Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Dyantyi wag nog, Chiliboy hoor gou

Dit is nog onduidelik wanneer Aphiwe Dyantyi verhoor gaan word nadat verbode middels in sy bloed gevind is, maar Chiliboy Ralepelle kan in Desember reeds weet wat sy lot is nadat hy vir die derde keer in sy loopbaan ’n opkikkertoets gedop het.

Aphiwe Dyantyi tydens die Superrugby-reeks in aksie. Foto: Gallo Images

Verbode middels is vanjaar in albei dié Springbok-spelers se bloed gevind. Die groeihormoon zeranol is in Januarie in Ralepelle se monster gevind, terwyl Dyantyi in Julie positief getoets het vir die gebruik van die anaboliese steroïede matandiënoon, metieltestosteroon en LGD-4033.

Khalid Galant, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids), het aan Netwerk24 gesê geen verhoordatum is al vir Dyantyi se saak vasgestel nie.

Galant het bevestig dat Ralepelle se verhoorproses voltooi is ná vier sittings. Argumente word nou aan albei kante – Saids en Ralepelle se regspan – geformuleer.

“Geskrewe voorleggings sal binne die volgende paar weke gedoen word,” sê Galant.

“Die tugkomitee (wat oor Ralepelle se lot moet besluit) sal waarskynlik eers in Desember op die vroegste ’n besluit kan neem.”

Chiliboy Ralepelle kan voor die einde van die jaar sy lot hoor nadat die groeihormoon zeranol vroeër vanjaar in sy bloed gevind is. Foto: Gallo Images

Ralepelle hou vol hy het nie met opset zeranol gebruik nie en staan die bevinding teen. ’n Skorsing kan die einde van dié 33-jarige haker se loopbaan beteken. Hy is in 2014 vir twee jaar geskors vir die gebruik van ’n verbode middel.

In 2010 is opkikkers ook in sy bloed gevind, maar hy is onskuldig bevind nadat hy kon bewys die middels was in ’n proteïenaanvulling wat die Bokke aanbeveel het.

Dyantyi (25) se saak is nog in die beginstadium.

Die prokureur Gert van der Merwe, Dyantyi se agent, sê hulle sal meer kommentaar lewer wanneer hul ondersoek voltooi is.

“Ons is nog besig om al die inligting te bekom,” sê Van der Merwe.

Dyantyi (25) het reeds voordat sy B-monster se uitslae aan die einde van Augustus bekend gemaak is, bevestig hy het positief getoets en ontken dat hy met opset of weens nalatigheid verbode middels ingekry het.

Die middels wat in sy bloed gevind is, regverdig volgens die Wêreldagentskap teen die gebruik van verbode middels, Wada, ’n skorsing van vier jaar.

Dyantyi is op 15 Junie ook getoets en geen tekens van verbode middels is tóé gevind nie.

Die onus rus nou op hom om te bewys hy het nie met opset verneuk nie, of was nie nalatig nie, het die sportdokter Jon Patricios vroeër aan Netwerk24 gesê.

Patricios dink dit is onwaarskynlik dat Dyantyi die middels per ongeluk ingeneem het en het gesê die betrokke middels word algemeen deur atlete gebruik wat met opset verneuk. Dit is middels wat ook gereeld deur liggaamsbouers gebruik word om spiere te bou.

Meer oor:  Verbode Middels  |  Aphiwe Dyantyi  |  Opkikkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.