Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Saids-baas kap Iere, skoolhoofde

As skoolhoofde, ouers en onderwysers meer doen om opkikkergebruik by skolerugbyspelers te bekamp, sal buitelanders Suid-Afrikaners in die vervolg dalk minder kan kap oor ’n sogenaamde “dwelmkultuur” in die land se rugby.

Aphiwe Dyantyi staan ’n bevinding teen dat hy met opset opkikkers gebruik het nadat anaboliese steroïede in sy monster gevind is. Foto: Gallo Images

Khalid Galant, die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids), erken daar is ’n groot opkikkerprobleem in Suid-Afrika, veral op junior vlak. Hy verskil egter sterk van die twee Ierse rugbykommentators, Neil Francis en Ger Gilroy, wat die Springbokke se Wêreldbeker-sege verdag wil maak omdat die Bok-vleuel Aphiwe Dyantyi voor die toernooi positief getoets het. Dyantyi se saak is juis ’n bewys dat spelers wat opkikkers gebruik, uitgevang word voordat hulle by die WB uitkom.

Desnieteenstaande heers daar wel ’n probleem.

“Skole- en varsityrugby in Suid-Afrika toon ’n hoë toleransie vir verneukery en die gebruik van opkikkers. Die statistieke en navorsing bewys dit,” het Galant in ’n omvattende e-pos aan Netwerk24 gesê.

“Ons het egter nie so ’n hoë vlak van spelers wat verneuk en opkikkers gebruik op provinsiale, franchise- (Super- en Pro14-rugby) en Springbok-vlak gevind nie.”

Volgens Saids se jaarverslag van 2018-’19, was 16 van die 342 toetse wat op rugbyspelers gedoen is, positief. Dit is 4,4% van die toetse wat uitgevoer is.

Ons opvoeding, afskrikmiddels en toetse is óf nie doeltreffend nie, óf daar is so baie op die spel in skolerugby dat daar ’n ‘vang-my-as-jy-kan’-houding heers.
Khalid Galant

Dyantyi se uitslag is nie hierby ingesluit nie aangesien dit ná die opstelling van die jaarverslag plaasgevind het, maar die uitslae bevat ook die ses Cravenweek-spelers wat in 2018 positief getoets het vir die gebruik van anaboliese steroïede.

Saids aanvaar die verantwoordelikheid om hierdie middelgebruik te bekamp, maar kan dit nie alleen doen nie, sê Galant.

“Ons bestee aansienlike hulpbronne en implementeer innoverende metodes om gedragsverandering te weeg te bring,” sê hy.

“Ons opvoeding, afskrikmiddels en toetse is óf nie doeltreffend nie, óf daar is so baie op die spel in skolerugby dat daar ’n ‘vang-my-as-jy-kan’-houding heers.

“Ja, ons neem aanspreeklikheid vir teenmiddel-onderrig, maar ’n mens moet vra waarom ouers, onderwysers en skoolhoofde meer as gewillig is om anderkant toe te kyk wanneer dit by opkikkergebruik by hul skole kom.

“Ons ervaring wys duidelik daarop dat dit nie in die onmiddellike- en korttermynbelang van skoolhoofde is om die gebruik van opkikkers in skole aggressief aan te spreek nie, want dit is nie so ’n groot bedreiging soos dwelms nie.

Marno Redelinghuys is vir vier maande geskors weens die gebruik van dagga. Foto: Gallo Images

“Trouens, opkikkergebruikers het die potensiaal om oorwinnings aan hul skole te besorg, al is dit Pirros-oorwinnings (skynsukses). Daardie oorwinnings verhoog egter steeds die aansien van die skool en sorg vir meer inskrywings.

“Die vraag moet dus gevra word of skoolhoofde botsende belange het wanneer hulle moet erken of daar ’n opkikkerprobleem by hul skole bestaan.”

Is dit regverdig om te sê daar heers ’n dwelmkultuur in Suid-Afrikaanse rugby?

“Sport is ’n spieëlbeeld van die samelewing en ons sien ’n hoë toleransie vir bedrog en korrupsie,” sê Galant.

“Ek sal aanvoer dat daar mense in die samelewing is wat verneukery, korrupsie en selfs die gebruik van opkikkers sien as iets wat nie so ernstig is nie.

Die vraag moet gevra word of skoolhoofde botsende belange het wanneer hulle moet erken of daar ’n opkikkerprobleem by hul skole bestaan.
Khalid Galant

“Lance Armstrong (onteerde fietsryer) het gereeld die verskoning gebruik dat almal anders dit gedoen het en dit is waarom hy verneuk het.”

Galant sê wel die Ierse kommentators is nie opreg as hulle die Bokke se WB-sukses weens opkikkers in twyfel wil trek.

“Dit is soos om al die Amerikaanse of Jamaikaanse Olimpiese spanne se medaljes in twyfel te wil trek vanweë sekere individue se oortredings,” sê hy.

“Ons het nie wydverspreide, geïnstitusionaliseerde opkikkergebruik gevind soos wat die geval met Russiese atletiek, of die US Postal-span van Lance Armstrong was nie.”

