Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Wat het geword van ...
Op 21 lig hy sy held uit Bok-span

Albert Heenop gesels met Theuns Stofberg

Om jou Springbok-debuut op 21 te maak nadat jy jou kleintyd-held uit die span gelig het, sit nie in enige rugbyspeler se broek nie.

En as jy dan boonop in daai einste toets teen ’n All Black-hardekoejawel moet tok, kry jy ’n blitskursus in die harde werklikheid van toetsrugby.

Rob Louw, Stofberg en Nick Mallett vier 1983 se Curriebeker-triomf.

Theuns Stofberg was skaars drie jaar uit die skoolbanke toe hy op 14 Augustus 1976 sy Bok-debuut in Bloemfontein teen Nieu-Seeland gemaak het. Om daar te kom, moes hy die legendariese Jan Ellis, toe reeds ’n veteraan van 34 jaar en 37 toetse, uit die Springbok-span lig.

“Jan Ellis was my hero; ek wou altyd soos hy gespeel het,” vertel Stofberg.

“Ek was trots om op die reserwebank te kon wees toe hy in die eerste toets teen die All Blacks gespeel het in 1976, en om sy plek te moes vat vir die tweede toets was ongelooflik, ek sou dit nooit kon dink nie.”

Oor sy direkte teenstander, die vuurvreter-flank Ian Kirkpatrick, sê Stofberg dat veral die lynstaanstryd nogal “opvoedkundig” was.

“Onthou, ek het basies net uit die o.20-geledere gekom en het nie besef dat ’n mens meer moes doen as net spring in die lynstaan wanneer jy teen die All Blacks kompeteer nie.

“So, ek het vinnig geleer. Kirkpatrick was kliphard en uitgeslape.”

Desnieteenstaande het Stofberg uitgetroon as een van die helde in Suid-Afrika se reeksoorwinning van 3-1 oor die All Blacks, en daarna was hy ook ’n voor-Bok in reeks­oorwinnings oor Suid-Amerika (1980), Brittanje (1980), Ierland (1981) en Engeland (1984) – in laasgenoemde het hy ook voor gedraf.

Theuns Stofberg
Theuns Stofberg op een van sy kenmerkende stormlope vir die WP op Nuweland.

Benewens 21 toetse in die Groen-en-goud, het hy ook drie jaar elk in onderskeidelik die wit van Vrystaat, ligblou van Noord-Transvaal en streeptrui van WP uitgeblink.

Stofberg is bekend om sy gesonde sin vir humor, en het selfs ’n boek geskryf waarin hy rugbystaaltjies van verskeie van sy spanmaats weergee.

Deesdae woon hy en Martie, met wie hy 20 jaar getroud is, op ’n kleinhoewe 7 km buite Stellenbosch, waar hulle ’n gastehuis met ses slaapkamers bedryf.

“Ons bied ook huweliksverrykingskursusse, onder die vaandel van Imago, op die plaas aan,” vertel Stofberg.

“Ons akkommodeer groepe en tree basies as fasiliteerder van gesprekke op, ten einde paartjies te help om hul verhoudings te verdiep en konflik in hul lewens op te los.”

Stofberg (65), wat meer as 10 jaar gelede met die seldsame Churg-Strauss-sindroom gediag­noseer is en steeds medikasie moet gebruik vir dié outo-immuunsiekte, het vier kinders.

Elni (38) is ’n skakelbeampte en woon in Carrizo Springs, Texas. Theunis (36) werk vir ’n elektriese ingenieursfirma in Johannesburg en Johan (33) en sy vrou bied Engelse aanlyn klasse uit Pretoria aan vir studente in China en Japan, nadat hulle sewe jaar lank in Suid-Korea skoolgehou het.

Die jongste, Anzél, ’n voormalige Mej. SA-finalis (2014), is deesdae ’n bekende gesig op die kassie as aanbieder van die gewilde kykNET-program Anzél in die Boland.

Theuns Stofberg en sy vrou, Martie.

“Martie het twee kinders,” voeg Stofberg by. “Hesli (39) is ’n mediese dokter in Kanada, terwyl Ernst (36) ’n aktuaris is by Ernst & Young hier in Stellenbosch.”

Saam spog Theuns en Martie Stofberg reeds met nege kleinkinders, en ’n tiende enetjie wat op pad is.

