Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Oostelike Provinsie lak unies oor ras

Die land se rugbybase versaak hul plig om transformasie én die ontwikkeling van etnies swart spelers na te streef, sê die president van die Oostelike Provinsie-rugbyunie, André Rademan.

André Rademan, president van die Oostelike Provinsie-rugbyunie.

Rademan trek in ’n brief aan SA Rugby te velde teen die rugbyunies wat ’n voorstel verwerp het om die OP tot die Premierliga van die Curriebekerreeks toe te laat. SA Rugby se hoofraad het verlede week op ’n virtuele vergadering teen die voorstel gestem dat die OP uit die Eerste Liga bevorder word.

Die OP het ’n 75%-meerderheid onder die 14 unies se presidente en uitvoerende hoofde nodig gehad.

Die besluit beteken dat die OP ook ’n toelaag van sowat R7 miljoen van SA Rugby vir deelname aan die Premierliga kwyt is.

Rademan skryf in sy brief die OP versoek formeel dat SA Rugby die beslissing moet hersien en omkeer in die lig van Oos-Kaapse rugby se jare lange belangrike rol in die lewering van ware etniese swart spelers, soos Lukhanyo Am en Makazole Mapimpi, aan die nasionale spanne.

“As Suid-Afrikaanse rugby ernstig is om die teiken te bereik soos uiteengesit in die strategiese transformasieplan van SA Rugby, en soos ooreengekom met die regering, is dit noodsaaklik dat die OP in die Premier-afdeling van die Curriebeker meeding, wat ’n belangrike platform is om die vaardighede en potensiaal van die land se beste etniese swart spelers ten toon te stel,” skryf Rademan.

“Transformasie is die kern van Suid-Afrikaanse rugby se strategie om teen 2030 ’n aanvaarbare aantal swart spelers in ons nasionale groepe te hê.”

Die Oos-Kaap is volgens Rademan al vir dekades die hart van die ontwikkeling van etniese swart rugbyspelers in Suid-Afrika.

“Die feit is dat 99,9% van die etniese swart spelers wat vir ander unies speel van die Oos-Kaap afkomstig is.

Deur swaarkry en beperkte hulpbronne het rugby geseëvier.

“Dit is waar rugby deur die eeue heen gedy het as ’n geliefde sport. Deur die verdelende apartheidsjare. Deur swaarkry en beperkte hulpbronne het rugby geseëvier.”

Rademan waarsku dat die besluit om Oos-Kaapse rugbyspelers die geleentheid te ontneem om hul vaardighede in die Premier-afdeling van die Curriebeker te wys, ’n woede skep in die rugbygemeenskap en onder meer in die politieke arena van die Oos-Kaap.

“Dit is om goeie rede. Die besluit druis in teen SA Rugby se voorneme om transformasie van ons rugbylandskap te bewerkstellig.”

Die hoofraad het besluit dat dieselfde sewe spanne wat in die onlangse Curriebeker gespeel het – die Bulle, Haaie, Leeus, Pumas, Griekwas, Cheetahs en Stormers – onveranderd behou word.

Dit beteken dat die OP vanjaar in die Eerste Liga sal speel, saam met die Valke, Luiperds, Boland, Grens, Griffons en SWD-Arende.

’n Woordvoerder van SA Rugby het by navraag aan Rapport gesê die OP moet hul versoek op die agenda van die beheerliggaam se jaarvergadering plaas. Dit vind einde Maart of begin April plaas.

Meer oor:  André Rademan  |  Brief  |  Transformasie  |  Sa Rugby  |  Premierliga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.