om die laaste twee wedstryde van die jaar teen Treviso en Connacht (in Bloemfontein) te wen.

“Dit sal baie vir ons beteken as ons die eerste wedstryd in die nuwe jaar (teen Zebre in Italië) kan begin met die wete dat ons 2018 met ’n sege afgesluit het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.