Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ontwrigting ontstel nuwe Bok-breier nie

Jacques Nienaber gaan hom nie laat onkant betrap as die Springbokke nie vanjaar in enige toetse speel nie. Hy is reg vir die onverwagse, of dit toetse in Augustus is en of hy sal moet wag tot aanstaande jaar wanneer die Britse en Ierse Leeus hier kom toer.

“Dit kan dalk wees dat ons eerste toets teen die Britse Leeus gaan wees,” het Nienaber die afgelope week gesê.

Die Bok-afrigter, Jacques Nienaber, en Siya Kolisi by vandeesweek se kospakkie-geleentheid in Kaapstad. Foto: Gallo

“Dis beslis nie hoe ons dinge beplan het (vir vanjaar) nie. Maar dit is wat dit is. Ons het op die oomblik veel meer goed om oor bekommerd te wees as dat daar moontlik nie toetsrugby vanjaar gaan wees nie.”

Hy was die afgelope week deel van ’n Springbok-afvaardiging van vyftiens- en sewesspelers wat met die organisasie Foodforward SA kospakkies aanmekaar geslaan het vir mense wat deur die koronavirus-pandemie geraak word.

Nienaber, wat ’n hulpafrigter was onder Rassie Erasmus toe die Bokke verlede jaar die Wêreldbeker verower het, sê die All Blacks se drie WB-trofees was die groot motivering vir die Springbokke om die trofee in 2019 te wen.

“Dit was ’n groot dryfveer vir ons, die feit dat Nieu-Seeland drie trofees gewen het en ons slegs twee. Ons het hulle probeer vang en ek dink dis wat hulle in die toets teen ons gemotiveer het.”

Ons eerste toets kan teen Britse Leeus wees.

Volgens Nienaber maak die Bok-bestuurspan voorsiening in hul voorbereiding vir elke moontlike scenario.

Augustus word geteiken as ’n terugkeerdatum, maar die laaste sê is by die regering en dis waarop daar nou gewag word.

Hy het nou die bestuur van die Springbok-span ten volle oorgeneem by Erasmus. Erasmus bestuur sake van die veld af.

“Ek en Rassie praat daagliks. Waar ek nou meer met die afrigters sal praat oor ons afrigtingsplan en hoe ons dink ons dit gaan bedryf, is sy werk om sake weg van die veld af te bestuur.

“Hy praat met die regering, met Sanzaar (rugby se beheerliggaam in die Suidelike Halfrond), Wêreldrugby en die base by die Sesnasies. So hy sit in daardie komitees en kyk hoe dinge weg van die veld af gaan werk.”

Nienaber het ook stadig maar seker tot die besef gekom dat hy binnekort die sweetpak wat hy altyd gedra het om boodskappe aan spelers op die veld oor te dra, sal moet verruil vir meer formele klere as hy in die afrigtershokkie gaan sit.

Daarvoor is hy egter voorbereid.

“Ja, ek sal nie meer op die veld kan rondhardloop as hoofafrigter nie. As mediese persoon kan jy dit doen, dis wat die reëls sê. Gelukkig is ek ’n gekwalifiseerde fisio en ek het as afrigter daardie deel behou.

“Maar ek sal dit nie nou meer kan doen nie.”

Nienaber sê die Nieu-Seelanders was met hul terugkeer tot rugby tot ’n groot mate steeds so vaardig soos altyd, maar daar was ook baie foute in hul eerste wedstryde.

Dit is veral die strafskoptelling wat in die eerste twee wedstryde baie hoog was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.