Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Opvolger vir Bulle se Barend gou bekend

Die Bulle kan binne die volgende maand ’n nuwe uitvoerende hoof in die warm stoel hê.

Willem Strauss. Foto: Gallo Images

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU) en voorsitter van die Bulle-direksie, sê hulle is tevrede met die aansoeke vir die vakante pos van Barend van Graan, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy (BBM).

Voornemende kandidate het tot Maandag gehad om aansoek te doen.

“Daar was goeie en sterk kandidate. ’n Kortlys word nou saamgestel en onderhoude sal in die volgende twee weke gevoer word.”

Strauss sê hulle gaan nie gras onder hul voete laat groei met die aanstelling nie.

“Dit gaan beslis nie ’n uitgerekte proses wees nie. Dit is belangrik dat ons nou raakvat (met die regte aanstelling) en so gou as moontlik kontinuïteit en stabiliteit in die unie en maatskappy kry,” het Strauss gesê.

Dié maatskappy is op soek na ’n nuwe uitvoerende hoof nadat die BBM onlangs in oorleg met sy twee aandeelhouers, die BBRU en Remgro, besluit het Van Graan se kontrak sal nie hernieu word nie.

Barend van Graan, uitvoerende hoof van die Blou Bulle Maatskappy (BBM), tree ná ’n verbintenis van 35 jaar met die Bulle aan die einde van Januarie 2019 af. Foto: Gallo Images

Van Graan sal in Januarie 2019 sy Bulle-verbintenis van 35 jaar by Loftus Versfeld afsluit.

Die besluit is in Junie op ’n direksievergadering goedgekeur.

Daar is vroeër bespiegel dat die Titans se Jacques Faul, wat as een van die land se voorste sportadministrateurs gereken word, en Duitser Bosman, voormalige uitvoerende hoof van Varsity Sports, van die gunstelinge is om by Van Graan oor te neem.

Faul het die gerugte verlede maand in die kiem gesmoor en Bosman het vroeër die week op Facebook bevestig hy het weens “persoonlike redes en unieke uitsonderlike uitdagings” nie aansoek gedoen nie.

Hoewel Strauss nie by magte is om enige name te noem nie, is die verwagting dat Pieter Burger, uitvoerende hoof van die Pumas, se CV een van dié is wat oorweeg sal word.

Daar word ook ’n geruime tyd al bespiegel dat Xander Janse van Rensburg, die BBM se hoëprestasiebestuurder, “grootgemaak word” om by Van Graan oor te neem.

Die BBM het vroeër gesê die aanstelling is sy “uitsluitlike diskresie”.

* Onderhandelings tussen die BBM en die Engelse Rugbyunie (RFU) oor die Bulle-breier John Mitchell se dienste, is glo in ’n gevorderde stadium.

Die rolspelers kon volgens inligting nog nie tot ’n vergelyk kom oor ’n oordraggeld vir Mitchell nie, maar die BBM verwag om binne die volgende paar dae ’n formele aanbod van die Engelse rugbybase te kry.

Meer oor:  Duitser Bosman  |  Willem Strauss  |  Barend Van Graan  |  Bulle  |  Jacques Faul  |  Bbm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.