Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oorsese span lok Franco uit Bloem

Franco Smith, hoofbreier van die Cheetahs, se kop staan Europa toe nadat hy ’n uiters aanloklike afrigterspos aangebied is. Die kanse is goed dat die voormalige hulpafrigter van die Springbokke teen die tyd wat die Wêreldbeker in Japan in September begin, al oorsee sal begin afrig.

Franco Smith

Smith se kontrak met die Cheetahs verstryk eers in Junie 2020, maar dit word verwag dat hy van sy verpligtinge vrygestel sal word.

Eerder as wat Smith vir ’n afrigterspos oorsee gesoek het, is hy deur twee klubspanne en ’n internasionale span genader. Of hy hom by ’n toetsspan of klubspan gaan aansluit, is vir eers nog ’n geheim.

Volgens Rapport se bronne het Smith vroeër in Europa al ontmoet met die oorsese span waar hy sy loopbaan sal voortsit.

Die 46-jarige oud-Shimla is al sedert 2015 die Cheetahs se hoofafrigter nadat hy by Naka Drotské oorgeneem het.

Hy was einde 2016 ’n konsultant by die Bokke en in 2017 een van Allister Coetzee se hulpafrigters. In dié tydperk was hy die Cheetahs se direkteur van rugby.

Hy het die afrigting van die Cheetahs weer verlede jaar by Rory Duncan oorgeneem nadat Duncan hom by die Engelse klubspan Worcester Warriors as afrigter aangesluit het.

Die Cheetahs weet dat Smith as speler én afrigter lande soos Wallis en Italië geniet het.

In 1999 en 2000 het hy vir die Walliese klubspan Newport gespeel. In 2001 en 2002 het hy Bologna verteenwoordig, waarna hy van 2003 een van Treviso se gekontrakteerde spelers was.

Nadat hy in 2005, 2006 en 2007 deel van Erasmus se afrigtingspan by die Cheetahs was, is hy in 2007 terug na Treviso, waar hy dié Italiaanse klubspan tot 2014 afgerig het voordat hy na Bloemfontein teruggekeer het.

Verlede jaar nog wou Smith nie uit Bloemfontein trek nie. Hy het die pos as Erasmus se Bok-agterlynafrigter van die hand gewys, omdat hy eers wou hê dat sy seun Franco Smith junior aan Grey-kollege matrikuleer. Hy was die binnesenter van Grey en die Vrystaatse Cravenweekspan.

Smith was nie bereid om meer tyd in die Kaap as in Bloemfontein deur te bring nie. Sy omstandighede het egter sedertdien verander en niks keer hom nie om terug te keer na Italië, ’n land wat hom bekoor het.

Die Cheetahs sukkel kwaai in die Pro14-reeks en kon voor gister nog net ses van hul 19 ligawedstryde wen.

Vir Smith is dit frustrerend dat die Cheetahs nie ’n stabiele spelerskorps het nie en dat daar jaarliks ’n uitvloei van spelers na oorsese en plaaslike spanne is.

Die Cheetahs sal gou met hul soektog na ’n plaasvervanger vir Smith begin. Corniel van Zyl, voormalige Italiaanse slot en voorspelerafrigter van die Cheetahs, se naam behoort in die hoed te wees, en so ook Melusi Mthethwa, hoofafrigter van die Vrystaatse o.21-span. Ander plaaslike afrigters, soos Pieter Bergh en die oud-Bokke Tiaan Liebenberg en Hendro Scholtz, kan ook saam met ander aansoekers van buite die provinsie oorweeg word.

Meer oor:  Cheetahs  |  Franco Smith  |  Europa  |  Bloemfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.