Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ons kan veel beter, sê Hansen
Steve Hansen staan die media te woord kort voor die All Blacks se vertrek na Perth die naweek.Foto: Getty Images

Steve Hansen verwag veel beter van sy All Blacks. Die uitgeslape rugbybreier het dit duidelik gestel voordat die span die naweek na Perth vertrek het waar hy Saterdag in ’n Bledisloe-toets teen Australië te staan kom.

Voor dié kragmeting moet Hansen eers taai besluite oor sy losvoorspel-kombinasie en sy heelagter neem.

’n Oorwinning in die toets is die naasbelangrikste doelwit vanjaar vir die heersende wêreldkampioen. Hy wil sy Bledisloekroon behou, wat die Wallabies in 2002 laas gedra het. En daarna wil hy ’n ongeëwenaarde derde keer agtereenvolgens die Wêreldbekertoernooi wen.

Ná twee ondergemiddelde toetsvertonings vanjaar is die All Blacks ’n hele entjie weg daarvan om dié doelwitte te bereik, het Hansen Sondag erken.

Maar daar is nog nie rede tot paniek nie, ofskoon daar kommer is oor die span se aanvalsvermoë. Die All Blacks het teen die Poemas en die Springbokke net twee drieë gedruk.

Net drie toetse bly oor voordat die kampioen in sy eerste groepwedstryd in Japan weer met die Bokke te doen kry. Tot dusver, sê Hansen, ontbreek die ritme voor- en agterlangs.

’n Loesing in die eerste toets in Japan sal geskiedkundig wees. Die All Blacks het nog nooit in die WB-toernooi ’n groepwedstryd verloor nie.

’n Loesing in die eerste toets in Japan sal geskiedkundig wees. Die All Blacks het nog nooit in die WB-toernooi ’n groepwedstryd verloor nie. Boonop sal dit straks uitloop op ’n kragmeting met Ierland in die kwarteindronde. Geen aangename vooruitsig vir Hansen nie.

Die samestelling van die lostrio, wie nr. 10 gaan beman en wie die laaste vesting teen die Wallabies gaan dek, sal die week druk bespreek word.

Daar is ook kommer oor die peil van die stutte Joe Moody en Owen Franks. Die kaptein, Kieran Read, en die vleuel Rieko Ioane was ook nog tot dusver nie op hul beste nie.

Hansen was soos altyd redelik vaag oor hoe hy die naweek se toets gaan benader. Hy wys gewis nie al sy kaarte nie, want hy weet sy eweknie, Michael Cheika, sal op grond hiervan sy span kies.

Op ’n vraag of hy al antwoorde het oor sy lostrio-kombinasie vir die komende toetse voor die WB-toernooi, was Hansen vlugvoetig.

“Ons het al ’n hele paar antwoorde gekry en hopelik sal daar nog antwoorde van al die kandidate wees. Ons is nou maar skaars twee, drie weke bymekaar, so ons verwag ’n groot verbetering op die eerste twee toetse. Ons verwag dat die kombinasies gaan begin werk.”

Die All Black-heelagter Beauden Barrett skop kantlyn toe met die Bok-losskakel Handre Pollard wat op hom toesak in die Rugbykampioenskapstoets in Wellington. Foto: Getty Images

Toe die breier gepols is oor Beauden Barrett op heelagter, waar hy teen die Bokke begin het, was Hansen se reaksie bloot “julle sal maar moet wag om te sien of dit gaan gebeur”. Ofskoon daar in die Kiwi-media nie eenstemmigheid is of dié eksperiment gewerk het nie, is dit duidelik iets wat Hansen vir Japan oorweeg.

Omstandighede en spelpeil dui daarop dat Read, Sam Cane en Ardie Savea in Perth as lostrio sal opdraf, met Read en Savea wat mekaar by tye op sesflank en agtsteman sal aflos.

Hansen sal nie die jong Luke Jacobson op steelkant kan oorweeg nie, omdat hy weens harsingskudding onbeskikbaar is.

Hy is dus aangewese op Vaea Fifita, wat nie in die beste van persoonlike ruimtes is nie ná die tragiese dood van sy jonger broer AJ Mapa verlede naweek.

Dis egter sy losskakel en heelagter wat kopkrag gaan verg.

Barrett was stewig op nr. 15 teen die Bokke, terwyl Richie Mo’unga ’n bietjie wisselvallig op losskakel was totdat Aaron Smith as plaasvervanger-skrumskakel opgestuur is.

Die algemene gevolgtrekking is Hansen wil albei die spelskeppers in sy beginspan hê.

Die breier het gesê hy sal ná Saterdag se kragmeting in Perth veel wyser wees.

Ons sal agterna ’n beter idee oor kombinasies hê en sal dan met ons sterkste span in die oorblywende toetse voor die WB-toernooi speel.
Steve Hansen

Hoe meer toetse ons saamspeel, hoe beter sal ons word. Hoeveel beter, moet nog gesien word.”

Hy glo nie die Wallabies is verswak in die afwesigheid van Israel Folau nie. Trouens, hy dink die span is besig om sy ritme te vind.

“Die Wallabies se vaste fasette is op dreef, hulle skrum sterk en die lynstane is feitlik foutloos. Selfs sonder Folau is daar ’n handvol gevaarlike spelers agterlangs, so ons sal hul ruimte eenvoudig moet beperk.”

Die breier se laaste gedagte voordat die span vertrek het, was ’n kwalik bedekte boodskap dat sy spelers moet vinger trek vorentoe.

“Dis duidelik aan elke speler gestel: Hou aan glo in wat ons doen, wees geduldig, verbeter op jou vorige vertoning.” – Sportredaksie; stuff.nz

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.