Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Opgesweepte Highlanders skok ’Saders

Al die “aaklige goed” wat die afgelope week oor hul span gesê is het die Highlanders aangevuur om Vrydag teen alle verwagtinge in die Crusaders ’n afgedankste loesing te gee.

Só sê Ash Dixon, wat saam met die skumskakel Aaron Smith die Highlanders se span lei.

Die Highlanders se heelagter, Connor Garden-Bachop, op die aanval in Vrydag se kragmeting met die Crusaders. Foto: Getty Images

Die Highlanders het hul wedstryd in Nieu-Seeland se Superrugby Aotearoa-reeks in Christchurch teen die Crusaders met 33-12 gewen nadat hulle met rustyd met 16-7 voorgeloop het.

Die Highlanders was die afgelope paar dae in die spervuur nadat die bestuur van die franchise ses spelers geskors het omdat hulle met hulle gefuif die spankode verbreek het.

“Dit was ’n moeilike week. Almal het ons geteiken. Daar is party aaklige goed oor ons span en ons afrigters gesê en dit het ons aangevuur,” sê Dixon.

“Ons as spelers het groot vertroue in ons afrigtingspan en die wedstrydplan. Vir ’n slag het ons die planne deeglik uitgevoer.”

George Bridge soek ’n gaping in die Crusaders se wedstryd teen die Highlanders. Foto: Getty Images

Die Highlanders het elke kans vir punte aangegryp met hul losskakel, Mitch Hunt, wat die telbord met vier strafskoppe aan die rol gehou het.

Hulle het die Crusaders veral in die eerste helfte met inklimspel by die afbreekpunte en met goeie verdediging op die agtervoet gehou.

In die tweede helfte het die Crusaders soms waaghalsige dinge begin doen in ’n poging om punte op die telbord te kry.

Hulle het egter foute begaan wat die besoekers knap uitgebuit het.

Onder die wenspan se uitblinkers het Hunt, die heelagter, Connor Garden-Bachop, en slot Bryn Evans getel.

Die skrumskakel, Folau Fakatava, was ook goed op dreef tot hy ’n ligte beenbesering opgedoen het.

Smith, wat hom vroeg in die tweede helfte vervang het, het met sy byna waansinnige geskreeu ook gesorg dat die Highlanders gefokus bly.

 Puntemakers: Highlanders 33 (16): Drieë: Billy Harmon, Michael Collins, Connor Garden-Bachop. Doelskoppe: Mitch Hunt (3). Strafdoele: Hunt (4). Crusaders 12 (7): Drieë: Codie Taylor, David Havili. Doelskop: Richie Mo’unga.

Daar word Saterdag nog ’n wedstryd in die Nieu-Seelandse reeks gespeel wanneer die Hurricanes in Auckland teen die Blues te staan kom.

In Sydney het die Waratahs, wat die week met nuwe afrigters begin het, ook byna vir ’n verrassing in die Australiese Superreeks gesorg.

Tom Banks duik oor die doellyn vir een van die Brumbies se drieë Vrydag in Sydney teen die Waratahs. Foto: Getty Images

Die Brumbies was dalk effens gelukkig om met 24-22 teen die wisselvallige ’Tahs te wen.

Met rustyd was die Brumbies gemaklik met 24-10 voor, maar die span het toe stoom verloor en die Waratahs het algaande die oorhand begin kry op alle gebiede behalwe die telbord.

Reg teen die einde het die Waratahs se linkervleuel, James Ramm, ’n drie gaan druk, maar die losskakel Will Harrison kon nie met die doelskop van die kantlyn af slaag om die wedstryd gelykop te laat eindig nie.

In daardie stadium het die Brumbies net 13 spelers op die veld gehad met Rory Scott wat met ’n geelkaart af was en Tom Cusack met ’n rooie.

• Puntemakers: Brumbies 24 (24): Drieë: Tom Banks, Tom Wright, Andy Muirhead, Folau Fainga’a. Doelskoppe: Noah Lolesio (2). Waratahs 22 (10): Drieë: Harry Johnson-Holmes, Will Harrison, James Ramm. Doelskoppe: Harrison (2). Strafdoel: Harrison.

• Saterdag pak die Rebels en die Reds mekaar in Melbourne in nog ’n wedstryd in die Australiese reeks.

Meer oor:  Nieu-Seeland  |  Australië  |  Waratahs  |  Superrugby Aotearoa  |  Highlanders  |  Brumbies  |  Crusaders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.