
Peter de Villiers, voormalige Springbok-afrigter. Foto: Gallo Images
Die wedloop om die afrigters-pos van die Oostelike Provinsie kan ’n driestryd word tussen oud-Bok-afrigter Peter de Villiers, oud-Bok Deon Kayser en oud-Blitsbok Jonathan Mokuena.
Die sperdatum vir aansoeke het Vrydagmiddag verstryk en alhoewel hy nie name wou verklap nie, het OP Rugby se president, André Rademan, erken daar was “talle aansoeke” vir óf die pos van hoofafrigter óf vir die pos van o.20-afrigter.
Dié week sal die unie begin om die aansoeke te bekyk, waarna ’n kortlys opgestel sal word om hopelik binnekort die nuwe afrigter te kan aanstel.
“Ons het nog nie gekyk na al die aansoeke nie, maar die siftingsproses sal nou begin. Ons sal dan na onderhoude toe beweeg waarna die komitee ’n aanbeveling sal maak. Die uitvoerende bestuur sal daarna ’n aanstelling maak,” het Rademan gesê.
De Villiers – die oud-Springbok-afrigter wat nog taamlik onlangs in Zimbabwe afgerig het en ook by rugby in Namibië betrokke was, is die gunsteling om die pos te kry.
Mokuena sukkel om nog ’n pos te kry nadat hy met die Pukke die Varsity-beker in 2016 verower het.
Oud-Bok Deon Kayser is al jare in afrigting en is tans die bestuurder by die Haaie se Akademie. Hy rig daar al af sedert 2007.