Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Goudstad gee plaasseun nuwe vlerke

Jannie du Plessis het laat verlede jaar ’n kruispad bereik.

Jannie du Plessis
Glimlaggend in die Goudstad . . . Jannie, Ronel, Rosalie (naaslinks), Frans en Helé Vrydag by Ellispark. Die gesin gaan aanstaande maand groei tot ’n sestal. Foto: Monique Naude

Op die een pad was ’n nuwe tweejaarkontrak met Montpellier en selfs ’n kans om betrokke te raak by afrigting. En op die ander was ’n vlug terug huis toe, waar sy kinders onder die Suid-Afrikaanse son kon grootword – maar hyself sou moes gewoond raak aan die lewe ná rugby.

“Ons was onseker wat om te doen. Baie mense is swartgallig en sê jy moet emigreer as jy die kans kry, maar ons stem nie daarmee saam nie. Maar aan die ander kant was Frankryk goed vir ons en was ons gelukkig,” sê Du Plessis die afgelope week.

“Ons het besluit dis ’n saak van gebed en my vrou, Ronel, het ’n boek gekoop met ’n 40-dag-gebedsuitdaging daarin. Ons het gebid daaroor en nie geweet watter antwoord ons sou kry nie.

“En toe, op dag 10 van die uitdaging, kry ek ’n oproep van Rudolf (Straeuli), heeltemal uit die bloute, wat vra of ek sou belang stel om vir die Leeus te kom speel.

“En dit was ons antwoord.”

’n Aks meer as ’n jaar later kyk Du Plessis met ’n hart vol dankbaarheid terug op die onverwagte wending wat sy lewe geneem het. ’n Lewe in Suid-Afrika, het hy gedink, sou wees in Bethlehem, waar hy en sy broers as seuntjies op die plaas gespeel en Sotho gepraat en rugby ontdek het.

Maar wat die noodlot eerder vir hom in gedagte gehad het, was die blink liggies van Johannesburg – en ’n nuwe hoofstuk in ’n rugbyloopbaan wat reeds vol goue episodes was.

Kyk maar self: ’n Curriebeker-debuut op 20 en ’n eerste Curriebeker-titel op 22. Sy vingerafdrukke op daardie Goue Koppie ná die eindstryde van 2005, 2006, 2007 én 2008. En sy hande om die Wêreldbeker-trofee ná die eindstryd van 2007.

In 2009 het hy die skrum help anker in die Bok-span wat die Britse en Ierse Leeus uitgestof het en die All Blacks drie keer geklop het. In 2010 en 2013 nog Curriebeker-sukses saam met die Haaie. En in 2016 en 2018 beker-glorie vir Montpellier.

Voeg daarby dat hy 70 keer vir die Bokke uitgedraf het en 150 Superrugby-wedstryde gespeel het, en jy moet wonder: Wat is daar oor om te vermag?

En tog is daar geen teken dat Du Plessis sy Goudstad-draai soos ’n blote aftreejoppie benader nie. Toe hy verlede naweek vir die eerste keer in tien maande ’n kans kry in die Leeus se beginspan het hy dit met albei hande aangegryp, en nie net die Cheetahs in die skrum vir pouse laat bid nie, maar selfs ’n draai agter die doellyn gaan maak.

Jannie in 2016 saam met Frans Steyn en sy kleinboet Bismarck nadat Montpellier die Europese Uitdaagbeker gewen het. Foto: Getty Images

“Ek gaan nie vir jou jok nie, ek het hierheen gekom en wou gehad het ons moet die Superreeks wen,” sê Du Plessis oor die ideale waarmee hy Johannesburg toe gevlieg het. “Ek weet hoe dit nou klink, ná hoe ons die jaar begin het, maar ek het nog altyd geglo ’n mens moet groot droom. Daar is baie talent hier en wonderlike, aansteeklike ambisie. Dis heerlik om te werk tussen mense met soveel ambisie soos daar by Ellispark is. Want dis nodig. Hoekom sal jy hard oefen as jy daarmee tevrede sal wees om net vyfde in ’n kompetisie te eindig?”

Die donker dae van Februarie en Maart 2020, toe die Leeus net een Superrugby-stryd kon wen en dikwels planloos en platvoet was, is nou net ’n sure herinnering. Die Leeus van Desember 2020 is ’n span wat skouspelagtig herrys het tot ’n eenheid vol intensiteit en idees.

Maar die gesukkel aan die begin van die jaar het wel vir Du Plessis ’n doel gedien. Want vir die eerste keer in sy lang loopbaan het hy hom bevind in ’n span wat gesukkel het om antwoorde te vind.

“Dis maklik om foute te sien en dis partykeer die gemaklike opsie om te sê, wel, ons het verloor want ons het daai lynstaan verloor of daai strafskop gemis.

“Dis nie ’n kuns om foute uit te wys nie – dis eerder ’n kuns om die positiewes te sien wanneer dit voel of niks regloop nie. Ek het nog altyd só probeer wees, maar hier in Johannesburg was dit ’n groter uitdaging as ooit tevore.

