Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Onluste kelder ook ander CB-stryd

Die frase “mag jy in interessante tye lewe” kan, afhangend van jou lewensbeskouing, as ’n seënwens of as ’n vloek vertolk word. In Suid-Afrikaanse rugby word daar sekerlik deesdae meer oorgeleun na die vloek-beskouing daarvan.

Nadat Covid-19 en herskedulerings op die Britse en Ierse Leeus se toerprogram die Leeus die laaste paar weke knaend verontrief het, het die onluste in die Goudstad nou ’n verdere stok in hul speke gedruk.

Die Johannesburgse Leeus het twee Saterdae laas op die veld gedraf, in hul wedstryd teen die Britse en Ierse Leeus. Foto: Gallo Images

Die Johannesburgse unie moes Donderdag aankondig dat albei sy wedstryde Saterdag teen die Cheetahs – die mans s’n in die Curriebeker-reeks en die vroue se Eerste Liga-eindstryd teen die Vrystaters – nie meer sal plaasvind nie omdat die Bloemfonteiners skrikkerig is om na die Hoëveld te reis.

Die vroue se wedstryd sal herskeduleer word omdat die wenner daarvan later in ’n promosie/relegasie-stryd teen die Haaie moet speel om ’n plek in aanstaande seisoen se Premierliga. ’n Besluit oor die nuwe datum sal later geneem word.

Rudolf Straeuli, die uitvoerende hoof van die Leeus-rugbyunie, het Donderdagmiddag gesê hulle is omstreeks 13:30 deur die Cheetahs ingelig van dié besluit.

“Ons het aangebied om die wedstryd na Bloemfontein te verskuif, maar is deur die Cheetahs ingelig dat hulle reeds vir hul spelers gesê het die wedstryd is afgelas, en dat dit vir hulle sou ongemaklik wees om die besluit te verander,” het Straeuli gesê.

“Ons het self eers ’n halfuur gelede gehoor en nog nie eens vir die spelers gesê nie. Ons is natuurlik ook nie bereid om te waag met ons spelers se veiligheid en gesondheid nie, maar ons het die afgelope week geen positiewe Covid-uitslae gehad nie en almal was gereed en opgewonde om te speel.

“Dis frustrerend, maar ons weet natuurlik alte goed ons leef in moeilike tye en dat besluite soos dié nie ligtelik geneem word nie.”

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het Donderdag in ’n verklaring gesê ’n besluit oor die punte-toedeling moet nog gemaak word.

Dít nadat Saru Woensdag gesê het spanne wat weens buitengewone omstandighede (Covid-19 uitgesluit) nie kan speel nie, sal vier ligapunte kry.

“Dis in die hande van Saru om oor die puntesituasie te besluit. Die Leeus was bereid om in Bloemfontein te kom speel.

“Ons het egter geargumenteer dis nie veilig om van Bloemfontein na Johannesburg te reis nie of van Johannesburg na Bloemfontein nie,” het Harold Verster, besturende direkteur van die Vrystaat-Cheetahs, aan Johann de Jager gesê.

Die kansellasie van die Leeus se wedstryd beteken dat daar hierdie naweek geen Curriebeker-aksie sal wees nie. Die Haaie en Pumas se wedstryd wat Vrydag in Durban sou plaasgevind het, is Woensdag gekanselleer weens die onluste in KwaZulu-Natal, terwyl die Griekwas en Bulle se geskeduleerde wedstryd van die baan is omdat die Pretorianers nou in Kaapstad teen Suid-Afrika A te staan sal kom.

Straeuli het gesê almal by die Leeus-unie was opgewonde oor die naweek se wedstryde en die spanne het ondanks die chaos in die Goudstad die afgelope week aangehou oefen by hul basis in Nieu-Doornfontein.

Die onluste in Gauteng het Sondag begin in Jeppestown en Malvern, wat nie ver van Ellispark is nie, maar nooit oorgespoel na Doornfontein nie.

“Ons is naby die Jeppe-polisiestasie en is gelukkig genoeg dat een van ons vennote die Fidelity-sekerheidsgroep is, so ons is heeltyd op die hoogte gehou van waar potensiële moeilikheid is. Almal het veilig gevoel om hierheen te kom, want daar was nooit hier probleme nie,” het hy gesê.

Ivan van Rooyen, die Leeus se hoofafrigter, het gesê hy sou jok as hy sê hy is nie gefrustreerd nie, maar terselfdertyd weet hy daar is ’n groter prentjie.

“Daar gaan baie dinge aan daar buite en van ons kant kan ons net aanhou hard werk sodat ons mense kan hoop gee en sterk bly vir diegene wat meer as ons sukkel.”

Van Rooyen se span was twee Saterdae gelede laas in aksie, teen die Britse en Ierse Leeus. Die breier het gesê hulle sal hul fokus nou verskuif na volgende Woensdag se wedstryd teen Griekwas, wat ook geskeduleer is om op Ellispark plaas te vind.

Meer oor:  Onluste  |  Leeus  |  Cheetahs  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.