Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Ooievaar hou Sexton vir eers van veld

Jerry Sexton, die Southern Kings se Ierse slotaanwins, sal byna vir seker van die Oos-Kapenaars se opwarmingswedstryde misloop.

Jerry Sexton, die Kings se Ierse slot-aanwins. Foto: Southern Kings

Sexton (26) se lewensmaat, Diana, verwag hul eerste baba oor drie weke. Sy is nog op die Britse eiland Jersey, waar Sexton voorheen vir die Jersey Reds (in die liga onder die Engelse Premierliga) gespeel het.

Die Kings speel oor twee weke hul eerste opwarmingswedstryd teen Georgië in Tbilisi. Dié kragmeting sal vir Georgië ook as ’n slypstryd vir die Wêreldbeker-toernooi dien.

“Ek hoop om in daardie wedstryd te speel, maar sal moontlik dan die week daarná teen Namibië (wat ook slyp vir die WB-toernooi in Japan) misloop.”

Daar is tans nog nie planne vir verdere opwarmingswedstryde vir die Kings voordat hulle hul Pro14-seisoen op 28 September afskop nie. Sexton hoop dus hy kry darem speelkans teen Georgië, hoewel hy weet dat dit ook nie die einde van die wêreld sal wees as hy nie speel nie.

“Robbi (Kempson, die Kings se waarnemende hoofafrigter) plaas groot klem op familiebande en het my verseker dat hy verstaan die geboorte van ons dogter is in hierdie stadium die belangrikste vir my,” sê Sexton.

Die groot Ier het ongeveer ’n maand gelede in Port Elizabeth by die Kings aangemeld en vind die voorseisoense oefeninge “anders” as waaraan hy gewoond is.

“Die grootste verskil is dat ons baie meer hardloop as in Brittanje en Frankryk, waar ek voorheen gespeel het,” sê hy.

Sexton het drie seisoene vir Auch in Frankryk gespeel voordat hy eers vir die Exeter Chiefs en toe vir London Irish in Brittanje gaan speel het. Hy het die afgelope drie seisoene vir die Jersey Reds uitgedraf en het ook die span aangevoer.

Die Reds word deur Harvey Biljon, wat van Uitenhage af kom, afgerig.

Jerry Sexton se ouer broer Johnny het al byna ’n 100 toetse vir Ierland gespeel. Foto: Getty Images

“Harvey is ’n goeie afrigter en het my van die Oos-Kaap vertel toe ek die aanbod van die Kings gekry en aanvaar het,” sê Sexton.

“Hy het my vertel van die lieflike strande, lekker eetplekke en wonderlike mense. Hy het my ook gewaarsku om my huis en my motor te sluit wanneer ek in die aand gaan slaap.”

Sexton woon vir eers in ’n kothuis in die Mill Park-woonbuurt naby die Port Elizabeth-gholfklub.

“Dit pas my goed, want ek is mal oor gholf en stap sommer oor die pad om te gaan speel,” sê hy.

Hy sien darem so nou en dan die strand wanneer die Kings nie oefen nie.

“Sarel Pretorius (Kings-skrumskakel) het my ook al na die Noordhoek-skibootklub geneem waar ons gebraai het.”

Sexton haal sy skouers op wanneer jy hom oor sy beroemde ouboet, die losskakel Johnny, uitvra.

“Hy is agt jaar ouer as ek. Dis nou nie juis asof ons saam gespeel het toe ek klein was nie,” sê hy.

“Maar hy was nog altyd daar met raad en hy is beslis iemand na wie ek opkyk.”

Meer oor:  Pro14  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.