“En toe kom die pandemie, en skielik is ons in hierdie situasie waar ons nie weet wanneer ons weer sal speel nie. Ons is weg van mekaar, ons kan nie verhoudinge bou nie en het nie daardie klein stukkies jel wat ’n span saambind nie.

Dit was vir my ’n waardevolle les om hier te leer, dat jy nooit moet moedeloos raak en ophou probeer nie.

“Ná ons weer begin speel het, wou die uitslae ook net nie kom nie, maar ons het elke keer net-net verloor. As jou span nie wen nie, vat dit regtig moed en geloof in mekaar om aan te hou glo, maar ek dink niemand van ons het getwyfel dat ons dinge kon regruk nie.

Coach Ivan (van Rooyen) het die heeltyd vir ons gesê ons beurt sal kom, maar dis menslik om mismoedig te raak, want almal werk regtig hard en probeer hard.

“Ekself het baie gesit en dink, wat kan ek anders doen, of beter doen? Dis seker maar soos ons grootgemaak is, nè – as jy nie goed gedoen het in ’n skooltoets nie, wou jou ma weet of jy dan nie hard genoeg geleer het nie,” lag hy. “Maar in die lewe is dit nou maar eenmaal so dat alles nie altyd in jou beheer is nie.

“Dit was vir my ’n waardevolle les om hier te leer, dat jy nooit moet moedeloos raak en ophou probeer nie.”

Dit spreek boekdele van die spanne waarin Du Plessis voorheen gespeel het dat hy teen 37 vir die eerste keer sulke neerdrukkende moedeloosheid ervaar het. Hy besef goed hoe bevoorreg hy in sy loopbaan was.

“Ek het begin by die Vrystaat, wat ’n vrek lekker span was en waar ek kon leer by mense soos Os (du Randt) en Naka (Drotské), in ’n dinamiese omgewing waar Rassie (Erasmus) ons rugby geleer het.

“Toe was ek by die Haaie tussen absoluut wêreldklas-spelers, en van daar af is ek Frankryk toe. Ek was regtig bevoorreg om in wonderlike spanne te speel waar daar nooit vreeslike insinkings was nie. Ek onthou ’n keer wat ons vier wedstryde in ’n ry by die Haaie verloor het – maar dit toe reggestel het deur sewe in ’n ry te wen.”

Dis nie net die feit dat ’n ou hond by Ellispark nuwe lesse kon kom leer wat Du Plessis in die laaste maande verras het nie. Johannesburg, sê hy, is een groot verrassingspakkie.

Jannie op die oorlogspad teen die Bulle. Foto: Gallo Images

“Ek het altyd aan Johannesburg gedink as ’n plek vol karre,” sê hy. “Wanneer ons hier kom speel het, het ons lank veld toe gery en was die gevoel, kom ons wen net op Ellispark en gaan huis toe.

“Dis eers as jy hier bly dat jy besef hoe verkeerd jy oor die plek was. Die verkeer is nie so erg nie, die stad is vol bome, die weer is fantasties . . . Johannesburg het energie, hy beweeg. Dis ’n plek wat jou stimuleer en laat beweeg.”

Die Bethlehem-plaasseun en sy gesin het gaan nesskop in Krugersdorp, waar sy groentetuin floreer en sy gesin maklik by die gemeenskap ingeskakel het.

En daar aan die Wes-Rand groei die Du Plessis-gesin ook. Rosalie (7), Helé (5) en Frans (4) kry in Januarie ’n kleinboet of kleinsus. Ná ’n jaar vol verrassings, sê Du Plessis, is hulle tevrede om 2021 ook met ’n verrassing te begin.

Vir hierdie seisoen in my lewe wil ek nêrens anders wees nie.

“Dit was reeds ’n verrassing om te hoor daar is ’n kleinding op pad, so ons het besluit om nie uit te vind wat ons verwag nie,” sê hy.

“Dit was bietjie moeilik vir Ronel, want sy het nie geweet watter kleur om die babakamer te verf nie. Toe kies sy maar groen,” sê hy met ’n stem vol lag.

Groen voel gepas vir ’n gesin wat vrugbare aarde in die Goudstad kom vind het.

Vrugbare aarde vir ambisies wat Du Plessis ’n jaar gelede nie geweet het hy nog het nie. Binne homself vrugbare aarde vir nuwe lesse. En op Ellispark vrugbare aarde in die leergierigheid van die jong spelers vir wie hy nou ’n Os of ’n Naka kan wees.

“Ek is so dankbaar om hier te wees,” sê Du Plessis. “Die plaas is die plaas is die plaas. Maar vir hierdie seisoen in my lewe wil ek nêrens anders wees nie.”

Meer oor:  Jannie Du Plessis  |  Rugby  |  Frankryk  |  Leeus  |  Montpellier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.