Marthinus Theunis Steyn Stofberg is op 6 Junie 1955 op die Vrystaatse dorpie Villiers, aan die oewer van die Vaalrivier, gebore, en het ook daar begin skoolgaan.

“Dit was ’n uiters sorgelose grootwordproses in die Vrystaat,” onthou hy.

“Die dorpie is so klein, ek en my drie ouer broers was loopafstand van die skool.”

Min mense is waarskynlik bewus van die feit dat Stofberg vir vyf jaar ook ’n Nataller was.

Sy pa, ds. Kosie Stofberg, was van 1962 tot 1967 predikant by die NG gemeente Fynnland op die Bluff in Durban, en in daardie tydperk het die jong Theuns Stofberg skoolgegaan aan die Laerskool Dirkie Uys.

In 1967 het sy pa vir die Springbok-kaptein Dawie de Villiers, nadat dié Suid-Afrika tot ’n oorwinning van 26-3 oor Frank­ryk op Kingspark gelei het, gevra om die Sondag ná die toets die aanddiens by die Fynnland-gemeente te lei. De Villiers was in daardie stadium self ’n leraar.

“Ja, vir ’n 12-jarige laaitie was dit nogal ’n groot ding om die Springbok-kaptein op die preekstoel te sien.

“Die vorige middag het ek nog langs die kantlyn op Kingspark die Bokke gesit en ondersteun, en toe die eindfluitjie blaas die hoekvlag gegaps as ’n aandenking. Dit het jare lank bokant my bed gehang.”

In 1968 het Stofberg teruggekeer Vrystaat toe waar hy aan die Springbok-fabriek, Grey-kollege in Bloemfontein, sy hoërskooljare deurgebring het.

“Daar word gespot dat as ’n ou op Grey was dan hoor ’n mens dit, want hy sê dit,” skerts Stofberg.

“En, ja, ek was daar. Ek weet watter voorreg dit was.

“Dit gaan nie slegs oor die gees, of die gehalte van die rugby nie, die hele opleiding het ’n geweldige impak gehad.”

Om Nieu-Seeland in 1976 die loef af te steek bly altyd ’n hoogtepunt, maar vir Stofberg staan die reeksoorwinning van 3-1 oor die Britse en Ierse Leeus van 1980 uit.

“Omdat Leeu-toere so seldsaam is, is dit ’n besonderse voorreg om met hulle te kan meeding.

“Boonop het ons in 1980, met Morné (du Plessis) as kaptein, oor ’n uiters goeie span beskik wat uitstekende rugby in daardie reeks opgedis het.

Theuns Stofberg
Gerrie Germishuys, Stofberg en Wynand Claassen op die 1981-toer.

“ ’n Persoonlike hoogtepunt was toe ek en Gerrie (Germishuys) gekombineer het met ’n vinnige ingooi vir hom om die drie in Port Elizabeth te druk, wat Naas (Botha) in gietende reën verdoel het vir ons om die reeks te beklink.”

Op plaaslike vlak het Stofberg in sewe Curriebeker-eindstryde gespeel, waarin hy in vier – twee vir WP en een elk vir Vrystaat en Noord-Transvaal – as oorwinnaar uit die stryd getree het.

Vrystaat se historiese sege van 33-16 oor WP in die eindstryd van 1976 beklee egter ’n spesiale plekkie.

“Dis altyd spesiaal om die Curriebeker in te palm, maar daardie eerste keer, saam met so ’n ongelooflike klomp ouens, is iets wat my altyd sal bybly,” sê Stofberg.

“Die span kuier nog gereeld, ons hou reünies en vang vis saam, en die ouens gesels nog feitlik daagliks op WhatsApp – 44 jaar later.”

Stofberg is erg ontstoke oor die feit dat die Cheetahs vandeesweek effektief uit die Pro14-kompetisie geskop is.

“Daar is nie woorde om my misnoeë uit te spreek nie,” sê hy.

“Dit is geweldig hartseer dat daardie voedingsbron van SA rugby so gekortwiek word. Dat die Cheetahs uitgeskakel word, is totaal ongevraagd.

“Dit is nie regverdig teenoor die spelers nie, en is ’n groot verlies vir SA rugby – daardie spelers wat grootword met Vrystaat se manier van speel.”

Meer oor:  Albert Heenop  |  Wat Het Geword Van  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.