Die groeihormoon Zeranol is in Chiliboy Ralepelle se liggaam gevind. Foto: Gallo Images

Dit was boonop bykans onmoontlik vir enige lid van vanjaar se WB-groep om opkikkers te gebruik en daarmee weg te kom.

“Saids en Wêreldrugby het ’n jaar voor die WB-toernooi begin saamwerk om te verseker daar is ’n robuuste toetsplan om te verseker alle spelers wat WB toe gaan, sal ten minste twee keer getoets word in ’n ‘buite-kompetisie’-scenario.”

Dit is hoe Dyantyi uitgevang is.

Die twee Ierse kommentators se aantyging van ’n “dwelmkultuur” in SA rugby hou wel water as Suid-Afrika se statistieke met van die res van die wêreld s’n vergelyk word.

Saids se jaarverslag toon dat bykans 3% van al die toetse wat in alle sporte gedoen is, positief was.

“Dit is hoër as die wêreldgemiddeld van 1%. Suid-Afrika was al onder die tien lande waar middelmisbruik die meeste voorkom, saam met Amerika, China, Rusland en Brasilië,” sê Galant.

Volgens die Wêreldagentskap teen Verbode Middels in Sport (Wada) se verslag van 2016 – die jongste beskikbare jaarverslag – was Suid-Afrika die land met die negende meeste opkikker-reëloortredings (ADRV’s). Toe het Suid-Afrika 50 ADRV’s in alle sporte gehad.

In Saids se mees onlangse verslag, was 16 van die 47 ADRV’s in rugby.

Saids en Wêreldrugby het ’n jaar voor die WB-toernooi begin saamwerk om te verseker daar is ’n robuuste toetsplan.
Khalid Galant

Vergeleke met statistieke in Engelse beroepsrugby, is daar ’n enorme opkikkerprobleem in Suid-Afrika. Die jaarverslag vir die 2017-’18-seisoen van die Engelse Rugbyraad toon dat 739 beroepsrugbyspelers getoets is. Slegs twee toetse was positief.

Daar is wyd berig dat twee Suid-Afrikaners – Brandon Staples en Ashley Johnson – albei positief getoets het vir die gebruik van opkikkers in Engelse beroepsrugby.

Staples was die eerste beroepspeler in Engeland om positief te toets sedert 2011. Die enigste twee spelers wat in Engelse beroepsrugby vir opkikkergebruik positief getoets het, was dus Suid-Afrikaners.

Volgens die Ierse teenmiddelagentskap se jaarverslag vir 2018, is 178 toetse op rugbyspelers gedoen, waarvan nie een positief was nie.

In Nieu-Seeland is daar sporadies spelers wat vir opkikkergebruik geskors word, soos Zoe Berry wat in 2018 vir vier jaar geskors is. Sulke gevalle is egter veel skaarser as in Suid-Afrika.

Ook in Australië word spelers nie so gereeld soos hier vir middelmisbruik uitgevang nie. Slegs 19 atlete in alle sporte is die afgelope jaar Doer Onder uitgevang.

Die Suid-Afrikaner Hendré Stassen het vroeër vanjaar by Stade Français ook positief getoets en kan ook vir vier jaar geskors word.

* Galant het weer bevestig daar is nog nie ’n verhoordatum vir Dyantyi vasgestel nie. Nog ’n Springbok, Chiliboy Ralepelle, sal waarskynlik in Januarie 2020 hoor wat sy lot is nadat hy in Januarie vanjaar vir die gebruik van die anaboliese middel en groeihormoon Zeranol positief getoets het.

Anaboliese middels groot in SA

In die ses Cravenweek-spelers se bloed is daar in elkeen anaboliese steroïede gevind, maar in twee van hulle is daar bykomende hormoon- en metaboliese middels gevind. Die skolespelers se name word nie in Saids se verslag genoem nie.

Van die senior spelers, is Marno Redelinghuys (kannabinoïdes, oftewel dagga) en Moegamat Labib Kannameyer (kokaïen) die enigste twee spelers in wie se bloed daar nie anaboliese middels gevind is nie.

Die spelers wie se name in die verslag gelys word, is: Barnard van Rooyen (anaboliese middels, vir vier jaar geskors), Barend Frederick van Staden (anaboliese middels, vir drie jaar en nege maande geskors), Nhlanhla Mlondobozi (anaboliese middels, vir vier jaar geskors), Luciano Newman Santos (stimulant, anaboliese middels, hormoon- en metaboliese reguleerder, vier jaar geskors), Marchant Henning (anaboliese middel, vir vier jaar geskors).

Ralepelle se naam word nie genoem nie, maar daar is ’n rugbyspeler gelys wie se “saak hangende” is en wat die anaboliese middel Zeranol gebruik het. Dit is Ralepelle.

Mthokozisi Gumede het twee afsonderlike kere positief getoets vir anaboliese middels en is vir vier jaar geskors. Hy verskyn twee keer op die lys en daar is dus 15 spelers wat positief getoets het, maar 16 gevalle.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.