Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oorsese uittog kan Bok-krag in 2020 tap

Rassie Erasmus het vandeesweek, enkele dae nadat die Springbokke die nuwe houers van die Webb Ellis-beker in Japan geword het, die hoop uitgespreek dat Suid-Afrikaanse rugby dié momentum kan behou.

Suid-Afrika was twee keer vantevore die Wêreldbeker-kampioen en in albei gevalle – ná 1995 en 2007 – het 11 maer jare gevolg.

Hoe lank gaan die Bok-kryger Duane Vermeulen nog vir sy land beskikbaar wees? Foto: Getty Images

Met die fokus wat nou na 2020 se Superreeks verskuif, is die vraag egter of dít wensdenkery is van die Bok-afrigter.

Die uittog van topspelers was nog nooit so duidelik soos in die 23-tal wat Saterdag in die WB-eindstryd teen Engeland gespeel het nie.

Uit dié 23 sal net agt spelers volgende jaar Superrugby speel.

Nie minder nie as sewe spelers, Damian de Allende, Handré Pollard, Duane Vermeulen, Lood de Jager, Eben Etzebeth, Malcolm Marx en RG Snyman, het nog vanjaar in die Superreeks gespeel, maar het sedertdien kontrakte met oorsese klubs gesluit.

Jy kan ook Jesse Kriel, wat vroeër in die WB-toernooi vir die Bokke gespeel het, by die lys voeg.

Die Bulle, die voorste Suid-Afrikaanse span in dié kompetisie vanjaar, word die swaarste getref.

Afgesien van Kriel (Canon Eagles), Pollard (Montpellier), Vermeulen (Kubota Spears) De Jager (Sale Sharks) en RG Snyman (Honda Heat), het Schalk Brits uitgetree en sal die belowende Bok-slot Jason Jenkins ook in 2020 sy rugby in Japan speel.

Erasmus het gewys die nasionale span kan welslae behaal met ’n groot gros oorsese spelers in sy midde, maar Superrugby sal altyd ’n belangrike grondslag wees.

WELLINGTON, NEW ZEALAND - JULY 27: Malcolm Marx of
Malcolm Marx. Foto: Getty Images

Die vraag is: kan die Springbokke volhoubaar sukses behaal wanneer die vier Super-franchises onder toenemende druk is weens die uittog van topspelers?

Daar was by Loftus Versfeld hoop dat Snyman sal terugkeer van 2021 af, maar die Ierse klub Munster gaan oënskynlik dié plan in die wiele ry.

De Allende, die Springbok-senter wat op pad is na die Panasonic Wild Knights, sal ná sy seisoen in Japan ook by Munster aansluit.

Marx het met die Leeus ooreengekom dat hy volgende jaar “sabbatsverlof” kry om in Japan te speel, waarna hy in 2021 sal terugkeer na Ellispark.

Die nuwe Springbok-hoofafrigter sal intussen ook ’n paar ervare manne in die agttal moet vervang.

Tendai Mtawarira het Woensdag aangekondig Saterdag se 117de toets was ook sy laaste. Steven Kitshoff is sy ooglopende opvolger in die voorry, met ’n speler soos Lizo Gqoboka van die Bulle wat vanjaar ook sterk na vore getree en Bok-kleure verwerf het.

Thomas du Toit, wat Trevor Nyakane in Japan vervang het, kan ook op loskopstut speel.

Die 33-jarige Vermeulen is ook in die skemertyd van sy toetsloopbaan, terwyl die nuwe breier in die mark sal wees vir ’n baljagter-flank met Francois Louw se uittrede.

Kwagga Smith sal sterk in die wedloop wees, terwyl Marco van Staden van die Bulle naby daaraan gekom het om die WB-groep te haal.

Die ervare Marcell Coetzee is self nog net 28 en kan as ’n baljagter of agtsteman oorweeg word, sou Vermeulen in die afsienbare toekoms halt roep.

Meer oor:  Duane Vermeulen  |  Springbokke  |  Rugby  |  Suid-Afrika  |  Oorsee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.