SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Rugby
Groener gras ook afrigter-moeras

Heyneke Meyer se bedanking as afrigter van die rugbyklub Stade Français in Parys plaas opnuut rugby-afrigting in die buiteland, en spesifiek in Europa, onder die soeklig.

Vir ’n Suid-Afrikaanse afrigter is die moontlikheid om byvoorbeeld in Frankryk of Italië af te rig baie aanloklik. Saam met die aansienlike finansiële voordeel is daar die uitdaging van afrig in die “vreemde”. Dis egter nie so maklik as wat dit klink nie.

dok pool
Dok Pool.

Die afrigter bevind hom gewoonlik in ’n land met ’n ander klimaat – gewoonlik baie kouer – en speeltoestande waaraan hy nie gewoond is nie. Terselfdertyd moet hy rekening hou met die dominante sport van die land, meestal sokker, en die invloed wat dit op die spelers en ondersteuners se denke het. Soos die primadonna-sokkerspelers, wat selde in hul eie oë verkeerd is, ontduik ook die rugbyspelers maklik verantwoordelikheid vir swak spel. Vertoon die span nie goed nie, is dit gewoonlik iemand anders – die afrigter – se skuld.

Besoekende afrigters maak dit dikwels ook vir die spanne maklik om hulle die skuld te gee. Sonder om in ag te neem hoe nou verweef ’n sportkultuur met ’n nasiekultuur kan wees, verkondig die nuwe afrigter dat hy die “kultuur” van die klub gaan verander om van hulle wenners te maak. Die meeste lande is, soos ons Suid-Afrikaners, egter trots op hul “eie” sportkultuur en ervaar so ’n ingesteldheid as arrogant.

Daarby verwyder sommige afrigters hulself nog meer van die land waar hulle afrig deur hulle met diegene te omring wat vir hulle bekend is en wat hul styl kan help deurvoer. Dit geld hulpafrigters, ondersteuningspersoneel en ook soveel as moontlik buitelandse spelers – dikwels van hul eie land. Dis ’n korttermynbenadering en met die eerste terugslag begin die teenstand stadig­aan opbou, tot so ’n mate dat die afrigter se strategie binne twee, drie seisoene boemerang.

Wat staan die besoekende afrigter dan te doen?

Die sinvolle benadering is om tot ’n groot mate die spelpatroon by die land se spelstyl en kultuur aan te pas. En ’n groot faktor hier is die land se taal. Leer dit so gou as moontlik aan; afrigting kan nie deur tolke geskied nie! Dit vereis ’n openheid en aanpasbaarheid aan die kant van die afrigter, waarmee baie mense sukkel.

Besluite word dikwels “agter die skerms” geneem sonder om die afrigter te raadpleeg.

Terloops, afrigting in Brittanje verskil hemelsbreed van dié in Europa.

Hier is enkele voorbeelde van hoe die Franse en Italiaanse spelers byvoorbeeld van hul Suid-Afrikaanse eweknieë verskil.

Vir eers raak hulle gou verveeld op die oefenveld. Waar Suid-Afrikaanse spelers bereid is om ’n bepaalde spelfaset oor en oor te oefen, mor die senior spelers oorsee gou as die afrigter nie op ’n skeppende wyse daarin kan slaag om spelfasette op interessanter maniere in te oefen nie. Doelwitte moet dus interessant en maklik haalbaar wees om die spelers se geesdrif en ondersteuning te behou.

Tweedens hou die spelers, soos die sokkerspelers, van vertoon. Voor hul tuisskare sal hulle hulself oortref, net om byna ongeërg ’n wegwedstryd te verloor.

Derdens verskil die wyse waarop die spelers en spanne hulself voor wedstryde motiveer. By Suid-Afrikaanse spelers bou die spanning vir ’n wedstryd oor etlike dae op. Die tipiese Fransman en Italianer is ’n emosionele en intense mens en sal homself uitbrand as hy dit doen. Sy werklike instelling begin laat, met die gevolg dat die oningeligte afrigter verkeerdelik kan dink die speler benader nie die wedstryd ernstig nie.

’n Ander aspek wat afrigters in gedagte moet hou, is die feit dat die meeste klubs finansieel deur een of enkele individue besit word. Dit het sy voor- en nadele.

Besluite word dikwels “agter die skerms” geneem sonder om die afrigter te raadpleeg.

Wanneer dit oor die kontraktering van spelers gaan, beïnvloed dit die afrigter se loopbaan regstreeks, veral as die kontrakteerder nie insig in die spel het nie. As die afrigter nie sorg dat hy sê het oor wie die voorspelers en agterlyn lei nie, kan hy moeilik sy strategie op die veld bepaal of verander. En dit voorspel moeilikheid!

’n Afrigter se ingesteldheid vind afbeelding in sy span en spelers se ingesteldheid.

Bobby Knight, ’n voormalige Amerikaanse basketbalafrigter, het nie verniet gesê nie: “To be as good as it can be, a team has to buy into what you as the coach are doing. They have to feel you’re a part of them and they’re a part of you.”

  • Dr. Gerrit Pool was in die era van dr. Danie Craven as afrigter by Matie-rugby betrokke. Hy het ook in Italië afgerig en was ’n tegniese adviseur van die Springbokke. Hy is deesdae afgetree en woon op Hartenbos.
Meer oor:  Dok Pool  |  Meningsberig  |  Rugbymening  |  Rugby  |  Tromp-Op  |  Oorsee  |  Besluite  |  Afrigters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.