Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Nyakane gee Bulle se skrum-breier, kosblik-les eer vir sy goeie spelpeil
Ooievaar laat Bok-stut Trevor ‘vou’
Trevor moet Rassie nog vra vir ‘kraamverlof’

Trevor Nyakane se grootste vrees is nie die All Blacks nie, maar eerder die moontlikheid dat hy die geboorte van sy eersteling gaan misloop.

Die Bulle-stut en een van die Bok-helde in hul Rugbykampioenskap-triomf, sal Vrydag in sy 41ste toets teen Japan opdraf. Dis die Bokke se laaste slypkans voordat hulle op 21 September in hul eerste groepwedstryd van die Wêreldbeker-toernooi teen Nieu-Seeland speel.

Trevor Nyakane in aksie.

Nyakane is angstig om die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, vir “rugby-kraamverlof” te vra sodat hy by sy vrou kan wees wanneer hul eersteling gebore word. Hy hoop om ’n vinnige draai in Suid-Afrika te maak om die aankoms van sy dogter saam met sy vrou te vier.

“Dit maak my bang,” lag Nyakane. “Die geboortedatum is in twee weke, op 13 September.

“Rassie is ’n moeilike man om mee te praat, maar hy is nie onredelik nie. Ek sal nooit nóg ’n kans op ’n eersteling kry nie. Ek dink hy sal verstaan, en hy beklemtoon dikwels hoe belangrik familie is. Ek dink dit sal die besluit vir hom baie makliker maak. Hy is ’n goeie mens.

“Ek is ongelooflik opgewonde. Ek kan nie wag om my dogter te ontmoet nie. Ek sien uit na die nuwe hoofstuk in ons lewens. Die feit dat ek ’n pa gaan word, is die grootste ding wat met my kan gebeur. Dit verander die hele prentjie.”

Terwyl die meeste Bokke se vroue of meisies planne het om hulle tydens die toernooi by die Bokke aan te sluit, weet Nyakane nie of dit vir sy vrou, Gavaza, in die omstandighede moontlik sal wees nie.

“Tussen die Superrugby-toer, die Bok-kampe en die Rugbykampioenskap was die laaste paar maande moeilik vir my vrou. Nou is daar ook nog die Wêreldbeker-toernooi. Maar sy is ongelooflik sterk.

Trevor Nyakane en sy vrou, Gavaza. Foto: GENEVIEVE FUNDARO

“Ons hoop sy sal ’n draai kan maak as ons ver genoeg vorder. Ek weet nie of babas wat só jonk is kan vlieg nie, maar dis een van daai dinge. Dis iets waaraan ek nie nou wil dink nie.”

Nyakane se spelpeil vanjaar is ’n hoogtepunt van sy loopbaan. Die Bulle se nuwe skrumafrigter, Daan Human, verdien baie krediet daarvoor.

Human laat ’n ou lekker lag as hy sê die enigste verskil by Nyakane nou is “hy’t altyd lekker geëet, maar as ’n ou jou toebroodjies self pak, eet jy lekkerder want jy weet wat kom”.

Dié tikkie wysheid bly by Nyakane en het hom gehelp om vanjaar die voorste vaskopstut in die Superreeks te word.

“As jy hard werk in die week, los dit jou met lekker toebroodjies om die naweek te eet. Dis wat hy bedoel,” sê Nyakane.

“Hy vra ons altyd om so hard as moontlik in die week te werk omdat dit jou naweektaak soveel makliker maak. Jy moet jou kosblikkie in die week pak, dan eet jy lekker oor die naweek.”

Nyakane sê die oplewing in sy spelpeil is die gevolg van selfondersoek.

“Ek het myself afgevra wat ek beter kan doen om die Bokgroep te haal. Vir my was dit eenvoudig – ek moes hard werk en seker maak dat daar nie verskonings gaan wees nie,” sê hy.

“Mense moenie my fiksheid bevraagteken nie en ek moet nie met klein beserings sukkel nie. Ek het besluit om my talent by elke geleentheid op die veld uit te leef. Daardeur kan jy vir jouself soveel deure laat oopswaai.

“Dus maak ek seker ek oefen harder as ooit. Ek het beter geluister as die afrigters met my praat. Ek het ook besluit om my op vaskop toe te spits.

“Coach Daan se aankoms by die Bulle het ’n groot rol gespeel. Hy het baie dinge in my lewe verander. Hy het my aandag weer op die basiese beginsels gevestig en dinge in perspektief gestel. Hy het ’n groot verbetering in die Bulle se pak teweeg gebring. Hy weet waarvan hy praat as dit by skrums kom. Hy maak dit so eenvoudig as moontlik. Ek geniet dit om saam met hom te werk.”

Die Bok-skrum lyk onstuitbaar, maar Nyakane glo hulle moet nog verbeter.

“Ons het momentum en dit gee jou selfvertroue ’n hupstoot. Jy weet dan jy kan op daai vlak presteer. Al die stutte ondersteun mekaar. Ons slotte is massief en hulle hou daarvan om te skrum. Dit maak dinge makliker vir ’n stut as jy weet die afrigters glo in jou en dat die pak goed saamwerk. As ons eers kliek, gaan jy iets groots sien.”

Meer oor:  Bulle  |  All Blacks  |  Trevor Nyakane  |  Japan  |  Eersteling  |  Vrou  |  Swanger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.