Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ons gaan nie paniekknoppie druk, sê Hansen
Geen deurkomkans nie. Die All Blacks se Ngani Laumape word in sy spore gestuit deur die Wallaby-verdedigers Lukhan Salakaia-Loto en Christian Lealiifano. Foto: Getty Images

Die All Blacks se breier, Steve Hansen, het Sondag geskerm deur te sê daar is nog geen rede tot paniek in die span nie, nadat hy die naweek in Perth behoorlik deur Australië afgeslag is.

Dit was die twee se laaste verpligting in die Rugbykampioenskap en ook die eerste been van die jaarlikse dubbeltoetsstryd om die Bledisloebeker.

Die Wallabies, wat vooraf bitter min kans op sukses gegun is, het met 47-26 gewen. Die All Blacks, moet ’n mens byvoeg, was in die tweede helfte net 14 spelers sterk nadat die slot Scott Barrett laat in die eerste helfte weens ’n gevaarlike duikslag met ’n rooi kaart afgejaag is.

Hansen het Sondag gesê die span fokus slegs op die tweede been van die Bledisloe-reeks, wat aanstaande Saterdag in Auckland beslis word.

Indien die breier wel bekommerd is, steek hy dit goed weg.

Sy span, die wêreldkampioen, het in aanloop tot vanjaar se skouspel in Japan nie veel uitgerig om te wys hy is so onstuitbaar soos vorige jare nie.

Steve Hansen, All Black-breier, wen die Aussie Nic White geluk ná die span se oorwinning Saterdag in Sydney.Foto: Getty Images

’n Gelykop-toets teen die Springbokke, wat Saterdag die Rugbykampioenskapskroon verower het, ná ’n sukkeloorwinning oor die Poemas, het Saterdag uitgeloop op die liederlike loesing teen die Wallabies.

“Ek weet die telbord vertel ’n ander storie, dit gebeur nie dikwels dat ons soveel punte afstaan nie, maar op 16-12 was ons nog in die prentjie voordat Scotty (Barrett) afgestuur is,” het die breier wal gegooi.

“Hierna was dit ’n heel ander toets. Ek dink nie ons hoef bekommerd te wees oor ons verdediging in die tweede helfte nie. Jy moet kyk na die ouens se toewyding. Daar was baie daarvan te sien. Ons het te staan gekom teen ’n span wat die ekstra ruimte goed benut het.”

Ondanks Hansen se skynbare kalmte, het die breier heelwat om oor te besin in die komende weke voordat rugby se grootste skouspel in Japan begin.

Die span se dissipline het hom in die steek gelaat en hy is herhaalde kere gestraf vir onkantspel, grotendeels uit nood gebore met die Wallabies wat genadeloos aangeval het en die All Blacks wat die een duikslag ná die ander moes uitvoer.

“Ja, natuurlik is ons teleurgesteld met die uitslag en met ons vertoning. Hoe dan anders?” het Hansen gesê.

“Ons was ver benede standaard. Die Wallabies het ons gewys hoe jy speel teen ’n span wat een speler minder op die veld het. Hulle het met ons gal gewerk,” het Hansen erken.

Nou is die enigste fokus volgende week se herontmoeting.

Daar is geen rede om die paniekknoppie te druk nie. Ons druk eerder die knoppie wat sê ons gaan die toets wen, ons dissipline gaan beter wees.
Steve Hansen

“Dis ’n groot toets vir ons. Ons skuld die tuisskare ’n beter vertoning. Ons skuld onsself ’n beter vertoning.

“Maar daar is geen rede om die paniekknoppie te druk nie. Ons druk eerder die knoppie wat sê ons gaan die toets wen, ons dissipline gaan beter wees, ons gaan hou by die beproefde strukture en ons gaan beter speel.”

Michael Cheika se Wallabies sal ’n huppel in die stap hê ná agtereenvolgende oorwinnings oor die Argentynse Poemas en die All Blacks.

Michael Cheika, hoofafrigter van Australië. Foto: Getty Images

Daar sal nou verwag word dat die span moet vashou aan en voortbou op die momentum. Maar in Auckland is dit nie so maklik nie.

As die span die eerste keer in 17 jaar die Bledisloebeker in Sydney wil staanmaak, moet hy egter Saterdag die Kiwi’s weer omdop.

En dit beteken hy sal die eerste keer sedert 1986 op Eden Park moet gaan wen.

Dis statistieke wat die Wallaby-breier skynbaar min skeel.

“Daar het ’n paar goed in ons guns gewerk teen die All Blacks, maar dit was nog ’n hele ent weg van ons beste vertoning. Ons het nou die kaartjie bespreek. Volgende naweek soek ons die vertoning. Die ouens het hard gewerk hiervoor.

“Ek is bly vir hul part. Maar die groter prentjie is dat ons net halfpad daar is. Ons het die geleentheid om die sirkel te voltooi en ons gee nie om wáár dit bereik moet word nie,” het Cheika gesê. – Sportredaksie; Reuters

Meer oor:  Steve Hansen  |  Michael Cheika  |  Nieu-Seeland  |  Australie  |  Bledisloebeker  |  Rugby  |  Rugbykampioenskap  |  Wallabies  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.