Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Opstand dreig oor WP-base se plan

Die skote klap in die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) nadat Zelt Marais, die president, aan klubs en ander stemgeregtigdes ’n kennisgewing gestuur het van ’n moontlike lening by die maatskappy Any Side Investments.

Zelt Marais, die WP Rugbyunie se president. Foto: Gallo Images

’n Spesiale vergadering is geskeduleer vir 25 Junie om dié lening te bekragtig, wat gehoop word die WPRU se skuld aan Remgro en Investec Properties (IP) sal delg.

Die WPRU moet Remgro voor die einde van Junie skuld van glo sowat R58 miljoen terugbetaal – ’n dringende kwessie gegewe dat ’n verband teen die Nuweland-stadion as sekuriteit daarvoor geregistreer is.

Dan is daar skuld van glo meer as R50 miljoen aan Investec vir geld wat aan die WPRU voorgeskiet is terwyl hy onderhandel het vir die eiendomstransaksie vir die Nuweland-stadion.

Dié onderhandelinge, waarvolgens die WPRU in ruil vir ’n huurooreenkoms van 99 jaar R110 miljoen en ’n toekomstige inkomste uit ’n eiendomsontwikkeling sou ontvang, het ter elfder ure ’n dooiepunt bereik.

Baie vrae word egter gevra oor die transaksie wat Marais nou deurgevoer wil kry en van die unie se klubs is diep bekommerd oor hoe daar te werk gegaan word.

Vrae is deur die klubs aan Marais gestel oor moontlike regs- en finansiële nagevolge van die ommeswaai wat gemaak is nadat hoofpunte van ’n ooreenkoms met Investec reeds onderteken is.

Die kennisgewing dat daar op 25 Junie vergader moet word, bots met die WPRU se grondwet, wat ’n kennisgewingstydperk van 15 dae voor só ’n vergadering vereis.

Daar word wel hiervan melding gemaak en 30 Junie – die sperdatum vir WP se terugbetaling van die lening aan Remgro – word as alternatief voorgestel indien daar kapsie aangeteken word.

Nóg ’n kwessie is dat die spertyd om stemme per e-pos uit te bring, drie uur is voordat die vergadering plaasvind.

In die kennisgewing, gedateer 15 Junie, vra Marais dat die volgende resolusies geneem word:

* Dat die resolusie wat verlede jaar by ’n spesiale vergadering geneem is om Investec se aanbod te aanvaar, nietig verklaar word;

* Dat die WPRU die lening met Any Side Investments mag aangaan en ’n verband daarvoor mag registreer;

* Dat Marais die lening van Any Side Investments namens die WPRU mag onderteken en dat hy alles wat nodig is mag doen om die transaksie te laat realiseer, insluitende die nodige papierwerk en nakoming van bepalings en voorwaardes.

’n Voorgestelde resolusie wat die wenkbroue sal laat lig, is die een dat enige dokumente wat Marais of lede van die WPRU se uitvoerende komitee voor die aanvaarding van dié resolusies dalk reeds al onderteken het, bekragtig en goedgekeur word.

Tensy Any Side Investments die afgelope paar weke skielik as ’n opsie opgeduik het, kan dit daarop dui dat die WPRU met hom onderhandel het terwyl hy nog tot Investec verbind was.

Daar is in klubgeledere juis kommer oor die moontlikheid dat die WPRU se ommeswaai ’n verbreking van ’n moontlike “eksklusiwiteitsooreenkoms” met Investec was, en dat daar ernstige nagevolge kan wees.

Daar is kommer dat dit swak korporatiewe verhoudinge tot gevolg kan hê en hoe dié moontlike skade aan die WPRU se reputasie toekomstige onderhandelinge met borge kan raak.

Marais kan meestal reken op ondersteuning van die meerderheid van die WPRU se klubs, maar of hy sommer net sulke resolusies sal kan deurgevoer kry, moet gesien word.

Ongeag is die verwagting dat dit groot verdeeldheid te saai.

Terselfdertyd dreig die ondenkbare: Om Nuweland te verloor as daar nie ’n kontantinspuiting gekry word nie nadat die WPRU se onderhandelinge met Investec ’n dooiepunt bereik het.

* Netwerk24 het Marais Dinsdag om kommentaar genader en sal dit bywerk sodra dit ontvang word.

Meer oor:  Remgro  |  Investec  |  Westelike Provinsie Rugbyunie  |  Wpru  |  Zelt Marais  |  Nuweland  |  Lening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.