Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Onsekerheid’ oor virus pootjie Bok-vroue

Hoewel die Afrikabeker-rugbytoernooi vir vroue Dinsdag in die slag gebly het weens die Covid-19-pandemie, het dit Suid-Afrika se afrigter, Stanley Raubenheimer, ’n sug van verligting laat slaak.

Suid-Afrika se Babalwa Latsha bars vorentoe met die bal in ’n kragmeting teen Skotland in 2019 in Kaapstad. Foto: Gallo Images

Suid-Afrika, die verdedigende kampioen, sou in drie toetse tussen laat Mei en vroeg in Julie teen Uganda, Madagaskar en Kenia te staan gekom het. Dié kragmetings sou in Kaapstad, Pretoria en Antananarivo in Madagaskar beslis word.

“As ’n afrigtingspan is ons voorbereid op enige gebeurlikheid, maar dit is goed om klarigheid oor die seisoen te hê sodat ons die pad vorentoe kan beplan,” sê Raubenheimer in ’n nuusverklaring van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie.

Die wedstryde sou deel van die vroue se voorbereiding vir die Wêreldbeker-toernooi gevorm het, wat in September 2021 in Nieu-Seeland begin en waarvoor Suid-Afrika reeds gekwalifiseer het.

Stanley Raubenheimer, afrigter van die Suid-Afrikaanse vrouerugbyspan. Foto: Gallo Images

“Uit die aard van die saak sou ons daarvan gehou het om soveel as moontlik wedstryde te speel in die opbou tot die Wêreldbeker, maar ons moet geduldig wees en die Covid-19-virus toelaat om sy loop te neem,” sê Raubenheimer.

“Gelukkig het ons vroeër vanjaar daarin geslaag om oefengroepe in die onderskeie streke op die been te bring, wat spelers sal toelaat om in hul onderskeie streke te oefen. Wanneer hulle weer kan oefen, sal dit goed wees om dít optimaal te benut.”

Volgens die verklaring was van die belangrikste oorwegings om die toernooi te kanselleer onder meer die reisbeperkings en die verbod op samekomste en sportbyeenkomste oor Afrika heen.

Dr. Elvis Tano, hoof van Rugby Afrika (RA), die beheerliggaam van die sport op die vasteland, sê in ’n verklaring daar is steeds te veel onsekerheid oor die Covid-19-virus.

“Die gesondheid en veiligheid van ons spelers, ondersteuners, personeel, vennote en die plaaslike gemeenskappe is ons eerste prioriteit. Daar is steeds te veel onsekerheid oor hoe die pandemie in die volgende paar weke gaan uitspeel om met vertroue kompetisies te laat plaasvind.” – Sportredaksie

Meer oor:  Stanley Raubenheimer  |  Vrouerugby  |  Rugby  |  Afrikabeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.