Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
OP se ‘bel-span’ kon net uur lank vir stryd oefen

As ’n mens in ag neem dat die Oostelike Provinsie verlede week net ’n uur geoefen het, het dié span eintlik nie té sleg teen die Luiperds gevaar nie.

So sê die veteraan-slot Ashleigh Viviers, wat Saterdag onverwags weer vir die OP in die Wolfson-stadion in Gqeberha uitgedraf het.

Die flank Anele Lungisa, vroeër hierdie seisoen by een van die OP se oefeninge, was volgens die veteraan-slot Ashleigh Viviers een van die manne wat vir die OP goeie spel teen die Luiperds gelewer het. Foto: Gallo Images

Die OP het sy wedstryd in die Curriebeker-reeks se Eerste Liga met 29-50 teen die Luiperds verloor nadat hy teen alle verwagtinge selfs ’n rukkie voorgeloop het.

Viviers (35) was een van verskeie klubspelers wat laat verlede week opgeroep is om die OP te verteenwoordig nadat Covid-19 onder die unie se gekontrakteerde spelers gemaai het.

“Peter (de Villiers, die afrigter) het my Donderdag gebel en gevra of ek kan speel. Shame, ek het hom so jammer gekry. Hy het gesukkel met asemhaling. Hy het mos ook maar net van die virussiekte herstel,” sê Viviers.

“Natuurlik het ek ja gesê. Ek was nog altyd daar wanneer die OP my nodig gehad het.”

Volgens Viviers het die OP-span verlede Vrydag vir ’n uur bymekaargekom en “so ’n bietjie geoefen”.

Die veteraan-slot Ashleigh Viviers bly deur dik en dun lojaal aan die OP. Foto: Facebook

De Villiers was daar, maar dit was Ryan Felix, die OP se o.20-afrigter, en André Goosen, die kondisioneringsafrigter, wat meer ’n ogie oor die oefening gehou het.

“Ons het nogal goed begin teen die Luiperds. Hulle outjies is maar sag, as jy my vra. Maar ons fiksheid is nou ook nie van die beste nie, want ons speel mos ook nie op die oomblik klubrugby nie,” sê Viviers.

“Ons grootste probleem was eintlik dat ons nie kans gehad het om verdedigingspatrone in te oefen nie. So, dis waar ons toe probleme gekry het. Maar alles in ag genome, het ons bel-span toe eintlik heel orraait gevaar.”

Met die groot groep OP-spelers wat steeds volgens die Covid-19-protokol gemonitor word en dalk eers volgende week weer sal kan speel, sal die unie dalk weer van hul “bel-span” gebruik moet maak.

Indien wel, sal De Villiers – indien hy gesond genoeg is om die sweep te klap – net planne moet maak om die span vir oefeninge bymekaar te kry.

Heelwat van die manne wat teen die Luiperds gespeel het, werk voltyds en kan nie verlof neem om te gaan rugby oefen nie.

Viviers is byvoorbeeld die produksievoorman by ’n rubbermaatskappy.

Omdat die OP hierdie naweek in Welkom teen die Griffons speel, is reistyd ook iets wat in gedagte gehou sal moet word.

Meer oor:  Oostelike Provinsie  |  Op  |  Eerste Liga  |  Curriebeker  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.